Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Van Namibië en Tanzanië tot Ghana – ontdek Afrika as ’n ekonomiese geoloog
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 31/03/2021

Met 'n doktorsgraad in ekonomiese geologie van die Universiteit Stellenbosch agter die blad, het Dr Stephan Dunn alreeds ver en wyd oor die Afrika-kontinent gereis - eers na Tanzanië vir sy navorsing oor goud se mineraliseringsprosesse, en nou as projekgeoloog by die maatskappy met die naam van Remote Exploration Systems (RES).

Stephan sal op 1 April sy PhD-graad saam met 20 ander PhD-graduandi ontvang by die Fakulteit Natuurwetenskappe se gradeplegtigheid.

Waar en wanneer het jy gematrikuleer?

Ek het in 2013 aan die Hoërskool Vredenburg gematrikuleer.

Wanneer het jy besluit om in aardwetenskappe te studeer en hoekom?

Die natuur het my nog altyd fassineer: hoe natuurlike prosesse plaasvind om ons wêreld te skep en ek raai maar dat hierdie nuuskierigheid my na hierdie veld gedryf het.

Dit gebeur nie dikwels dat geoloë hulle studies voortsit tot op PhD-vlak nie. Hoekom het jy die nagraadse pad aangedurf, en veral jou navorsingsbelangstelling in ekonomiese geologie?  

Ek glo dat die navorsing gemoeid met ekonomiese geologie (wanneer dit met ander velde in geologie vegelyk word) die grootste impak het op die eksplorasie- en mynbedryf. Toe die geleentheid om 'n navorsingsprojek gemoeid met goudmineralisering in Tanzanië saam met Dr Bjorn von der Heyden hom dus voorgedoen het, het ek geweet ek moet die geleentheid aangryp.  

Ek dink die rede dat ek tot op PhD-vlak aangehou het kan aan twee faktore toegeskryf word: eerstens die geleentheid om navorsing te kon onderneem onder die ongelooflike leiding en mentorskap van Dr Von der Heyden; en tweedens my passie vir geologie en dat ek heeltyd nuwe dinge wil ontdek.

Waar werk jy tans en hoe het jy daar beland?

Ek het in 2021 by die maatskappy Remote Exploration Services (RES) as projekgeoloog aangesluit. In elke opsig is ek nog maar 'n junior werknemer, maar my ondervinding tot nou toe was uitsonderlik. Ek werk tans aan 'n opwindende orogeniese goudeksplorasieprojek in die grootse Erongo-streek van Namibië.

'n Tipiese werksdag?

Ons veldwerkdae begin nogal vroeg soggens en ons is gewoonlik van 7uur soggens tot middae 5 uur in die veld. Geen dag is ooit dieselfde nie, maar dit behels gewoonlik geologiese kartering, die identifikasie, analise en dokumentering van geologiese en rots monsters, die skryf van verslae en vaslegging van data. Dit is verseker nie die mees glansryke leefstyl nie, maar baie bevredigend as jy daarvan hou om dinge te ontdek en te verken.

Wat is van die mees afgeleë plekke waar jy al was?

My navorsing en werk as geoloog het my in staat gestel om baie cool plekke in Afrika te kon verken, waarvan die besoek aan die Bosomtwe-meer in Ghana, slegs een van ses meteoritiese mere ter wêreld, sekerlik die hoogtepunt was.  

Enige raad aan voorgraadse studente of aan diegene wat hulself vir 'n loopbaan begin voorberei?

Geestesveerkragtigheid, volharding en passie – as jy dít het, het jy al halfpad gevorder.