Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“Groener” VN-verdrag kan sosio-ekonomiese regte help bevorder – LLD-gegradueerde
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 31/03/2021

Geen poging om armoede uit te roei en die ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte van mense wêreldwyd te waarborg sal sukses behaal as ons nie die gevare van omgewingsaftakeling en klimaatsverandering ernstig opneem nie.

So meen dr Megan Donald, 'n omgewingsreg- en menseregtekenner wat Woensdag (31 Maart) haar doktorsgraad in Publiekreg by die Universiteit Stellenbosch se gradeplegtigheid vir Maart 2021 ontvang het.

Sy sê die verwesenliking van die reg op voedsel, water, behuising, gesondheid, onderwys en werk is noodsaaklik om armoede uit te wis, maar “klimaatsverandering, besoedeling, ontbossing, biodiversiteitsverliese, droogte en oorstromings, om maar net 'n paar te noem, hou enorme bedreigings vir hierdie regte in, wat veral arm mense ingrypend en buite verhouding swaar sal raak".

Donald doen in haar studie 'n “groen" vertolking van die Internasionale Verdrag oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte (“die Verdrag") aan die hand wat tersaaklike omgewingsoorwegings insluit. Sy het op bestaande leerstellings en uitlegte van kernbepalings van die Verdrag gekonsentreer deur te kyk hoe die Verenigde Nasies se Komitee oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte (“CESCR") hierdie bepalings vertolk, en deur op die beginsels van internasionale omgewingsreg (soos die beginsel van volhoubare ontwikkeling) staat te maak. Die Verdrag is die vernaamste internasionale menseregteverdrag wat vir ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte voorsiening maak, en is deur 171 state, waaronder Suid-Afrika, bekragtig.

Volgens Donald sal 'n “groen" uitleg van die bepalings van die Verdrag sorg dat ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte nie as gevolg van omgewingskade in gevaar gestel of geskend word nie. Boonop sal dit die voortgesette verwesenliking van hierdie regte verseker deur die omgewing te beskerm waarop die regte berus.

Sy sê menseregteverdrae moet as lewende instrumente beskou word, en moet dus na gelang van veranderende omstandighede aanpas en ontwikkel. “Die vertolking van die Verdrag moet uitgebou word om omgewingsoorwegings binne die bestek van ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte in te sluit. Dít sal sorg dat die Verdrag te midde van klimaatsverandering en omgewingsaftakeling relevant en doeltreffend bly, en dat arm mense nie die swaarste onder die negatiewe impak van hierdie uitdagings ly nie.

“State sal ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte slegs doeltreffend kan verwesenlik indien staatsverpligtinge ingevolge die Verdrag ook verpligtinge ten opsigte van omgewingsbeskerming sowel as klimaatsveranderingsbeperking en -aanpassing insluit.

“State behoort hulle beskikbare hulpbronne, waaronder natuurlike hulpbronne, ten volle te benut om die regte in die Verdrag te verwesenlik. Natuurlike hulpbronne moenie net beoordeel word aan die hand van die ekonomiese waarde wat uit die ontginning daarvan bekom kan word nie; ons moet hierdie hulpbronne ook evalueer op grond van hoe dit ons ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte, soos die reg op water, voedsel en gesondheid, ondersteun."

Donald sê die Verdrag erken nie uitdruklik die verband tussen ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte en die omgewing nie. En hoewel die CESCR hierdie verband erken, moet die komitee nog 'n stelselmatige benadering ontwikkel om die omgewing by sy toesighoudende mandaat in te sluit sodat state kan verstaan wat in hierdie verband van hulle verwag word.

Sy reken omgewingsoorwegings moet deel uitmaak van besluitnemingsprosesse op alle vlakke. “Enige strategieë en stappe om armoede te verminder en ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte te verwesenlik moet die omgewing in ag neem. Dit is nutteloos om hierdie regte op kort termyn te verwesenlik as die pogings om dít te vermag uiteindelik ondermyn sal word deur die impak van omgewingsaftakeling en klimaatsverandering."

Donald wys daarop dat ons Grondwet 'n spesifieke reg insluit op 'n omgewing wat nie skadelik is vir mense se gesondheid of welstand nie. Dít impliseer dat enige regeringstrategieë om talle Suid-Afrikaners uit armoede te lig ook moet aandag skenk aan enige nadelige uitwerking wat omgewingsaftakeling op mense kan hê.

Sy sê haar navorsing kan omgewings- en menseregteaktiviste, politici, regspraktisyns, regters en menseregtetribunale baat.

  • ​Foto: Dr Megan Donald by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Megan Donald

E-pos: donaldm@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Mediabestuurder

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za