Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Thys Visser-gedenklesing
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 20/04/2021

Die Thys Visser-gedenklesing word al om die twee jaar deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied. Vanjaar word dit deur prof Emmanuel Akyeampong van die Sentrum vir Afrika Studies aan Harvard Universiteit in die VSA gegee.

Die titel van prof Akyeampong se lesing is: Pandemics, Commodity Markets and Recessions: Africa and the Corona virus.

Die lesing sal regstreeks gestroom asook opgeneem word.

Datum:                   27 Mei 2021

Tyd:                         12:30

Regstreekse stroming:  https://www.youtube.com/channel/UC22fcr80QaETDNoeilYnxsg.  Ná die lesing sal die skakel op die tuisblad van die fakulteitswebtuiste gepubliseer word (www.sun.ac.za/ebw)

​OOR DIE SPREKER

Prof Emmanuel K Akyeampong is die Ellen Gurney-hoogleraar in Geskiedenis en in die studie van Afrika en Afro-Amerikaanse aangeleenthede, asoook die Oppenheimer-fakulteitsdirekteur van die Sentrum vir Afrika Studie by Harvard Universiteit. Hy is 'n genoot van die Ghanese Akademie van Kuns en Wetenskap, en 'n buitelandse genoot van die Royal Historical Society (Verenigde Koninkryk).

Prof Akyeampong is die skrywer en redakteur van verskeie boeke en navorsingsartikels, onder meer Drink, Power, and Cultural Change: A Social History of Alcohol in Ghana, c.1800 to Recent Times (1996); en Between the Sea and the Lagoon: An Eco-Social History of the Anlo of Southeastern Ghana (2001).

Hy en Henry Louis Gates (Junior) was mede- hoofredakteurs van die Dictionary of African Biography, 6 vols. (2012). Hy was ook 'n mederedakteur van die Journal of African History en van African Diaspora en dien in die redaksie van African Arguments.

THYS VISSER

Nadat mnr. Thys Visser sy HonsBCom-graad in 1977 aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het, kwalifiseer hy as geoktrooieerde rekenmeesteer. In 1980 sluit hy by die Rembrandt Groep aan waar hy verskeie posisies beklee voordat hy as die Groep se besturende direkteur aangestel word. Vanaf 2000 tot sy onverwagse afsterwe in 2012 was hy hoof- uitvoerende beampte van Remgro Beperk.

Gedurende sy 32 jaar diens by die Groep het hy 'n onuitwisbare stempel afgedruk op die maatskappy, die maatskappy se beleggings, die personeel en ook die Suid- Afrikaanse sakewêreld in die algemeen.

Mnr. Visser het in die direksie van talle genoteerde maatskappye gedien. Hy was ook die voorsitter van US se Stellenbosch Trust en in hierdie hoedanigheid het hy 'n deurslaggewende rol gespeel in die bestuur van universiteitsfondse. Onder sy leiding is beduidende trusthulpbronne beskikbaar gestel vir kapasiteitsbou in die universiteit, die bevordering van universiteitsbelange internasionaal en om 'n wesentlike bydrae te maak tot US se fondsinsamelingspogings.

Ons is trots om hom te vereer met hierdie lesing wat na hom vernoem is en bedank graag die Visser-familie en Remgro Beperk vir hul ondersteuning.

  • Die dekaan en personeel van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe betuig graag hul dank aan die Visser-gesin en Remgro Bpk​.

Thys_Visser_small.jpg