Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nasionale Polisiedag: Polisiëring in grendeltyd bra gebrekkig
Outeur: Guy Lamb
Gepubliseer: 27/01/2021

Woensdag (27 Januarie) is Nasionale Polisiedag. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf Dr Guy Lamb (Departement Politieke Wetenskap) dat die kragdadige en gemilitariseerde benadering tot die polisiëring van die pandemie Suid-Afrika se brose demokrasie net nóg skade sal berokken deur openbare vertroue in die polisie se toewyding aan hulle grondwetlike plig om “die inwoners van die Republiek en hul eiendom te beskerm en te beveilig" verder af te takel.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Guy Lamb*

Nasionale Polisiedag op 27 Januarie is 'n gulde geleentheid om te besin oor hoe die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die afgelope jaar gevaar het, en oor die uitdagings wat nog in 2021 op ons wag, veral wat die polisiëring van COVID-19-regulasies betref.

Alles in ag genome, was 2020 'n veeleisende jaar vir die beamptes in blou. Benewens hulle verantwoordelikheid om misdaad in bedwang te hou, moes die polisie verskeie onwelkome inperkingsmaatreëls implementeer. Duisende SAPD-personeellede, waaronder die nasionale polisiekommissaris, het die koronavirus opgedoen. Die meeste het daarvan herstel, maar meer as 340 beamptes het gesterf weens gesondheidskwessies wat met die pandemie verband hou. Dít is méér polisielede as wat sedert 2016 in skermutselings met misdadigers gesterf het. Nóg SAPD-beamptes sal waarskynlik die virus opdoen, en dit sal verdere polisielewens eis.

In die lig van die regering se traagheid om die entstof beskikbaar te stel, lyk dit hoogs onwaarskynlik dat 2021 veel van 2020 sal verskil. Die SAPD sal steeds verskillende vorme van inperkingsregulasies moet afdwing namate opeenvolgende COVID-19-infeksiegolwe oor ons spoel.

Weens die snelle wêreldwye verspreiding van die COVID-19-pandemie aan die begin van 2020, en die betreklik kort tyd wat die SAPD gegun is om 'n implementeringsplan op te stel om die publiek aan die inperkingsregulasies te laat voldoen, het die polisie teruggeval op hulle beproefde gebiedsgegronde misdaadbestrydingstrategie om die virus te 'beveg'. Om meer spesifiek te wees, het die SAPD se hoëdigtheidspolisiëringsbenadering die regering se vernaamste strategie geword om die inperking af te dwing. So 'n strategie behels die gebruik van kragdadige polisiëringstaktieke om misdaad te beheer en terselfdertyd die staat se gesag met mening te laat geld. In die praktyk beteken dit dikwels dat 'n oormaat veiligheidspersoneel in bepaalde gebiede ontplooi word, gevolg deur padblokkades, robuuste interaksies met inwoners, en massa-inhegtenisnemings van diegene wat as wetsoortreders beskou word.

Die SAPD se besluit om bestaande misdaadbestrydingstrategieë te gebruik om die inperkingsregulasies af te dwing was op die oog af 'n heel rasionele stap deur die regering. Soos deskundige epidemioloë en die Suid-Afrikaanse gesondheidsdepartement verduidelik het, is daar immers beduidende ooreenkomste tussen die misdaadbestrydingsbenadering wat die justisie-, veiligheids- en misdaadvoorkomingskluster sedert die einde van die 1990's volg en die openbaregesondheidsbenadering om die verspreiding van pandemies te stuit. Albei benaderings behels monitering en dataontleding van 'n bepaalde probleem, op grond waarvan gevaarpunte of ruimtelike klusters dan uitgewys en toegespitste, gebiedspesifieke beheer- en voorkomingsmaatreëls ingestel word. Boonop was die polisie- en weermagbevelvoerders en die meeste bedryfspersoneel klaar vertroud met die hoëdigtheidsbenadering, en kon die veiligheidsmagte dus by die aanvang van die eerste algehele inperking reeds in groot getalle ontplooi word.

President Cyril Ramaphosa en verskeie kabinetsministers het wél in vae openbare verklarings gesê veiligheidsmagte moet Suid-Afrikaners se grondwetlike regte respekteer. Nietemin was dit binne enkele dae ná die aanvang van die landwye inperking duidelik dat die regering weinig oorweging geskenk het aan die risiko's wat 'n hipergemilitariseerde misdaadbestrydingsbenadering tot 'n openbaregesondheidskwessie vir gewone burgers inhou.

Vir die grootste deel van 2020 was daar etlike aantygings van mishandeling, sowel as video's op sosiale media van polisie- en weermaglede in verskillende dele van Suid-Afrika wat mense dwing om vernederende fisiese oefeninge soos opstote, hurksitte en haasspronge te doen. Dié oefeninge is glo gebruik as 'n strafmaatreël vir diegene wat na bewering inperkingsregulasies oortree het, en persone wat kwansuis veiligheidsbeamptes se opdragte verontagsaam het en/of hulle nie met die nodige eerbied behandel het nie. Heelwat foto's en video's van veiligheidspersoneel wat rubberkoeëls, plastiekpype, sambokke en, in sekere gevalle, skerppunt-ammunisie teen vermeende regulasieoortreders gebruik, het op sosialemediaplatforms verskyn. Meer onlangs was daar die skandelike voorval toe die SAPD 'n onlusbeheerwaterkanon gebruik het om pensioenarisse in 'n tou buite die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se kantore in Bellville uiteen te jaag nadat hulle die polisie se aanvanklike bevele verontagsaam het. Polisie in St Francisbaai is op hulle beurt daarvan beskuldig dat hulle skokgranate afgevuur het op branderplankryers wat in stryd met die inperkingsregulasies in die see was.

'n Grondbeginsel van polisiewerk in 'n demokrasie, en wat veral in krisistye belangrik is, is polisiëring met wedersydse instemming. Dít is wanneer burgers die polisie se gesag en wetlike reg om op sekere maniere op te tree erken, en gevolglik ter wille van openbare orde en vrede bepaalde regte en vryhede inboet wat hulle andersins sou geniet. Studies toon dat polisiëring met instemming hegter sosiale bande tussen die polisie en landsburgers, doeltreffender polisiëring én groter toewyding aan regsoewereiniteit in gemeenskappe kan teweegbring. 'n Noodsaaklike komponent van polisiëring met wedersydse instemming is natuurlik onderlinge vertroue tussen die polisie en die gemeenskappe vir wie hulle werk.

Nietemin het openbare vertroue in die SAPD, wat oor die jare reeds tot betreklik lae vlakke gedaal het, in 2020 verder gekwyn weens die verskeie voorvalle van magsvergrype en hardhandigheid deur die polisie. Dit is verder ondermyn deur die nasionale koronavirusbeheerraad se aandrang daarop dat die polisie 'n aantal ongewilde regulasies afdwing, veral die verbod op die verkoop van tabakprodukte en alkohol. Die publiek se vertroue in die polisie is 'n verdere knou toegedien deur berigte oor polisiekorrupsie, wat sommige polisiebeamptes by die smokkel en onwettige verkoop van sigarette en drank sowel as omkopery by padblokkades en gedurende polisieklopjagte betrek. Daar was ook skandale met betrekking tot die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting aan die SAPD teen buitensporige pryse.

Te oordeel na uitlatings deur SAPD-leiers en die Ministerie van Polisie dui alles daarop dat die polisie in 2021 hulle kragdadige en gemilitariseerde benadering tot die polisiëring van die pandemie sal voortsit. Volgens hulle is hierdie taktieke noodsaaklik om “lewens te red". Tog sal so 'n besluit Suid-Afrika se brose demokrasie net nóg skade berokken deur openbare vertroue in die polisie se toewyding aan hulle grondwetlike plig om “die inwoners van die Republiek en hul eiendom te beskerm en te beveilig" verder af te takel.

*Dr Guy Lamb is 'n kriminoloog van die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.