Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorser ontwerp welweesprogram vir enkelma’s
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 08/02/2021

Enkelma's in hoërisikogemeenskappe wat onder armoede en misdaad gebuk gaan, kan baat vind by ouerskapsprogramme wat hulle persoonlike welwees bevorder. Dít is een van die bevindinge van 'n onlangse doktorale studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Pasgemaakte ouerskapsprogramme kan die persoonlike welstand en ouerskapsvaardighede van enkelma's in moeilike omstandighede help verbeter deur hulle te laat besef dat hulle saak maak en dat hulle welwees en menswaardigheid belangrik is," sê dr Izanette van Schalkwyk, wat onlangs haar doktorsgraad in Sielkunde aan die US verwerf het.

Van Schalkwyk het as deel van haar studie die Power Moms-welweesprogram vir hoofsaaklik enkelma's in Delft op die Kaapse Vlakte ontwerp en geïmplementeer. Sy werk al sedert 2010 as 'n vrywilliger in Delft, waar sy verskillende gemeenskapsprogramme fasiliteer om die welstand en hanteringsmeganismes van leerders en gesinne in dié omgewing te verbeter.

“'n Intervensie soos Power Moms is noodsaaklik vir hierdie ma's, wat uit gebroke en disfunksionele huise kom, en nie vir professionele dienste kan betaal om hulle die trauma te help verwerk van 'n kindertyd en lewe in 'n hoërisiko-omgewing waar geweld, moord, verkragting, bendebedrywighede en middelmisbruik algemeen voorkom nie," sê Van Schalkwyk.

Die doel van die program, wat uit 20 sessies met verskillende modules bestaan, was om deelnemerma's te oortuig dat hulle gewaardeerd en waardig is, om hulle interaksie en verhouding met hulle kinders te verbeter, en om hulle die daaglikse risiko's in hulle omgewing doelbewus te help bestuur.

Die ma's is gevra om selfoonfoto's te neem om die hulpbronne van die gemeenskap sowel as hulle daaglikse behoeftes te dokumenteer. Hulle het ook op 'n wildernisuitstappie gegaan, tuisoefeninge met hulle kinders voltooi, ontspanningsaktiwiteite soos naaldwerk onder leiding van navorsingsassistente beoefen, en aan fokusgroepgesprekke deelgeneem.

Van Schalkwyk reken die krag van die Power Moms-program lê daarin dat dit hierdie vroue se persoonlike én ouerskapsvaardighede versterk. “Hulle het genoem dat die program hulle bemagtig het om hulle persoonlike welstand te verbeter. Hulle het van hulle positiewe ervarings as Power Mom vertel, en dat hulle soos 'n familie geword het, selfs al het hulle mekaar nie vooraf geken nie. Dít het hulle nie net aangemoedig om mekaar beter te leer ken en oor hulle pret en probleme te gesels nie, maar het hulle ook aangespoor om te leer.

“Die ma's het ook waardering uitgespreek vir die praktiese riglyne wat hulle interaksie met hulle kinders help versterk het, onder meer deur spesifieke take soos om die kinders met hulle leeswerk te help, aandagtig na hulle vrae te luister en met hulle te speel. Die ma's het dit duidelik reggekry om die inligting van die Power Moms-program in hulle huise toe te pas."

Van Schalkwyk sê die studie toon dat beter moederskap in hierdie omgewing op die doelbewuste koestering van ma's se geestes- en verhoudingsgesondheid berus. “Dít beteken dat beter ouerskap in hierdie omgewing oor méér as net ouerskapsvaardighede gaan, maar ook vereis dat ma's bygestaan word om deur hulle 'ou pyn' te werk as slagoffers van verkragting, seksuele aanranding en huishoudelike geweld, om hulle selfwaarde en menswaardigheid te bou, en om in veilige ruimtes oor hulle emosionele ervarings te praat."  

Sy voeg by dat die bevindinge van hierdie studie as 'n beginpunt kan dien om soortgelyke programme in ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe te ontwikkel. 

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Izanette van Schalkwyk

E-pos: icombrinck@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Mediabestuurder

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za