Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Viserektor: Leer en Onderrig gereed om studente vir akademiese jaar 2021 te verwelkom
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 05/02/2021

​Prof Deresh Ramjugernath het amptelik diens aanvaar as die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Viserektor: Leer en Onderrig.

In 'n onderhoud met die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking het prof Ramjugernath gesê hy is “baie opgewonde om hom by een van die voorste hoëronderwysinstellings op die Afrikavasteland aan te sluit" en sien daarna uit om studente vir die nuwe akademiese jaar te verwelkom.

“Die terugkeer kampus toe lê ons almal 'n groot verantwoordelikheid op. Ons almal sal moet seker maak dat ons alles moontlik doen om aan die gesondheid- en veiligheidsprotokolle te voldoen sodat ons die risiko beperk en 'n bevorderlike omgewing vir alle lede van ons universiteitsgemeenskap skep," het hy gesê. “Die pandemie is nog lank nie verby nie, en ons sal nog 'n geruime tyd moet vasbyt totdat 'n doeltreffende en omvattende inentingsprogram van stapel gestuur is."

Hoewel hy maar alte bewus is van die uitdagings om te midde van die pandemie met die lewe voort te gaan, bly prof Ramjugernath positief oor die akademiese jaar wat voorlê: “Ons sien daarna uit om ons studente binne die beperkinge van 'n 'nuwe normaal' vir die nuwe akademiese jaar te verwelkom. Ons weet dit sal sowel akademies as sosiaal 'n uiters vervullende en opwindende reis wees by een van die beste instellings op die vasteland."

Ramjugernath is 'n uitmuntende wetenskaplike op die gebied van chemiese ingenieurswese in die algemeen, en chemiese termodinamika en skeidingstegnologie in die besonder. Hy het aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) studeer. Hier behaal hy in 1993 die graad BScIng (Chemies), in 1995 'n MScIng (Chemies), wat in 'n PhD omskep is, en in 2000 'n PhD in Chemiese Ingenieurswese.

Meer as 130 magister- en PhD-studente het al onder sy bekwame leiding gegradueer, en hy het as studieleier vir meer as 20 nadoktorale genote gedien. Ramjugernath het ook al meer as 350 portuurbeoordeelde vaktydskrifartikels die lig laat sien en oor die 300 referate by internasionale konferensies aangebied.

Hy het tot en met 2018 die navorsingsleerstoel in fluoorprosesingenieurswese en skeidingstegnologie – deel van die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI)/Nasionale Navorsingstigting (NNS) se Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoelinisiatief (SARChI) – beklee. Daarbenewens het die nuwe viserektor al verskeie nasionale en internasionale toekennings ontvang, en is hy 'n lid van 'n aantal bedryfs- en akademiese liggame, waaronder die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap (ASSAf) en die Afrika-akademie vir Wetenskappe (AAS).

Hy het oor die jare verskeie poste by UKZN beklee. Dít sluit in viserektor van navorsing, viserektor van innovasie, kommersialisering en entrepreneurskap; assistentdekaan van ingenieurswese, sowel as hoof van die Skool vir Chemiese Ingenieurswese.

Ramjugernath glo hoëronderwysinstellings het 'n belangrike en beduidende rol te speel om tot landwye maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling by te dra en toonaangewende wêreldwye kennisskeppers te wees.

“As 'n nasie, staan ons tans voor 'n klomp uitdagings met betrekking tot die maatskaplike en ekonomiese opheffing van ons burgers, en om voorspoed vir almal in die land te verseker. Universiteite moet 'n groter rol vervul om hierdie uitdagings die hoof te bied en 'n direkte impak op die samelewing te hê. Die waardes wat ons by ons studente en personeellede inprent, en hulle ganse kampuservaring terwyl hulle aan die universiteit verbonde is, moet hulle nie net in universiteitsverband help funksioneer en laat tuis voel nie, maar moet hulle ook toerus om met die samelewing in die algemeen om te gaan en tot maatskaplike samehang en nasiebou by te dra." 

Foto deur Anton Jordaan.