Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe aanstelling sal US Museum se werk oor sosiale geregtigheid verdiep
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 04/03/2021

Dr Geraldine Frieslaar is onlangs as die heel eerste Kurator vir Navorsing, Dialoog en Sosiale Geregtigheid by die Universiteit Stellenbosch Museum (US Museum) aangestel.

Haar rol is op die nodus van akademiese en openbare vakkundigheid ingestel, en 'n sleutelaspek van haar werk sal wees om op navorsing en dialoog rakende sosiale geregtigheid te fokus sover dit die Museum se versamelings in die besonder aangaan, sowel as die raakpunte met breër publieke. Sy gaan ook die ontwikkeling en fasilitering van akademiese seminare en gesprekke sowel as die ontwikkeling van nuwe versamelings en uitstallings bestuur wat ubuntu en/of sosiale geregtigheid as tema het.

Volgens die Direkteur van die US Museum, Bongani Mgijima, sal dr Frieslaar se aanstelling die Museum se werk verdiep en die toonaangewende rol daarvan nasionaal sowel as internasionaal versterk.

“Hierdie pos is die eerste van dié aard hier te lande, en moontlik wêreldwyd. Daarom hoop ons dat, deur so 'n pos te skep, ons ons werk oor sosiale geregtigheid en demokratiese burgerskap kan institusionaliseer. Dr Frieslaar is goed gekwalifiseer en beskik oor die nodige ervaring om die Museum na nuwe hoogtes te voer. Ons hoop om saam met haar te leer en die toekoms in te reis," verklaar Mgijima.

Frieslaar is 'n US-alumna; sy het haar BA (Internasionale Studie) in 2000 verwerf en haar HonsBA (Politieke Wetenskap) in 2001. Sy het ook verskeie kwalifikasies aan die UWK verwerf: 'n nagraadse dipoloma (Museum- en Erfenisstudie) (2007), 'n meestersgraad in Geskiedenis (2012, cum laude) en 'n PhD in Geskiedenis (2016).

Frieslaar het meer as 'n dekade ondervinding van werk in museums, argiewe en die burgerlike samelewing. Sy het by die Kaapstad Holocaust Sentrum en Feike Natural Resource Management (die bestuur van natuurlike hulpbronne) gewerk, en was direkteur van die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief in Johannesburg, argivaris van die Robbeneiland Museum en 'n navorser by die Distrik Ses Museum.

Frieslaar vertel sy voel “geëerd en opgewonde" dat sy as die heel eerste Kurator vir Navorsing, Dialoog en Sosiale Geregtigheid by die US Museum aangestel is, aangesien daar nog baie werk voorlê oor sosialegeregtigheidskwessies, wat deur die pandemie vererger is.

“My aanstelling verteenwoordig die Museum se visie om hulleself te herbedink en nuut te vergestalt as 'n ruimte vir inklusiwiteit, kritiese gesprekke en provokasie wat in hierdie tydsgewrig betekenis inhou. By wyse van hierdie rol wil ek groter toegang tot bestaande versamelings skep en versamelings uitbrei deur materiaal uit die verlede sowel as die hede te bekom wat oor die stryd om sosiale geregtigheid handel.

Ek wil kapasiteit in gemeenskappe bou om hulle eie geskiedenis deur middel van verdiepende openbare programme te vertel, en om dialoogstyl-intervensies in die vorm van uitstallings, seminare en opleidingsprogramme te fasiliteer. Ek wil ook tot onderrig- en navorsingsprogramme binne die Universiteit bydra ten einde historiese bewustheid te bevorder," verduidelik Frieslaat.

Sy glo hoëronderwysinrigtings soos die US kan by wyse van openbare akademieskap 'n rigtinggewende rol vervul om die intellektuele landskap van dialoë oor transformasie en sosiale geregtigheid vorm te gee. Die Universiteit kan dit doen deur die US Museum te benut as 'n voertuig vir die bevordering van burgerlike aktivisme en opvoedkundige uitreik.

“Museums beklee 'n besondere posisie as ruimtes waar kennisproduksie, ontwrigting, teenspraak, herinneringsbou en opvoeding kan plaasvind om stilswye, uitsluiting en historiese sowel as hedendaagse sosiale ongeregtighede uit te daag en beswaar daarteen aan te teken. Met hierdie vertrekpunt gaan ek konsentreer op openbare programmering deur middel van uitstallings en dialoogstyl-intervensies wat met sulke kwessies in gesprek tree. Sodoende wil ek 'n dieper begrip van sosiale geregtigheid kweek en 'n herkalibrering van ons benadering tot museums teweegbring," verklaar sy.

Klik hier om meer oor die US Museum uit te vind. ​