Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Volhoubare wildsvleissektor kan ekonomiese ontwikkeling, biodiversiteit ʼn hupstoot gee
Outeur: Francis Vorhies
Gepubliseer: 04/03/2021

'n Volhoubare wildsvleissektor kan help om die lewensgehalte in landelike gebiede te verbeter en volhoubare grondbestuur en biodiversiteit te bevorder. Só meen dr Francis Vorhies van die Instituut vir Wildlewe-ekonomie in Afrika aan die Universiteit Stellenbosch in ʼn meningsartikel in Cape Times (4 Maart).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Francis Vorhies*

Wanneer ons ons ryk verskeidenheid fauna en flora op Wêreldwildlewedag (3 Maart) vier, laat ons tog ook onthou van die beleidmakers wat moet worstel met die kruispunt tussen die bewaring van biodiversiteit en die volhoubare benutting daarvan vir komende dekades. Die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (Eng. IUCN ) se Wêreld-bewaringstrategie – wat in samewerking met die Wêreld-voedsel-en-landbouorganisasie (Eng. FAO), die VN se Omgewingsprogram (Eng. UNEP), die VN se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Eng. UNESCO) en die WWF in 1980 opgestel en vrygestel is – het volhoubare benutting as een van die sleuteldoelwitte vir die bewaring van lewende natuurlike hulpbronne aangewys:

... om die volhoubare benutting van spesies en ekosisteme (veral vis en ander wildlewe, woude en weivelde) te verseker, wat miljoene landelike gemeenskappe sowel as van die vernaamste bedrywe onderhou. [eie vertaling]

Die Biodiversiteitskonvensie (Eng. CBD) het hierdie globale verbintenis tot volhoubare benutting in 1992 herbevestig as een van die drie kerndoelwitte van die Konvensie, en artikel 10 daarvan doen 'n beroep op die partye om “gebruiklike benutting van biologiese hulpbronne te beskerm en aan te moedig" en “samewerking tussen staatsowerhede en die privaat sektor [in daardie lande] aan te moedig met die oog op volhoubare gebruik van biologiese hulpbronne". [eie vertaling]

In 2018, by die 14de CBD-konferensie, het die partye op die wildsvleissektor gefokus en die dokument Vrywillige Riglyne vir 'n Volhoubare Wildsvleissektor aangeneem, waarvolgens “wildsvleis" omskryf word as “die vleis van gewerwelde landdiere in tropiese en subtropiese habitats, biome en ekosisteme wat vir voedsel aangewend word" [eie vertaling]. Die Riglyne sit die saak soos volg uiteen:

Wildsvleis is al baie lank 'n bron van voedsel vir miljoene mense in talle wêrelddele, in ontwikkelde sowel as ontwikkelende lande. So is daar in sommige landelike gemeenskappe in tropiese ontwikkelende lande bevind dat byna alle proteïen in die dieet van wildsvleis afkomstig is. Na beraming word daar elke jaar meer as 4 miljoen ton wildsvleis in Sentraal-Afrika geëet, die meeste daarvan deur stedelike verbruikers. [eie vertaling]

Die Riglyne stel ook die volgende oogmerke:

  • om te verseker dat die verskaffing van wildsvleis volhoubaar en wettig by die ontstaansbron bestuur word;
  • om die aanvraag na onvolhoubaar bestuurde en/of onwettige wildsvleis in dorpe en stede te verminder; en
  • om 'n instaatstellende omgewing te skep waarbinne wildsvleis volhoubaar bestuur kan word. [eie vertaling]

Ter ondersteuning van hierdie oogmerke het die Instituut vir Wildlewe-ekonomie in Afrika (Eng. AWEI) aan die Universiteit Stellenbosch 'n Navorsingsgroep vir Volhoubare Wildsvleis gestig wat op twee sleutelkwessies fokus: stedelike aanvraag en herstel tot die natuurlike staat (Eng. rewilding).

Stedelike aanvraag

Die CBD se Riglyne oor Wildsvleis handhaaf die interessante standpunt dat wildsvleis hoofsaaklik verbruik moet word in landelike gebiede, waar dit geproduseer word, en dat die aanvraag na wildsvleis uit stedelike gemeenskappe beperk moet word. Die voorstel is die volgende:

'n Holistiese benadering moet al met die wildsvleiswaardeketting langs ontwikkel word, wat daarop ingestel is om die hulpbron by die ontstaansbron (landelike gebiede) te bewaar en volhoubaar te gebruik, en die aanvraag in stedelike gebiede te beperk. [eie vertaling]

Dit mag egter onrealisties wees. Verstedeliking gebeur vinnig en die koopkrag van stedelinge is sterker, veral oor Afrika heen. Daarbenewens is die mark se kapasiteit om in die aanvraag onder verbruikers te voorsien – hetsy wettig of onwettig – beperk. In die lig hiervan is die AWEI Navorsingsgroep besig om te ondersoek hoe 'n volhoubare wildsvleissektor verseker kan word wat aan stedelike sowel as land gebiede kan verskaf.

Deur in die stedelike aanvraag na wildsvleis te voorsien, kan die lewensgehalte in landelike gebiede moontlik verbeter en volhoubare grondbestuur bevorder word, deels omdat stedelike verbruikers hoër pryse vir wildsvleisprodukte kan betaal. Gevolglik sal ons navorsing op die CBD Riglyne voortbou wanneer ons die moontlikheid ondersoek om wettige, verantwoordbare, gereguleerde en volhoubare verskaffing van wildsvleis te verseker wat in die aanvraag in stedelike sowel as landelike gebiede kan voorsien.

Wat die voorsiening van wildsvleis aan stedelike gebiede betref, sluit die CBD Riglyne verskeie besonder toepaslike maatreëls in wat verdere navorsing en ontleding verg, onder meer die volgende:

  • Grondregte en regte om wildlewe te bestuur en voordeel daaruit te trek, word duidelik omskryf en deur die staat erken en beskerm.
  • Die rasionalisering van wetgewing oor wildlewe fokus op volhoubaarheid … met behoorlike inagneming van voedselsekerheid sowel as bewaringsoorwegings.
  • Wildswetgewing word ontwikkel en toegepas om die handel in en verkoop van wildsvleis te reguleer (en toepaslik, verstaanbaar en afdwingbaar te wees) … ten einde wettige, volhoubare en naspoorbare handel aan te moedig.
  • Bevorder die verantwoordelike verbruik van wildsvleis wat uit 'n gesertifiseerde volhoubare bron verkry is … sodanig gesertifiseerde produkte kan voordele soos volhoubaarheid, 'n inkomstebron vir plaaslike gemeenskappe, bewaringsimpak en gesondheid uitwys. [eie vertaling]

As ons na die ervaring in lande soos Namibië, Suid-Afrika en die VK kyk, watter struikelblokke moet oorkom word om die wildsvleissektor te ontsluit, en watter soort beleid moet ingestel word om die volhoubaarheid van wildsvleis tot voordeel van stedelike én landelike verbruikers te bevorder?

Herstel tot die natuurlike staat

Die tweede fokuspunt van die AWEI Navorsingsgroep is die rol wat wildsvleis kan vervul om ekosisteme en habitats te herstel. Belangstelling is wêreldwyd aan die toeneem in landskap- of ekosisteemherstel, of wat al meer in Engels rewilding genoem word (die herstel van die natuurlike staat). Projekte om die natuurlike staat te herstel is oor Afrika heen aan die gang. 'n Voorbeeld is die Vredespark-stigting, waarvan die hoofkantoor in Stellenbosch is en wat 'n groot, voortgesette Projek vir die Herstel van die Natuurlike Staat in Afrika bedryf. Hulle beskryf dit só:

Die proses om die natuurlike staat te herstel, behels dat wildlewe van oorbewoonde gebiede verskuif word na gebiede waar dit afgemaai is. Deur wildlewe-ekosisteme opnuut te vestig waar die spesie(s) vantevore floreer het, word biodiversiteit herstel, en vergroot die moontlikheid eksponensieel dat die toekoms van die beskermde gebiede by wyse van natuurgerigte toerisme beveilig kan word.

Terselfdertyd verlig die proses die druk van oorbevolking in die plek van verwydering, waardeur die moontlike uiteinde van verwoestende habitataftakeling vermy word.

Die projek het in 2001 begin, toe die eerste 25 olifante na die Limpopo Nasionale Park verskuif is. Sedertdien is duisende diere na parke oor suidelike Afrika heen oorgeplaas. [eie vertaling]

Die herstel van die natuurlike staat hou 'n hele reeks moontlike voordele vir die ekonomie en die omgewing in, waarin wildsvleis 'n strategiese rol kan vervul, veral in hervestigde/herstelde weigebiede. 'n Onlangse artikel in deur The Royal Society het die kollig op hierdie potensiaal gewerp: Trophic rewilding as a climate change mitigation strategy? Daarin word gesê:

Daar is massiewe geleentheid om die huidige veebedryf te hervorm en ons weilande tot die natuurlike staat te herstel deur minstens 'n persentasie van mak herkouende troppe te vervang met gemeenskappe wat uit verskeie oorspronklike fauna bestaan … in sekere wêrelddele is dit alreeds 'n haalbare alternatief, byvoorbeeld in groot stukke gemeenskaplike weidingsgebiede in Afrika en Asië, en in verlate gebiede in Eurasië. Dit kan ook vermengde strategieë behels, waar deel van die veetrop met 'n verskeidenheid wilde diere vervang word. Die herstel van weilande tot die natuurlike staat kan 'n aansienlike vermindering in die vrystelling van kweekhuisgasse meebring. Boonop kan dit help om afgetakelde grasagtige biome te herstel. [eie vertaling]

Weer eens: As ons na die ervaring in lande soos Namibië, Suid-Afrika en die VK kyk, watter struikelblokke moet oorkom word om 'n wildsvleissektor tot stand te bring deurdat die natuurlike staat herstel is, en watter soort beleid moet ingestel word om die volhoubare gebruik van wildlewe tot voordeel van ekosisteme en biodiversiteit te bevorder? Die ontsluiting van die wildsvleissektor kan aan beleidmakers 'n manier bied om biodiversiteit te bewaar deur dit volhoubaar te benut.

*Dr Francis Vorhies is Direkteur van die Instituut vir Wildlewe-ekonomie in Afrika aan die Universiteit Stellenbosch.