Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Kathryn Chu gekies as CUGH-raadslid
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 11/05/2021

Professor Kathryn Chu is gekies om te dien as raadslid van die Consortium of Universities for Global Health (CUGH) vanaf 2021 tot 2024.

Chu beklee tans die pos van eerste direkteur van die Sentrum vir Globale Chirurgie by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

Haar loopbaan tot dusver is beide lank en indrukwekkend.

Chu se aanvanklike opleiding was as 'n algemene en kolorektale chirurg. Sy het haar voorgraadse opleiding aan die Stanford Universiteit gedoen, en haar mediese graad voltooi by die Universiteit van Kalifornië. Sy het haar Meestersgraad in Openbare Gesondheid in Ontwikkelende lande ontvang van die London School of Hygiene and Tropical Medicine, en is tans die Vise-President van die Raad van Médecins Sans Frontières in suidelike Afrika. Sy het meer as vier jaar lank humanitêre werk gedoen, en het voorheen gewerk by die Harvard Mediese Skool se program in Rwanda, waar sy chriruge opleiding gedoen het vir die Human Resources for Health-program.

CUGH is in Washington gebaseer en is 'n organisasie wat bestaan uit 179 akademiese inrigtings en ander organisasies van dwarsoor die wêreld. Hulle is almal gemoeid daarmee om oplossings te probeer vind vir globale gesondheidsprobleme. CUGH is gestig in 2008 met befondsing van die Bill en Melinda Gates-stigting asook die Rockefeller-stigting.

Die organisasie se oogmerk is om ondersteuning te bied aan akademiese inrigtings en hulle genote om die welsyn van mense te verbeter deur middel van opvoeding, navorsing, diens en voorspraak. CUGH is daarop gemik om die vermoë van sy lede te verhoog om inligting te kommunikeer en te versprei aan beide die publiek en aan beleidmakers.

Daar word van raadslede verwag om sterk leierseienskappe te hê, om bewese sukses te behaal het in hulle bydra tot die bou van 'n globale gesondheidsprogram of department, of om 'n sterk leierskapsrol te gespeel het in die samewerking met hulle inrigting se globale gesondheidsprogram of department. Daar word ook van hulle verwag om by te dra tot die vorming, die goedkeuring, die monitering en die implementering van hulle inrigting se aktiwiteite.

"Om 'n lid van hierdie raad te wees beteken dat ek bydra tot die bestuur, die missie, en die strategie van hierdie organisasie," sê Chu.

"Op 'n persoonlike vlak voel ek dat dit 'n groot eer is om gekies te word as ʼn raadslid van CUGH. Ek is ook bly daaroor dat ek my in 'n posisie bevind om globale gesondheid te bevorder, aangesien dit beide my passie en my akademiese belangstelling is."

"Ek sou graag die leierskap van universiteite in lae- en middelinkomste lande (LMIL) binne die organisasie wil bevorder. Verder sou ek ook CUGH aan globale gesondheidsprogramme by universiteite in LMIL wil bekendstel, aangesien die organisasie tans oorheers word deur universiteite van hoë-inkomste lande (HIL). Globale gesondheid is veronderstel om gemoeid te wees met gelykheid tussen LMIL en HIL se verhoudings, en ek sou graag wou hê dat die organisasie in die praktyk nader beweeg aan die beleid wat hulle voorstaan."

Daar kan slegs een verteenwoordiger van enige spesifieke inrigting op enige gegewe oomblik op die raad dien. Chu is nie die eerste fakulteitslid van die Universiteit Stellenbosch om op die raad te dien nie, en ook nie die eerste om op een van die subkomitees te dien nie. Onlangs is 'n ander fakulteitslid van die FGGW, prof René English, gekies om as 'n lid van die subkomitee vir meesters en voorgraadse studies in Globale Gesondheid van die CUGH te dien.

"Die Universiteit Stellenbosch het reeds 'n lang verhouding met CUGH deur die betrokkenheid van die dekaan, prof Jimmy Volmink, en prof Hester Klopper, wat pas haar dienstydperk as raadslid voltooi het. Dit sal ons leierskapsposisie binne hierdie organisasie versterk om weer 'n lid van die fakulteit te hê wat op hierdie raad dien. So ek dink my rol sal daaruit bestaan om voort te gaan om die universiteit, Suid-Afrika, en die Afrika-kontinent te verteenwoordig, veral met betrekking tot sake rakende die dekolonialisering van globale gesondheid," sê Chu.


Foto-erkenning: Stefan Els