Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-doktorale graduatus se missie is om mense met gestremdhede te help
Outeur: Corporate Communications and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 14/12/2020

As 'n geregistreerde maatskaplike werker maar ook 'n persoon met 'n gestremdheid, het Noreth Muller-Kluits altyd geweet haar roeping is om verandering te help fasiliteer en om die behoeftes van mense met gestremdhede aan te spreek.

Kluits het Maandag, 14 Desember 2020 by 'n gradeplegtigheid vir doktorale graduandi van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer.

Haar doktorale navorsing het gehandel oor volwassenes met 'n opgedoende gestremdheid se ervarings van maatskaplike werk-ondersteuning binne 'n Suid-Afrikaanse konteks.

Volgens Kluits wou sy deur haar navorsing “aan persone met gestremdhede en hul gesinne 'n stem gee", want sy glo hulle kry nie altyd die geleentheid om dit self te doen nie.

“Nadat ek as 'n maatskaplike werke afgestudeer het, het ek in die nie-winsgewende gestremdheidsektor gewerk. Dít, saam met my persoonlike ondervinding as beide 'n persoon met 'n gestremdheid en iemand met 'n familielid met 'n gestremdheid, het my aangespoor om my navorsing op onderwerpe wat met gestremdheid verband hou, te fokus," sê Kluits.

Kluits het in die klein Suid-Kaapse dorpie, Riversdal, grootgeword. Sy het in 2011 haar BA-graad in Maatskaplike Werk aan die US behaal en in 2017 haar meestersgraad in Maatskaplike Werk (cum laude).

Ondanks uitdagings weens die COVID-19-pandemie, sê Kluits dit was vir haar belangrik om haar studies betyds te voltooi en om te verseker dat die stemme van die deelnemers wat deel van haar navorsing uitgemaak het, op die ou einde gehoor word.

“Terwyl ek met my studies besig was, is ek dikwels oorweldig deur die deelnemers se vlak van veerkragtigheid, asook hul bereidwilligheid om hul storie te deel. Dit het die waarde van navorsing herbevestig, asook die belangrike rol wat dit speel om verandering aan die gang te sit deur verskillende behoeftes en uitdagings te identifiseer," sê Kluits.

Kluits het ook baie groot waardering vir die departement Maatskaplike Werk by die US vir die vlak van ondersteuning en professionele leiding wat hulle deur die jaar aan haar verskaf het. Sy glo dit het 'n groot rol daarin gespeel dat sy haar droom kon verwesenlik om 'n doktorsgraad te verwerf.

“Ek is uiters dankbaar dat ek my professionele en navorsingsopleiding by die US kon ontvang. Die uitgebreide kennis en kundigheid wat my opsieners en ander sleutelrolspelers by die Universiteit deur die jare met my gedeel het, was van onskatbare waarde en het 'n baie groot invloed op my professionele ontwikkeling gehad.

“Harde werk en volharding kan al die verskil maak om jou drome te bereik, maar jy moet ook daarin glo en deur mense omring wees wat jou hierin wil ondersteun. My doel is om deur navorsing en kampvegterswerk verder tot die gestremdheidsektor by te dra om verandering te fasiliteer wat die behoeftes van mense met gestremdhede en hul gesinne in gemeenskappe aanspreek," sê Kluits. 

Klik hier om meer uit te vind oor Kluits se PhD-navorsing.