Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe graad in datawetenskap van stapel gestuur
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 12/04/2021

Soos die werkplek toenemend datagedrewe word, word gegradueerdes met hoogs ontwikkelde datawetenskapvaardighede en kennis meer in aanvraag. Met die oog op dié veranderende werksomgewing het die Universiteit Stellenbosch (US) vroeër vanjaar 'n nuwe multidissiplinêre voorgraadse program in Datawetenskap van stapel gestuur.

Die vierjaargraadprogram BDatWet (Baccalaureus in Datawetenskap) is die enigste van sy soort in Suid-Afrika. Dit word in vier fakulteite aangebied: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; AgriWetenskappe; Lettere en Sosiale Wetenskappe en Natuurwetenskappe. Gegradueerdes sal met 'n meestersgraad in hul gekose dataryke veld kan voortgaan.

Die eerste diverse groep van 46 studente wat vanjaar vir die program ingeskryf het, sal die geleentheid gebied word om kennis van grondslagmodules in al die fokusareas soos statistiek, rekenaarwetenskap en wiskunde op te doen. Hulle sal ook blootgestel word aan nuwe tegnologieë en konsepte op die gebied van datawetenskap.

Met 'n graad in Datawetenskap sal hierdie gegradueerdes hul vaardighede kan gebruik om werklike probleme op gebiede soos genetika, gesondheidsorg, e-handel, finansies, die openbare sektor en kleinhandel op te los.

Prof Paul Mostert, voorsitter van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en ook programkoördineerder van hierdie graad, het die US geloof  hul toewyding om so 'n broodnodige program aan te bied.

“Daar bestaan baie nagraadse programme in Datawetenskap by talle universiteite in Suid-Afrika en in die buiteland, maar daar is min wat op voorgraadse studie gemik is. Dis 'n baie jong studiegebied, veral op voorgraadse vlak, en is moontlik een van die redes waarom dit nie op skoolvlak op loopbaanadviseurs se radar is nie."

Hy het bygevoeg dat baie werk nog gedoen moet word om dié adviseurs by skole oor Datawetenskap en sy toekoms in die arbeidsmark in te lig.

“Studente word steeds aangeraai om die tradisionele voorgraadse programme in Rekeningkunde, Aktuariële Wetenskap, Ingenieurswese en Geneeskunde te bestudeer, veral as hulle goed is in Wiskunde. Baie werk moet nog gedoen word om daardie ingesteldheid te verander en die veld oop te stel om Datawetenskap in te sluit. Hoe meer die bedryf die algemene publiek aan die daaglikse toepassings van Datawetenskap blootstel, hoe meer belangstelling sal tersiêre instellings soos ons kry. Dit sal uiteindelik 'n vennootskap tussen die bedryf en die akademie verg om dié broodnodige kwalifikasie in Datawetenskap te bevorder."

Van die groep van 46 studente wat vanjaar hul BDatWet-studies begin het, is die persentasie studente wat vakkombinasies in die fokusareas regoor die vier fakulteite gekies het, soos volg: Statistiese Leer (44%), Rekenaarwetenskap (31%), Gedragsekonomie (23%), Analise en Optimalisering (1%) en Toegepaste Wiskunde (1%).

Een van dié studente, Albert du Plessis, het gesê sy keuse het op BDatWet as studieveld geval weens die hoë aanvraag na datawetenskaplikes regoor die wêreld.

“Jy verwerf boonop outomaties jou honneurs wanneer jy die graad voltooi," het hy gesê.

Du Plessis het die fokusarea Statistiese Leer in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gekies.

“Die Statistiese Leer-fokusarea interesseer my die meeste omdat dit jou leer hoe om patrone en tendense in data te identifiseer. Ek sal hierdie inligting kan gebruik om statistiese modelle te skep om voorspellings te help maak. Ek is baie opgewonde dat ek vir dié nuwe program kon inskryf en is trots om 'n pionier van die BDatWet-graad te wees," het hy gesê.

Michelle Ehlers, wat BDatWet met Toegepaste Wiskunde in die Fakulteit Natuurwetenskappe studeer, het gesê: “Hierdie fokusarea is ideaal vir my omdat wiskundige metodes in die werklike lewe gebruik word om data te analiseer, gevolgtrekkings te maak en besluite te neem. Die oplossing van probleme is ook een van my sterk punte en hierdie interdissiplinêre Datawetenskapgraad sal my die geleentheid bied om van dié talent gebruik te maak."

Sy het bygevoeg: “Dit sal my ook eendag in staat stel om besighede te help deur data te ontleed en modelle te bou sodat hulle beter besluite kan neem en hul dienste en produkte kan verbeter."

  • Die minimum toelatingsvereistes vir die BDatWet-program is: 'n NSS-gemiddelde van 80% (gebaseer op voornemende studente se ses beste vakke, met die uitsluiting van Lewensoriëntering); Wiskunde 80%; en Huistaal 60%. As Engels nie die huistaal is nie; dan 75% vir Engels Eerste Addisionele Taal.