Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Wetenskap ontmoet kuns’ uitstalling wil stigma van siekte oorbrug
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 05/02/2021

Die publiek het nog tot die einde van Februarie kans om 'n unieke uitstalling wat fokus op die koppelvlak tussen wetenskap, kuns en die stigma van siekte, by die Rupert Museum in Stellenbosch te besigtig.

Die uitstalling, 'Science meets Art: Art addressing stigma in illness', is 'n inisiatief van die nagraadse studente in Fisiologiese Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met Prof Elmarie Constandius van die US se Fakulteit Visuele Kunste, en die Rupert Museum. Dit behels uitgesoekte mikrografiese afbeeldings van selle en selprosesse wat met neurodegeneratiewe siektes geassosieer word, waaronder Alzheimer se siekte  en depressie, asook kanker. Die afbeeldings is almal deur Prof Ben Loos en die nagraadse studente in sy navorsingsgroep voortgebring.

Prof Loos sê die studente het besef dat mense 'n behoefte het om geestessiektes en neurodegenerasie beter te verstaan. Afrika-tale het dikwels nie die terminologie vir die wetenskaplike terme van hierdie siektes nie, of die woorde daarvoor is onbekend, wat kommunikasie daaroor besonder uitdagend maak.

Die kurator van die versameling, Elizabeth Miller-Vermeulen, het toe met ses kunstenaars van Kayamandi en Gordonsbaai gewerk om, deur middel van hul kuns, sin te maak van die mikrografiese afbeeldings en dan hulle interpretasie daarvan deur verskillende mediums uit te druk - wat kralewerk, herwinde materiale en papier insluit.

Die versameling word pragtig saamgevat in 'n volkleur brosjure met verduidelikings in Engels en isiXhosa wat die mikrografiese afbeeldings en gepaardgaande kunswerke, uiteensit. Daar is planne om die teks ook in ander tale te vertaal, ten einde meer gemeenskappe te bereik.

Gedurende 'n interaktiewe werksessie op 30 Januarie vanjaar, het Miller-Vermeulen verduidelik hoe 'n pragtige kralemandjie deur die kunstenaar Nomsa Mukwira, gebaseer op 'n mikrografiese afbeelding van 'n breinkankersfeer (menslike glioma) deur PhD-student Jurgen Kriel, die visuele skakel kan word wat 'n gemeenskap kan help om te praat oor 'n siekte wat merendeels onsigbaar is vir ons.

Die kunswerke word dus die beginpunt om simptome soos depressie en vergeetagtigheid, wat geassosieer word met geestessiektes soos demensie, Alzheimer se siekte en depressie by adolessente, te bespreek.

Volgens Miller-Vermeulen was dit uitdagend om die uitstalling verlede jaar gedurende die grendeltydperk te voltooi, maar terselfdertyd het die projek tot die redding van die betrokke kunstenaars gekom, omdat so baie ander uitstallings gekanselleer is.

“Ek wil die Rupert Museum bedank vir die aanbieding van hierdie uitstalling. Die werk wat ingesit is om dit betyds te voltooi, het 'n simbool van hoop en oorlewing vir ons almal wat betrokke was, geword."

Die volgende nagraadse studente, nadoktorale genote en kollegas was betrokke: Dr André du Toit, Kim Fredericks, Jurgen Kriel, Prof Craig Kinnear, Naomi Okugbeni, Dr Tando Maduna, Kyra Waso, Tamryn Barron, Sinnead Cogill, Demi Pylman, en Nsuku Nkuna.

Die deelnemende kunstenaars is: Gerald Choga, Portia Mphangwa, Nomsa Mukwira, Zacharia Mukwira, Simon Shumi en Zingisa Vula.

science meets art group pic.png

By die bekendstelling van die uitstalling “Wetenskap ontmoet Kuns" by die Rupert Museum, was van links na regs, Nicola Heathcote, Kim Fredericks, Jurgen Kriel, Dr Tando Maduna, Prof Ben Loos, Elizabeth Miller-Vermeulen (kurator), Zacharia en Nomsa Mukwira (kunstenaars), Tamryn Barron, Demi Pylman, Sinnead Cogill, Naomi Okugbeni, Dr Caroline Beltran, Prof Elmarie Costandius, Nsuku Nkuna and Robyn-Leigh Cedras-Tobin (direkteur van die Rupert Museum). Foto: Tatum Cogan