Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kan en moet assessering ʼn gerigtheid op die samelewing en maatskaplike geregtigheid bevorder?
Outeur: Anthea HM Jacobs
Gepubliseer: 25/03/2021

Leer- en Onderrigverryking Virtuele Seminaar 1 van 4: 25 Maart 2021

Onderwerp

Kan en moet assessering ʼn oriëntasie tot die samelewing en maatskaplike geregtigheid aankweek?

Aanbieder

Dr Margaret Blackie

“Meer as die doelbewuste insluiting van maatskaplik-verwante aktiwiteite in die kurrikulum of as assesseringstake kan nodig wees om hoër onderwys, wat tot die samelewing en maatskaplike geregtigheid georiënteer is, te bereik."

Dit was die boodskap van dr Margaret Blackie, senior dosent in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, Fakulteit Wetenskap, in die eerste van ʼn reeks van vier virtuele seminare wat deur die Afdeling Leer- en Onderrigverryking aangebied word. Die tema vir die Virtuele Leer- en Onderrigverrykingseminare (L&O) vanjaar is “Assessering". Dr Blackie se verbintenis tot hierdie tema blyk duidelik uit haar verkenning van die verband tussen hoe studente in 'STEM'-dissiplines (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) geassesseer word en hoe ʼn oriëntasie tot die breër samelewing aangekweek word.

Dr Blackie se aanbieding deel inligting oor ʼn groot projek getiteld 'Die Begrip van Kennis, Kurrikulum en Studente-agentskap', ʼn internasionale medewerking gelei deur prof Paul Ashwin van die Universiteit van Lancaster. Die navorsingsprojek behels ʼn longitudinale studie onder voorgraadse studente in chemie en chemiese ingenieurswese aan universiteite in die Verenigde Koninkryk, Suid-Afrika en die VSA. Die lens van maatskaplike geregtigheid en kritiese teorie is gebruik en daar is veral op Honneth (2010) gesteun, wat redeneer dat “(w)at regverdig is, is dit wat die individuele lid van ons samelewing in staat stel om sy of haar eie lewensdoelwitte in samewerking met ander, en met die grootste moontlike outonomie, te verwesenlik". Blackie bou hierop voort en verduidelik die posisie wat ingeneem word, dat iemand wat nie verder as sy of haar eie welstand kyk en breër maatskaplike welstand in ag neem nie, nie in staat is om sy of haar eie individuele welstand te verwesenlik nie.

Een van die hoofbevindings van die navorsing dui daarop dat slegs ʼn baie klein aantal studente enige oriëntasie tot die samelewing deur hulle reaksies op assesseringstake toon, wat verrassend en ietwat ontstellend is. Blackie bevraagteken of meer in die belang van maatskaplike geregtigheid met assesserings gedoen kan word en bied twee moontlikhede aan: eerstens moet ten minste sommige opdragte aan maatskaplike kwessies gekoppel word, en tweedens moet die waardevoorstel van die assessering oorweeg word. Blackie sê voorts dat ons “die olifant in die kamer" moet erken, omdat studente deur en deur gevorm word deur mededingende assesseringstrategieë. Dit gaan dus nie slegs oor die aard van die taak nie, maar verhoudings en ingesteldhede moet ook in ag geneem word.

Ter opsomming benadruk dr Blackie dat ons moet erken dat tradisionele assesserings mededingend, en individueel is, met baie op die spel. Dit verwring ook ons sin van prestasie. Hier verwys sy die deelnemers na die konsep van 'evalueringsoordeel' van David Boud en sy medewerkers, en ook die konsep van 'begrip van die diepte van begrip' van Bernard Lonergan.

Daar was entoesiastiese deelname deur die teenwoordige kollegas, veral oor die vraag of ons nie dalk kennis en vaardighede oorassesseer en te min aandag skenk aan die grondliggende waardes wat ons in ons studente wil vestig nie.

​Meer inligting oor en toegang tot die opname van hierdie seminaar is hier beskikbaar. 

Deur Anthea H M Jacobs​