Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gradueer ondanks talle teenslae
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 14/12/2020

Dit was nog altyd Naseegha Cariem se droom om 'n onderwyser te word.

Toe sy in 2012 as 'n eerstejaarstudent by die Universiteit Stellenbosch (US) ingeskryf het, het sy nooit kon dink dat sy soveel beproewing in die jare wat kom, sou moes deurstaan om haar graaddrome te bewaarheid nie.

Cariem is in 2013 met polisistiese ovulêre sindroom, 'n toestand wat onvrugbaarheid veroorsaak, diagnoseer. Ná verskeie miskrame het Cariem en haar man die belangrike besluit geneem om so gou as moontlik met 'n gesin te begin weens haar vrugbaarheidsprobleme.

Terwyl sy in haar finale jaar as 'n BA-student in die Lettere, het sy swanger geraak met tweelingseuns en ongelukkig moes sy haar studies staak weens die hoërisikoswangerskap. 

“Ek kon weens finansiële druk nie my studies na die geboorte van die tweeling voortsit nie en moes toe werk soek. In 2019 het ek die dapper stap gedoen om uit my korporatiewe pos te bedank en my studies te hervat om my finale jaar te voltooi," vertel Cariem.

Nadat sy twee modules in haar tweede semester asook die konsessie-eksamen wat deur die dekaan van haar fakulteit toegestaan is, gedruip het, moes Cariem ook uit die Nagraadse Onderwyssertifikaat-program (NOS) in Verdere Onderwys en Opleiding onttrek waarvoor sy reeds geregistreer het.

“Ek moes vanjaar vier voorgraadse modules voltooi om hierdie langverwagte graad te verwerf wat gevul was met bloed, sweet en trane! Ek is die dankbaarste vir my ondersteuningstruktuur, my ouers, sibbe en my man. My man is my superheld in lewende lywe. Hulle het my altyd in al my besluite ondersteun, selfs toe ek soos 'n mislukking gevoel het. My graad behoort nie net aan my nie, maar aan almal wat gesien het hoe ek struikel en weer opstaan," sê Cariem.

Sy beplan om aanstaande jaar haar NOS-kursus te voltooi en het ook planne vir 'n meestersgraad in die nabye toekoms.

“Ek het beslis geleer dat daar 'n mens se doelwitte geen tyds- of ouderdomsbeperking het nie. Mense moet hul potensiaal raak sien en met niks minder tevrede wees nie. Ek wou jare terug al 'n opvoeder word, en kan nou sien dat ek hierdie doel gaan bereik en dat ek in die toekoms in die klaskamer gaan staan om letterkunde vir hoërskoolleerders te gee."