Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US graduatus gebruik persoonlike ervaring om jeug in sy gemeenskap te help
Outeur: Corporate Communication [René-Jean van der Berg]
Gepubliseer: 17/12/2020

​Stel jou voor: Jy moet elke dag met die trein pendel. Jy is een van die laaste passasiers heel agter in die trein. Jou stasie is die heel laaste stasie op die Sentrale lyn wat jou deur die Kaapse Vlakte neem: Kapteinsklip.

“Dit is vanwaar ek kom. 'n Amper-vergete en maatskaplik-gebroke gemeenskap waar die jeug nie dikwels baie geleenthede kry nie," sê US-graduatus​ Clint Higgins.

Hy het vandeesweek sy meestersgraad in Ontwikkelingsfinansiering aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Sakeskool ontvang.

Tydens sy kinderdae in Tafelsig in Mitchellsplein het Clint eerstehands ondervind op watter paadjie jy jouself kan bevind indien daar nie 'n behoorlike rolmodel of leiding in jou lewe is nie. Hierdie  ondervinding het hom genoop om die nie-regeringsorganisasie, Each One Teach One, op die been te bring. Hierdie NRO strewe daarna om noodsaaklike leiding aan die jeug in sy gemeenskap te verskaf sodat hulle hul volle potensiaal kan verwesenlik.

“Ek was een van die beste leerders op skool, en moes altyd hoor hoeveel potensiaal ek het. Maar niemand kon egter vir my wys of sê hoe ek hierdie potensiaal kon ontsluit nie. Terwyl ek grootgeword het, het ek nie daardie rigtingwyser gehad om vir my die pad vorentoe aan te dui nie – en dit is vandag die geval met baie jeugdiges. Ek moes deur my swak besluite en harde lesse uit hierdie ondervindings leer."

Terwyl hy met graad 10 besig was, het Clint persoonlike probleme met sy gesin ondervind en het hy die skool verlaat. Hy het dieselfde jaar begin metamfetamien (tik) gebruik en is vir die besit van onwettige middels in hegtenis geneem.

“As ek nou terugkyk, besef ek dit was eintlik my noodkreet om hulp gedurende 'n moeilike tyd en 'n gebrek aan identiteit. Nadat ek in hegtenis geneem is, het ek besef my lewe kon nie so voortgaan nie."

Clint het daarin geslaag om die volgende jaar terug te gaan skool toe, maar dit was moeilik om ou gewoontes af te leer, aangesien daar weer eens 'n gebrek aan ondersteuning en positiewe rolmodelle in sy gemeenskap was.

Hy het in 2006 gematrikuleer en het 'n paar jaar later in 'n kruidenierswinkel begin werk. “Ek het elke dag by die werk vir myself gevra: 'Is dit nou dit?' Ek het besef ek benodig kwalifikasies indien ek geleenthede wou aangryp wanneer hulle hulself voordoen."

Kort nadat hy tot hierdie insig gekom het, het hy vir akademiese programme by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) ingeskryf.

Hy het in 2012 'n Sakeontwikkelingsprogram aan CPUT voltooi, waarna 'n nasionale diploma in Bestuur aan dieselfde inrigting in 2013 en 'n internasionale diploma in Aankope by die Chartered Institute of Procurement and Supply in 2015 gevolg het, asook 'n honneursgraad in Openbare Bestuur aan die US in 2017.

Hy het die afgelope nege jaar deeltyds studeer terwyl hy voltyds in diens was en het terselfdertyd ook die Each One Teach One-NRO op die been gebring.

“Ek hoop regtig om met my NRO na jeugdiges uit te reik wat hulself in dieselfde posisie bevind as waarin ek was. Hulle het iemand nodig om vir hulle die pad vorentoe aan te wys. Hulle moet weet hulle hoef nie vir die res van hul lewens die laaste passasiers op die trein te wees nie."