Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Waarom mentorskap saak maak vir jong vroue in STEM-beroepe
Outeur: Linda Zuze
Gepubliseer: 11/02/2021

Donderdag (11 Februarie) is die Internasionale Dag vir Vroue en Meisies in die Wetenskap. In ʼn meningsartikel vir News24, skryf dr Linda Zuze van RESEP ('n navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid) in die Departement Ekonomie dat portuurmentorskap een van die maniere is om die geslagsbalans in beroepe in die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (oftewel “STEM") te verbeter.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

 Linda Zuze*

Ek het onlangs Elena Ferrente se merkwaardige roman getiteld My Brilliant Friend gelees. Die intieme verhaal gaan oor die vriendskap tussen twee jong meisies in die jare vyftig in Napels, maar die treffende beskrywing van die destydse armoede en swaarkry, en die hoofkarakters se desperate pogings om aan hulle haglike omstandighede te ontsnap, voel alte bekend.

Die verhaal kon hom inderwaarheid op enige plek afgespeel het. Die storielyn worstel met die vraag oor wie bereid is om in 'n kind se lewensreis in te gryp en dit van koers te laat verander. Die meisies het 'n kragtige dog beskeie kampvegter in hulle laerskoolonderwyseres. Dit is Maestra Oliviero wat hulle aanmoedig om hulle skoolloopbaan te voltooi, en wat Elena se ouers oortuig dat dit nié 'n algehele vermorsing van geld sal wees om hulle karige hulpbronne in hulle dogter se onderrig te belê nie. Die onderwyseres het 'n enorme invloed en blywende impak op die twee jong vroue se lewens.

Ons almal se loopbane word hetsy ten goede of ten kwade deur invloedryke figure in ons lewens verander, gevorm, en soms verkort. Wat vroue op die gebied van die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (oftewel “STEM") betref, is toegang tot ondersteuningstrukture selfs belangriker vir groei en ontwikkeling. Ongelukkig moet baie vroue nog die struikelblokke van vooroordeel en ongelykheid te bowe kom. Op die Internasionale Dag vir Vroue en Meisies in die Wetenskap (11 Februarie) word ons opnuut herinner aan hoe onderverteenwoordig vroue in wetenskapvakstrome op universiteit is. Boonop bly die getal vroue in tegniese beroepe frustrerend laag. Hoewel die helfte van die gegradueerde arbeidsmag in die Verenigde State vroue is, maak hulle slegs 28% van werknemers in die Amerikaanse wetenskap- en ingenieursektor uit. Op eie bodem het die uitslae van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in 2018 getoon dat 54% van vrouekandidate wat wiskunde geskryf het 30% of meer behaal het, teenoor 64% van hulle manlike eweknieë.

Hoewel daar baie ander pogings is om die geslagsbalans in STEM-beroepe te verbeter, is een belowende moontlikheid mentorskap. 'n Tradisionele mentorskapsverhouding behels twee mense in verskillende stadiums van hulle loopbane. Die mentor het gewoonlik al verder gevorder, en staan 'n minder ervare mentee by met advies oor professionele en persoonlike groei. Party organisasies het selfs formele mentorskapsprogramme met duidelike riglyne oor deelnemers se rolle en verantwoordelikhede.

Tog is dit dikwels onmoontlik en onprakties om 'n konvensionele mentorskapsverhouding tot stand te bring. Portuurmentorskap is 'n nuttige alternatief. In so 'n geval ondersteun twee of meer medereisigers mekaar, na gelang van die vaardighede en ervaring wat elk die res van die groep kan bied. Die toename in digitale kommunikasie het beslis die moontlikhede hiervoor uitgebrei. Een noemenswaardige voorbeeld is die Million Women Mentors, wat hulle daarop toespits om vroue wat hulle STEM-loopbane wil ontwikkel, met mekaar in aanraking te bring.

Party mentorskapsreëlings is suksesvoller as ander, en dis die moeite werd om te let op wat 'n produktiewe mentorskapsverhouding verseker. Dít is veral belangrik gedurende 'n openbare gesondheidskrisis, wanneer tyd en energie besonder beperk is. Vir die mentor is dit 'n goeie beginpunt om uit die staanspoor duidelike verwagtinge oor die gereeldheid, tydsduur en doel van vergaderings te stel. 'n Mentor met 'n hele aantal mentees kan dit oorweeg om afsonderlike ontmoetings in 'n enkele een saam te voeg sodat mentees aan portuurmentorskap kan deelneem terwyl die mentor die groep in die geheel adviseer. Een voordeel van afstandswerk is die oorvloed webinare en aanlyn vergaderings. Mentors kan dit oorweeg om mentees na sulke geleenthede te nooi. Dit kan 'n nie-intimiderende omgewing wees vir mentees om hulle professionele netwerke uit te brei en meer oor die huidige diskoerse te leer.

Daar is ook waardevolle punte vir mentees om in gedagte te hou. Hoewel dit nie altyd moontlik is om 'n mentor te kry wat aan al jou verwagtinge voldoen nie, moet 'n mens duidelik wees oor watter eienskappe die belangrikste is. Soms is dit die sinvolste om iemand met die regte loopbaanervaring en invloed te identifiseer. Ander kere is dit beter om met 'n mentor te werk wie se professionele sienings en leierskapstyl bewonder word, hoewel so iemand nie noodwendig op jou terrein werk nie. Die mentee behoort te verstaan dat die mentor se tyd kosbaar is, en moet dus goed voorberei en graag wíl groei. Dít sal sorg dat elke ontmoeting so voordelig moontlik is. Kommunikasie is 'n kernbestanddeel van 'n gesonde mentorskapsverhouding. Mentees moet hulle mentors van hulle kort- en langtermyndoelwitte vertel, en bereid wees om daardie doelwitte te hersien waar dit nodig is.

Laastens, hoewel 'n mens geneig is om die definisie van mentors tot hoog aangeskrewe beroepslui of portuur te beperk, begin mentorskap inderwaarheid veel vroeër. In 'n onlangse onderhoud oor vroueleiers op beleidsgebied het dr Fiona Hill gesê haar eerste mentors was haar gesin en bure. Hulle toewyding aan sosiale geregtigheid in die beskeie gemeenskap in Noord-Engeland waar sy grootgeword het, het haar geïnspireer. En hulle geloof in haar vermoë om na oplossings vir die probleme rondom haar te soek eerder as om dinge net so te aanvaar, het haar gerusgestel.

Net 'n paar woorde is dikwels genoeg om iemand in die regte rigting te help stuur. Dieselfde geld vir vroue en meisies wat van 'n STEM-loopbaan droom.

*Dr Linda Zuze is 'n navorsingsgenoot by RESEP ('n navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid) in die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.