Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kaapstad se ekonomiese kwesbares erger deur eerste Covid-19-golf geraak
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 02/03/2021

​Die skrille ongelykhede binne die Suid-Afrikaanse bevolking is na vore gebring in ʼn nuwe studie deur navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US), wat toon dat armer gemeenskappe veel erger deur die eerste Covid-19-golf getref is as ryker gemeenskappe. 

Hierdie bevindings toon inperkingsregulasies vir die bekamping van die verspreiding van Covid-19 het min voordele ingehou vir sosio-ekonomies kwesbare groepe, wie se lewensomstandighede hulle verhinder om te voldoen aan maatreëls soos sosiale afstandhouding en self-isolasie. Die navorsers het ʼn beroep op besluitnemers gedoen om alternatiewe voorkomingsmaatreëls te oorweeg om kwesbare gemeenskappe teen Covid-19-infeksie te beskerm. 

“Ons bevindings toon mense wat in sekere lae-inkomstegebiede woon was meer as twee keer meer geneig om positief vir Covid-19 te toets as mense van gebiede met ʼn hoër gemiddelde inkomste. Dit is waarskynlik te wyte aan sosio-ekonomiese faktore in lae-inkomste-omgewings, soos oorbesetting, wat dit feitlik onmoontlik maak om sosiale afstandhouding en self-isolasie toe te pas," verduidelik dr Jane Shaw, studieleier en ʼn pulmonoloog van die Biomediese Navorsingsinstituut- kliniese span aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). 

Tydens die studie het navorsers Covid-19-teenliggaamtoetse (SARS-CoV-2-serologie) gedoen op ʼn groep van 405 mense wat in die Kaapstad- metropolitaanse gebied woon. Die studie-vrywilligers was almal werknemers by die Victoria & Alfred-waterfront en was verteenwoordigend van alle sosio-demografiese groepe in Kaapstad. Die toetse is nagenoeg ʼn maand ná die piek van die eerste Covid-19-golf in die Wes-Kaap gedoen. Navorsers het as deel van die studie bevestig dat die teenliggaamtoets wat hulle gebruik het, hoogs akkuraat in die Kaapstad-populasie was. 

Die navorsing, wat onlangs in PLOS ONE gepubliseer is, het getoon mense wat in informele huise of lae-inkomste-subdistrikte woon en ʼn lae-inkomste-beroep het, word met hoër infeksiekoerse geassosieer. 

Die studie toon voorts die getal Covid-19-infeksies was aansienlik hoër as die koers wat aangemeld is, asook dat bykans die helfte van alle mense wat besmet is geen simptome ervaar het nie en derhalwe onbewus daarvan was dat hulle besmet was. 

“Bykans ʼn kwart (23,7%) van die groep het positief getoets, wat beteken hulle is iewers tydens die eerste golf met Covid-19 besmet. Die infeksiekoers in hierdie groep was ook aansienlik hoër as die infeksiekoers wat in die Wes-Kaap aangemeld is (op daardie tydstip 1,6%), wat daarop dui dat daar waarskynlik veel meer infeksies was as wat in die amptelike statistieke aangeteken is," verduidelik Shaw. 

Die navorsing het voorts ʼn hoё koers van asimptomatiese infeksies getoon. “Bykans die helfte (49,7%) van die mense wat positief getoets het, het geen Covid-19-simptome in die voorafgaande ses maande getoon nie. Hulle het dus nie besef hulle was met Covid-19 besmet nie," sê Shaw. 

Prof Gerhard Walzl, ʼn mede-outeur van die studie en Hoof van die FGGW se Departement Biomediese Wetenskappe, benadruk die uitdagings wat kwesbare gemeenskappe tydens die pandemie in die gesig gestaar het. “Baie van die 'brandpunte' van die eerste golf van Covid-19-infeksies het ooreengekom met areas met ʼn laer per kapita-inkomste en statistieke toon die regering se bekampingsmaatreёls was minder doeltreffend daar as in ryker woonbuurte. Swak behuisingstoestande, met inbegrip van oorbesetting, asook die gebrek aan lewensruimtes wat sosiale afstandhouding moontlik maak, het moontlik hiertoe bygedra. 

“Beleidmakers moet in ag neem dat dit onredelik is om te verwag dat mense wie se wonings nouliks as slaapkwartiere deug en waar daar geen ontspanningsruimtes is nie, in dieselfde mate as ryker sektore sosiale afstandhouding toepas. Die versekering van ʼn vroeë en doeltreffende inentingstrategie is die enigste moontlike manier om die sosio-ekonomiese kwesbares te beskerm," benadruk Walzl. 

“Om so ʼn epidemie so gou moontlik in bedwang te bring moet die priotitisering van sosio-ekonomies ontneemde areas vir inenting moontlik oorweeg word in toekomstige uitbrekings waar die entstofaanbod aanvanklik ontoereikend is. Dit moet gepaard gaan met sterk openbaregesondheids-inligtingsveldtogte wat spesifiek op kwesbare bevolkingsgroepe gerig is," is sy gevolgtrekking. 

Die skakel na die artikel in PLOS ONE is: https://journals.plos.org/plosone/article?id=10.1371/journal.pone.0247852