Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: dr Renelle Terblanche
Outeur: Elbie Els / Photographer Stefan Els
Gepubliseer: 11/05/2021

Op hoërskool het Renelle Terblanche daarvan gedroom om 'n Matie te word. Jare later het sy daardie doel bereik. En vandag is sy 'n trotse alumna wat haar vaardighede gebruik om onderrig en leer by die US te bevorder.

Terblanche is 'n hibridieseleerkoördineerder (HLK) by die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Leertegnologieë (SLT).

In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Terblanche het ons meer oor haar werk by die Universiteit vertel.

Wat is jou rol by die US?

Ek koördineer hibridieseleeraanbiedinge deur op projekvlak met die betrokke akademiese departemente, die ontwerpspan van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) en ander rolspelers te skakel. Ek dra by tot die aanvanklike kurrikulum- en pedagogiese beplanningsfase, gevolg deur die praktiese koördinering van aanlynleerontwerp. Dan werk ek ook sy aan sy met die hibridieseleerprojekbestuurder om vir die implementering van individuele aanbiedinge voor te berei. Dít behels skakeling met tegniese, administratiewe en akademiese omgewings om 'n aanlyn leerervaring van gehalte te verseker.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Om getrou te bly aan die hibridiese aard van ons projekte, volg ons span dieselfde benadering by die werk. Ek geniet dit om nou en dan kantoor toe te gaan vir vergaderings, om saam met die hibridieseleerspan te dinkskrum, of om die groot witbord vir beplanning te gebruik. Maar die meeste van die tyd werk ons van die huis af, wat help as ek op 'n moeilike taak moet konsentreer. Microsoft Teams bly egter oop om GIF's te deel, 'n bietjie aansporing te voorsien of te ontvang, of om stoom af te blaas as dit 'n moeilike dag is. Hoewel ek alle aspekte van my rol geniet, is my gunstelingaktiwiteit die gehalteversekering en evaluering van 'n aanbieding voordat dit aan studente of deelnemers bekend gestel word.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?

My reis met die US het in 2009 as 'n eerstejaar in die program BA Sosiale Dinamika begin. Ek het in 2012 met my nagraadse studie in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie begin, waar ek 'n tutor vir verskeie dosente was. Toe ek eers begin tuis voel op my navorsingsterrein van Omgewingsosiologie (wat op konflik tussen die mens en die natuur konsentreer) het ek as 'n deeltydse navorsingsassistent begin werk, konsultasiewerk gedoen, en ook deeltyds in die Departement Bewaringsekologie klas gegee.

As deel van my tutor- en onderrigervaring het ek nog altyd belang gestel in hoe 'n mens inhoud meer boeiend vir studente kan maak, hulle kan aanmoedig om selfstudie te onderneem én hoe om tegnologie meer interaktief te gebruik en terselfdertyd dosente se werklas te verlig.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek is bevoorreg om saam met 'n hegte span te werk wat 'n visie deel en na dieselfde missie streef: om hibridiese leer by die US te versterk. Ek geniet dit om spanlede te help as hulle my bystand nodig het, maar ook om diegene buite die kernspan te help, soos dosente. Hierdie rol stel my ook in staat om oor verskillende fakulteite en vakrigtings heen te werk. Ek het op hoërskool daarvan gedroom om 'n Matie te word, en nou is ek waarlik 'n trotse Matie!

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

Om doenlysies te maak help my fokus. Niks is so bevredigend soos om take af te merk nie. Ander groot motiveerders is om my ouers trots te maak … en dat ek móét werk om met my volgende vakansie te kan gaan!

Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag.

Ek is so 'n groot musiekliefhebber dat die wiele van my bakkie nooit begin draai voordat my speellys nie speel nie … selfs al ry ek net gou winkels toe.