Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mediese student aangestel as eerste koördineerder uit Afrika vir internasionale organisasie
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 09/02/2021

​Finalejaar mediese student, Azhar Adam Nadkar, is gekies deur 'n globale vereniging wat hom beywer vir mediese onderrig om die studente-deelname te koördineer by 'n groot konferensie later vanjaar. 

Nadkar het in die verlede erkenning ontvang van die rektor van die Universiteit Stellenbosch vir sy uitstekende leierskapseienskappe. 

Hy het die eerste mediese student uit Afrika geword wat aangestel is deur die  International Association for Medical Education in Europe (AMEE) en die International Federation for Medical Students Association (IFMSA) as die AMEE Student Taskforce (STF) Coordinator 2020/21 vir die AMEE 2021 Konferensie, wat in Augustus in Skotland sal plaasvind. 

Die AMEE-konferensie, wat elke jaar in 'n verskillende land plaasvind, is 'n jaarlikse gebeurtenis wat oop is vir alle fakulteitslede, mediese opvoeders en studente wat betrokke is by opvoeding in die gesondheidsberoepe op beide voorgraadse en nagraadse vlak. Dit betrek ook diegene wat betrokke is by voortgesette onderwys. Die doel van die konferensie is om die deelnemers blootstelling te gee aan die beste praktyk deur middel van meesterklas-sessies. Die doel is ook om bewysgebaseerde onderrig te bevorder in die gesondheidsberoepe. 

Nadkar het laat blyk dat hy baie geëerd gevoel het en dat hy baie opgewonde was oor hierdie kans van 'n leeftyd wat aan hom gegee is. 

Hy is baie passievol oor studentedeelname in onderrig vir die gesondheidsberoepe, en glo sterk dat studente nou betrokke behoort te wees in alle leer- en onderrig-inisiatewe. 

“Mediese onderrig is die kernelement wat gesondheidsorg op elke vlak beïnvloed. Die implementering van doeltreffende opvoedkundige strategieë in gesondheidsorgonderrig sal 'n direkte effek hê op die ontwikkeling van goeie gesondheidsorgpraktisyns, wat in baie lande dringend benodig word, ook in ons eie," het Nadkar gesê. 

“Die konferensie bied 'n ruimte aan lede van fakulteite, dosente en studente om te netwerk en om nuwe ontwikkelinge op die gebied van gesondheidsorgonderrig te bespreek. Dit bied ook aan hulle die geleentheid om met mekaar kontak te maak en onderwerpe soos die volgende te bespreek: die globalisasie van pogings om die kurrikulum te ontwikkel en te verbeter, onderrig- en leermetodologieë, en maniere om assessering te doen in hulle onderskeie inrigtings. Dit is 'n sleutelvergadering, wat ook uitstekende geleenthede bied om kursusse by te woon, om aan werkswinkels deel te neem, om aanbiedinge te doen oor navorsing, om te netwerk met kundiges op die gebied van gesondheidsonderrig, en om ons professionele ontwikkeling te bevorder." 

Nadkar het gesê as een van die AMEE STF Koördineerders, sal hy deel wees van 'n span van vyf mense wat sal saamwerk om die studente-afvaardiging by die konferensie te lei,  terwyl hy ook pligte sal vervul as die skakelpersoon tussen die AMEE STF en die AMEE uitvoerende- en konferensiebeplanningskomitees. “Saam met my sal wees die vier mede-AMEE STF Koördineerders wat onderskeidelik afkomstig is van Duitsland, Pole, Irak en Skotland. Ons sal ook betrokke wees by die oriëntering en opleiding van die studente-verteenwoordigers in die maande wat die konferensie voorafgaan." 

“Een doelwit tydens my termyn is om geleenthede te skep vir ander studente uit Afrika. Ek sou graag die weg wou baan vir ander studente." 

Nadkar het erkenning ontvang as 'n student wat met entoesiasme betrokke raak by aktiwiteite wat verwant is aan die kurrikulum, en aan die einde van verlede jaar het hy die SU Rektorstoekenning ontvang vir Uitnemende Prestasie in die kategorie van Leierskap.

In haar ondersteuningsbrief vir Nadkar se toekenning, het professor Julia Blitz, Vise-Dekaan: Leer en Onderrig by die SU Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), hom beskryf as 'n "gewaardeerde lid van ons fakulteit, wat bydraes lewer op 'n verskeidenheid van gebiede, terwyl hy 'n sterk leierskapsrol vervul in een van die baie belangrike aspekte van ons leer- en onderrigstrategie met betrekking tot gesondheidsberoepsonderrig." 

Sy het bygevoeg dat as 'n eerste-generasie-student, Nadkar 'n sterk leierskapsrol ingeneem het in die mediese fakulteit, sonder dat hy sy akademiese studies afgeskeep het. “Hy het dit ook reggekry om 'n betekenisvolle rol te speel in 'n aantal studente-organisasies, wat dui op die diepte van sy bydrae tot lewe en leer buite die kurrikulum. Hy word gelei deur diens aan ander, wat die werklike eienskappe van 'n leier aandui, wat nuwe vaardighede aanleer in 'n poging om ander te help. Hy dien ook die gemeenskap deur middel van uitreikingsaktiwiteite."

“Die harde werk en toewyding wat hy getoon het dui daarop dat hy bereid is om veel meer te doen as wat van studente verwag word by die FGGW. By verskeie geleenthede, het  Nadkar die FGGW bygestaan deur in verskillende kapasiteite as vrywilliger op te tree, " het Khairoonisa Foflonker, die FGGW se bestuurder van Studentesake gesê.

Toe hy gevra is watter spesiale bydra hy sou kon maak as die eerste Afrika-student om hierdie posisie te vul, het Nadkar die volgende te sê gehad: " Ek benader hierdie posisie met 'n gevoel van nederigheid, asook passie, vir wat ons reeds bereik het, en ook vir wat ons hoop om in die nabye toekoms in Afrika te bereik. Alhoewel ons dikwels te make het met 'n gebrek aan toegang tot hulpbronne en 'n unieke siektelas binne hierdie opset, het ons beide die wil en die ambisie om ons pasiënte op 'n holistiese manier te behandel. Ek is van plan om daardie benadering, sowel as kulturele sensitiwiteit, na die konferensie te neem."

Nadkar, wat baie lief is vir lees, asook om op hoogte te bly van nuusgebeure wanneer hy nie werk of sy dienste aanbied as vrywilliger nie, het die volgende oor sy langtermyndoelwitte gesê: “My doelwit as 'n mediese dokter is om suksesvol te wees in die bereiking van drie kern-bevoegdhede – om 'n bevoegde gesondheidsorgpraktisyn te word, om 'n goeie student en navorser te word, en om uit te blink as 'n mediese opvoeder. Al drie hierdie komponente sal my daartoe in staat stel om die holistiese vereistes na te kom wat verwag word van gesondheidsorgpersoneel binne die Suid-Afrikaanse opset."

“Nadat ek my graad ontvang het, sien ek uit daarna om my mediese internskap en gemeenskapsdiens te voltooi, en daarna stel ek in die besonder belang om spesialis-opleiding te ondergaan in interne geneeskunde. Ek sou ook graag 'n Meestersgraad of 'n Doktorsgraad wou doen in gesondheidsorgonderrig. Ek wil graag betrokke wees by gesondheidsorgonderrig om te help verseker dat inkomende groepe student op die mees effektiewe manier opgelei word om bevoegde gesondheidsorgpraktisyns te word."


Foto-erkenning: Thomas Groom