Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US 'n 'helder ster' onder institusionele response op pandemie
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 10/12/2020

“Hierdie Universiteit was 'n ware blink ster in die institusionele response van die jaar."

So het regter Edwin Cameron, US-Kanselier, Woensdagaand (9 Januarie 2020) tydens die algemene jaarvergadering van die Universiteit Stellenbosch (US) Konvokasie gesê. Cameron was die hoofspreker by die geleentheid wat die eerste keer aanlyn gehou is.

“Met onverbloemde trots kan ek sê dat die Rektor en sy span, met die heelhartige samewerking van die ganse akademiese en bystandspersoneel, 'n ongekende krisis gekonfronteer het, en, met vasberadenheid en vindingrykheid, sterker en daaranderkant uitgekom," het Cameron gesê en bygevoeg dat hy diepe respek het vir die manier waarop die Universiteit hierdie jaar die uitdagings van die epidemie te bowe gekom het, en studente van alle sosiale agtergronde in staat gestel het om hul onderrig en navorsing voort te sit.

“Daarby is die Universiteit se inklusiewe taalbeleid grondwetlik stewig verantwoord en gefundeerd. Dit slaag daarin om die besondere voorreg van 'n Stellenbosse opvoeding aan almal beskikbaar te stel, terwyl Afrikaans steeds besonderlik gehandhaaf en gekoester word."

Hy het bygevoeg dat Stellenbosch 'n “juweel is wat betref sy ligging en omgewing, in sy geskiedenis, in sy akademiese en navorsingsuitnemendheid, in sy mense en in die geleenthede wat dit bied." Maar, sê  Cameron, 'n juweel is hard, gehard, blywend en kan harde behandeling kan verdra. Stellenbosch is nié 'n juweel in hierdie opsig is nie. “Dit is broos, kosbaar, heeltemal breekbaar. Ons moet ons juweel koester en vertroetel; Stellenbosch is 'n kleinood wat versorging as iets kosbaars verg. Dit is die Stellenbosch waarna ek as kanselier streef. Dit is 'n visie vir Stellenbosch wat ek weet jy ook sal omhels."

Snelle oorskakeling na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering

In sy verslag aan die Konvokasie het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, gesê dat 2020 as 'n uitsonderlik uitdagende jaar onthou sal word. “Dit was 'n moeilike jaar, maar ons het goeie vordering gemaak.

“Toe die koronaviruspandemie ons tref, is al ons prioriteite onmiddellik afgeskaal na twee oorkoepelende prioriteite: die suksesvolle voltooiing van die 2020-akademiese jaar; en om die US se volhoubaarheid vir die toekoms te verseker. Ek is bly om te kan sê ek dink ons het goed gevaar – danksy die harde werk en opofferings van ons kollegas."

“Seker die heel belangrikste verwikkeling aan die Universiteit vanjaar was ons snelle oorskakeling na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering (ERTLA). Toe kontakonderrig in Maart vanjaar op kampusse landwyd opgeskort is, moes ons baie vinnig oorskakel – en ons het dit goed reggekry. Oor die algemeen was die Universiteit baie suksesvol hiermee – iets waarvoor ons baie dankbaar is."

De Villiers het ook gesê ons kan almal baie trots wees op ons studentesukses. “Ons Universiteit handhaaf 'n uitstekende rekord. Om die waarheid te sê, Stellenbosch is die top universiteit in die land ten opsigte van studentesukses volgens deurset-tabelle van die departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Ons algehele sukseskoers vir voorgraadse modules – dit is studente wat hul modules slag – staan op 'n baie hoë 87,2%."

Hy het bygevoeg dat die Klas van 2020 in meer as een opsig geskiedenis maak. “Nie minder nie as 5 700 studente ontvang aanstaande week 'n gesogte kwalifikasie van die Universiteit Stellenbosch – wat merkwaardig is, gegewe die moeilike jaar wat ons beleef het. Ons sal meer as 3 400 grade, diplomas en sertifikate op voorgraadse vlak toeken – die meeste ooit in hierdie kategorie. Ons ken ook 1 005 honneurs-, 502 meesters- en 138 doktorsgrade toe. Ons is baie trots op ons bydrae tot die ontwikkeling in ons land, ons vasteland en die res van die wêreld."

Om al hierdie redes is die US 'n gesogte bestemming vir studente, het De Villiers gesê.  Van die inname in 2018 tot die inname in 2021, het die totale aantal aansoeke met 29% gestyg, volledige aansoeke met 11% en voorlopige aanbiedinge wat gemaak is, met 10%. Dit is die grootste mosie van vertroue waarvoor enige universiteit kan vra."

In sy voorlegging het dr Leslie van Rooi, waarnemende president van die konvokasie, 'n oorsig gegee van alumni-gebeure van die jaar en die verskillende rolle wat alumni gespeel het om die uitdagings wat die pandemie meebring, te verlig.

Hy het ook verwys na die groeiende en diversifiserende alumni-strukture aan die Universiteit en gesê dat ons moet ruimte laat vir “gesprekke waar ons eerlik en konstruktief krities kan wees, waar ons stemme gedeel en gehoor word en waar ons luister".

As ons nie 'n alumnigemeenskap kan wees waar ons kan toelaat dat 'n groeiende verskeidenheid van opinies gedeel word nie, dan faal ons in ons taak om waarlik die welstand van die Universiteit te verseker. “Ek sal die Konvokasie vorentoe aanmoedig om meer oop gesprekke en platforms moontlik te maak waar  uiteenlopende menings gehoor word. En dat daar nie 'n enkelspoor-pad is wat lei tot 'n denkwyse dat daar net een opinie, een perspektief, een begrip, een uitdrukking of besorgdheid is. En natuurlik is daar groot uitdagings wat ons moet aanspreek. Ons kan dit net doen as ons hande vat, dit saam bespreek en as ons die groeiende diversiteit van ons alumni erken."

Hy het ook verwys na hoe daar na bruin Afrikaanssprekendes verwys word. “As ons oor hierdie kategorie mense praat en wil ondersteun, moet dit 'n gesprek wees mét die groepering en nie 'n gesprek óór die groepering nie. Dat ons nie op 'n oorgeromantiseerde manier in ons eie veldtogte probeer om vir mense te sê dat ons namens ander wil praat nie, vir ander wil praat, of iets wil regstel namens ander – wat gewoon onvanpas is. Die dae waarin ons namens ander kon praat of 'n kwasi-begrip het van wat reg is, wat regverdig is, is verby. En as ons wil voortgaan om 'n rol in die samelewing te speel, moet ons toegelaat word om oop te wees, te verstaan, te kritiseer, ook deur diegene waaroor ons dink ons praat. Dit is jammer dat ons deur kampanjes en ander veldtogte steeds probeer om namens veral bruin Afrikaanssprekendes te praat. Ons kan, om baie eerlik te wees, namens onsself praat."  

Die dae van die 70's, 80's en 90's is lankal verby sê Van Rooi. “Die uitdagings wat die Universiteit in die gesig staar, is aansienlik anders as die Universiteit se uitdagings selfs in die 90's en die vroee 2000's. Dit is massiewe uitagings. Dis uitdagings wat die Universiteit in 'n baie beter posisie plaas om 'n groter impak te maak in die groter samelewing. Dit sal van ons vra – as ons wil hê dat die instelling die impak moet maak – om hierdie instelling toe te laat om krities om te gaan met die vrae in die Suid-Afrikaanse samelewing en dat hierdie instelling sy rol en mandaat as 'n aanwins vir die Suid-Afrikaanse samelewing sal vervul. "

  • Lees hier meer oor die uitslag van die Konvokasie-verkiesing