Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TB-navorser ontvang gesogte L’Oréal-UNESCO For Women in Science-toekenning
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 14/01/2021

Dr Charissa Naidoo is een van ses Suid-Afrikaanse navorsers wat onlangs ʼn toekenning ontvang het van die L'Oréal-UNESCO For Women in Science Suid-Afrikaanse Nasionale Jongtalent-program.

​Naidoo, ʼn nadoktorale navorser by die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, is ook deel van die Kliniese Mikobakteriologie en Epidemiologie Groep (CLIME) waar sy die mikrobioom van die dermkanaal van pasiënte met tuberkulose (TB) bestudeer, met die hoop dat dit sal bydra tot die ontwikkeling van innoverende diagnostiese instrumente en meer toeganklik behandelings. 

TB is die wêreld se voorste doodsoorsaak wat verband hou met infeksie. Studies oor die ​diverse mikrobiese gemeenskappe in laer lugweë (long-mikrobioom) het, tot op hede gefokus op siektes wat van toepassing is op onwikkelde lande, maar is min bestudeer in die konteks van TB. Dit is veral belangrik in Afrikabevolkingsgroepe waar pogings om die siekte in toom te hou gehinder word deur ʼn oneweredige koers van armoede en MIV. Naidoo se navorsing toon hoe – selfs voor antibiotiese behandeling – pasiënte met TB ʼn unieke mikrobioom in hul dermkanaal het. 

Die navorsing bring vernuwende kliniese, laboratorium en rekeningsbenaderings byeen om die interaksie tussen die mikrobioom en die gasheer te verstaan by die ligging van die siekte, en dit is die eerste navorsing van sy soort. Benewens dit Afrika-kundigheid bou, sal die navorsing ook die grondslag lê vir grootskaalse kliniese proewe met terapeutiese middels wat die mikrobioom teiken, om die kliniese uitkomste van TB in die langtermyn te verbeter.

Prestasie is nie iets nuuts vir Naidoo nie, en sy het reeds talle pryse en toekennings onder die belt – insluitend ʼn Loopbaanontwikkeling-toekenning van die Europese en Ontwikkelende Lande Kliniese Proewe-vennootskap (European and Developing Countries Clinical Trials Partnership, EDCTP). 

Haar studies oor die impak van long-mikrobiome is baanbrekerswerk internasionaal en die aantrekking vir haar is dat dit in ʼn opwindende nuwe navorsingsgebied val; dat dit bestaan uit ʼn unieke mengsel van basiese wetenskap, kliniese wetenskap en bioinformatika – en die belangrikste is dat dit ʼn kritieke kennisgaping van hierdie siekte aanspreek.

“Ons liggame bestaan uit triljoene bakterieë wat as die 'mikrobioom' bekendstaan, en dit is belangrik vir ons gesondheid," verduidelik sy. “Nieteenstaande verstaan ons nog nie die verhouding met TB nie – die grootste doder in Suid-Afrika. Alhoewel TB geneesbaar is, moet pasiënte baie pille neem vir ʼn lang tyd, en voltooi hulle baiemaal nie die behandeling nie."

Sy is oorgehaal deur die gedugte uitdaging wat TB in Suid-Afrika bied, “veral onder arm en kwesbare mense", en haar droom is om ʼn einde aan TB in die land te sien. “In plaas daarvan om rykdom na te spoor het ek myself daaraan toegewy om ʼn loopbaan te volg wat ʼn waardige saak aanspreek en wat lewensgehalte sal verbeter," verduidelik sy. 

Hierdie toekenning is veral betekenisvol vir haar werk aangesien daar volgens haar ʼn nypende tekort aan befondsingsgeleenthede vir nadoktorale genote in Suid-Afrika is. Daar is kort- en langtermyn voordele aan die genootskap – materiaal wat met haar projek ingesamel word sal Naidoo in staat stel om ʼn langtermyn-navorsingsprogram by haar instelling aan die gang te sit. 

“Hierdie navorsingstoekenning sal my meer benoembaar maak vir kompeterende befondsingsgeleenthede, wat nuwe deure sal oopmaak," verduidelik sy. “Dit sal my ook in staat stel om my wetenskaplike baanrekord te versterk, en so my kandidaatskap by die fakulteit verbeter." 

Die gebrek aan befondsing is nie die enigste uitdaging in die nastrewing van haar doelwitte nie en moet sy ook reken met die onvoldoende plaaslike kundigheid en infrastruktuur vir komplekse relevante data-analise.

Naidoo het die inperking in 2020 gebruik om op haar eie voort te gaan en data-analises te finaliseer, manuskripte te finaliseer en deel te neem aan virtuele mikrobioom-werkswinkels. Sy vergestalt die advies wat sy aan jong meisies wat in die wetenskap belangstel gee. Sy beklemtoon dat hulle nie moet bang wees om buite hul gemaksones te beweeg nie. “Werk as ʼn vrywilliger of intern by ʼn navorsingslaboratorium en identifiseer goeie mentors wat in jou akademiese ontwikkeling sal belê."

Sy verduidelik die impak van die genootskap op haar wetenskaplike loopbaan as ʼn vrou: “Dit is baie bemoedigend en bemagtigend om hierdie toekenning te ontvang. Die wetenskap word steeds deur mans gedomineer, waar minder vroue wetenskaplikes behou word tydens hulle loopbaan. Hierdie toekenning sal nie net my eie loopbaanontwikkeling bevorder nie, maar dit sal my in staat stel om ander jong vroulike wetenskaplikes te mentor. Op hierdie manier sal ons die plaaslike kapasiteit verbeter, en oor die langtermyn help om die gendergaping in die wetenskap te oorbrug."