Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Ricky Brecht
Outeur: Elbie Els / Photographer Stefan Els
Gepubliseer: 12/05/2021

Sy werk as beampte vir opvoedkundige en openbare programme by die Universiteit Stellenbosch (US) Museum stel Ricky Brecht in staat om ontwikkelingsgeleenthede vir die jeug te skep.

In die maand van Internasionale Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Brecht het ons 'n kykie gegee na sy werk by die US Museum.

Wat is jou rol by die US?

Ek het my in 2016 by die US aangesluit, en is sedertdien verantwoordelik vir die program Toegang tot die Visuele Kunste – die US Museum se vlagskipprojek vir sosiale impak. Die program bied leerders groter toegang tot die Universiteitsmuseum en stel hulle aan die visuele kunste bekend. Ek is ook daarvoor verantwoordelik om spesifieke museumopvoedingsprogramme vir skoolleerders van benadeelde gemeenskappe in die Stellenbosch-omgewing te reël.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Ek gebruik museumhulpbronne om opvoedkundige programme te skep en met skole te skakel om uitstappies na die museum te reël. In samewerking met die geleentheidskoördineerder bestuur ek ook die museum se sosialemediaplatforms en skep bemarkingsmateriaal. Daarbenewens hanteer ek alle kommunikasie met interne en eksterne belanghebbendes. Dít sluit in die opstel van mediaverklarings en die versorging van alle eksterne museumkommunikasie, soos brosjures en pamflette.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?

Ek het voorheen by twee skole sowel as by die Amathole-museum in King William's Town gewerk. Die ervaring wat ek daar opgedoen het, het my met die vaardighede toegerus om met leerders, opvoeders en ander individue uit verskillende omgewings te werk. Dit het my ook geleer om geduldig te wees, by spertye te hou, spanningsvolle situasies te hanteer, as deel van 'n span te werk, en projekte te bestuur.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek geniet dit om met verskillende belanghebbendes uit uiteenlopende omgewings in aanraking te kom, van skole tot die algemene publiek, en personeellede en studente van die verskillende fakulteite van die Universiteit. Ek vind dit uitdagend, maar ook baie bevredigend. By die museum kan ek ook kreatief en net myself wees, terwyl ek deel is van 'n span waar deelname en gesprekvoering gebruik word om 'n samehorigheidsgevoel te skep.

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

Die pandemie het 'n enorme impak op my werk gehad. Ek was voor COVID-19 daarvoor verantwoordelik om die museum se openbare programme soos filmvertonings, praatjies, seminare, geleenthede en boekbekendstellings te reël en te fasiliteer. Sedert Maart 2020 het alles egter verander, en moes ons aan nuwe maniere dink om die museumruimte so goed moontlik te benut. Fisiese geleenthede is met aanlyn programme vervang, soos die Woensdag-kunsbesprekings, die Ubuntu-dialoë en die reeks Just Conversations. Die Afrika-tromslaansessies op Dinsdae is die enigste kontakprogram wat tans by die museum plaasvind, onder streng COVID-19-maatreëls. Ondanks die impak van die pandemie bly ek egter optimisties dat dinge binnekort na normaal sal begin terugkeer. Hopelik sal die sosiale en ekonomiese impak, stres en angs wat die pandemie veroorsaak het gou iets van die verlede wees, en kan ons die toekoms tegemoetgaan.

Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag/iets opwindend waarvan min mense weet.

Ek is passievol oor die ontwikkeling van die jeug, want hulle is die leiers van die toekoms. Nie alle kinders en studente is akademiese toppresteerders nie, so ander aspekte van hulle ontwikkeling, soos hulle entrepreneurs-, rekenaar- en skeppingsvaardighede, moet meer aandag ontvang. Hierdie vaardighede is belangrik, want dit kan jongmense vir indiensneming en aktiewe wêreldburgerskap toerus. Ek is ook 'n toegewyde gesinsman en speel graag af en toe vir ontspanning 'n potjie gholf saam met vriende. Buitelugaktiwiteite soos stap is hoog op my prioriteitslys.