Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Go Pro chirurg met die hart van ‘n navorser: Prof Karin Baatjes
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 10/12/2020

​Vroeër vanjaar het chirurg prof. Karin Baatjes die koerante gehaal deur te wys hoedat draagbare GoPro-kameras, wat so gewild is onder buitelug entoesiaste, ook suksesvol tydens operasies gebruik kan word om studente op te lei in chirurgiese prosedures – omdat hulle alles vanuit die presiese visuele perspektief vanaf 'n snydokter self kan volg.

“GoPro's neem hoë-definisie video's deur 'n wyehoeklens af. Chirurge kan daarmee prosedures maklik in die teater, of kleiner prosedures in die spreekkamer, opneem. So met die kamera gemoniteer op die chirurg se kop word alles afgeneem vanuit die chirurg se perspektief. Die video wys alles wat die chirurg self sien en doen. Dit bied studente die geleentheid om uit die chirurg se oogpunt na prosedures te kyk sonder om met steriliteit, die duur van die prosedures of die teateromgewing in te meng," het sy gesê ten tyde van die bekendmaking van 'n navorsingsartikel daaroor in die vaktydskrif The Clinical Teacher.

Die sagte dog besliste skuif van grense kenmerk prof. Baatjes se loopbaan reeds vandat sy as jong student geweet het sy wil 'n chirurg word. Sy't in 1997 as dokter gekwalifiseer en in 2000 reeds met opleiding begin. Sy was 30 toe sy die nodige College of Medicine-eksamen geskryf het, en het 'n jaar later, in  2005, reeds haar MMed in chirurgie voltooi.

“Dis 'n baie groot verantwoordelikheid om op so 'n jong ouderdom die konsultant te wees wat op roep is. Ek sou dit nie vir almal aanbeveel nie," erken prof. Baatjes, wat in De Aar gebore is en in Kraaifontein grootgeword het.

In 2018 het sy die eerste student in byna 30 jaar in die afdeling Chirurgie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch geword om 'n doktorsgraad te verwerf. Dié afdeling is tradisioneel 'n meer kliniese diens- en opleidings gefokusde eenheid as navorsingsgeoriënteerde eenheid.

Oor haar eie besluit om chirurg te word sê sy: “Ek was nog altyd natuurlik geneig om dinge met my hande te doen, en dit was altyd lekker om op daardie manier pasiënte te help. Ek hou van die onmiddellike bevrediging daarvan  om binne enkele dae nadat jy bv  die pasiënt wie se blindederm  uitgehaal het, te sien dat die pasiënt al beter voel. Die teendeel is natuurlik ook waar. As jy 'n fout maak kan jy dit onmiddellik sien."

Administratiewe pligte as assosiaat-professor in die afdeling Chirurgie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, en sedert 2018 hoof van die afdeling vir kliniese anatomie in die Departement Biomediese Wetenskappe, hou haar toenemend uit die operasieteater.

“Die heel lekkerste bly steeds om voor 'n pasiënt te sit en die behandelingsplan uit te dink en deur te praat. Om te sien dat die pasiënt die verskillende aspekte  verstaan, en te verduidelik hoekom ons dinge doen. Ek geniet ook die onderrig van studente, en om dit wat ek nagevors of by ander mense geleer en gehoor het, oor te dra."

Haar PhD-navorsing was oor die gebruik van aromatase inhibitore wat gebruik word om postmenopousale borskankerpasiënte te behandel. Dit kan die beendigtheid van sommiges nadelig beïnvloed, en weens 'n genetiese geneigdheid in party families, hul kanse op osteoporose en beenfrakture verhoog. Haar navorsing is reeds gepubliseer in vaktydskrifte . Dit was 'n direkte uitvloeisel van haar kliniese werk as chirurg in die bors- en endokriene chirurgie-eenheid van Tygerberg Hospitaal.

Dis ook 'n uitvloeisel van haar geneigdheid om dieper te delf en te dink oor die praktiese implikasies van dit wat in die operasiesaal gebeur.

“Net soos dit krities is vir 'n wetenskaplike om buite die grense van die laboratorium te beweeg, is dit vir my as klinikus ook goed om ook wyer te wees as net die pasiënt wat voor my sit. Ek is 'n groot voorstander van individuele sorg, want alle behandeling is nie vir almal toepaslik nie, en ook nie die besluite wat ons oor chirurgie neem of die middels wat ons voorskryf vir borskankerpasiente nie." 

Sy reken sy handhaaf 'n goeie balans tussen wetenskap en navorsing en die opleiding van nuwelinge in die mediese professie.

Dié sentiment word beaam deur genetikus prof. Maritha Kotze, hoof mediese wetenskaplike in die US Afdeling Chemiese Patologie en mede-stigter van die genetikatoetsingsmaatskappy  Gknowmix, wat haar  PhD-studie promotor was .

Oor haar sê prof Kotze: “Karin Baatjes is nie net 'n klinikus nie. Sy is nie net 'n wetenskaplike nie. Sy is 'n fenominale klinikus-wetenskaplike."

Saam het hulle danksy 'n toekenning vanaf die Mediese Navorsingsraad 'n genomika-gebaseerde databasis van borskankerpasiënte opgebou. Dié word sedertdien steeds deur prof. Baatjes en van prof. Kotze se ander PhD-studente op datum gehou, sodat dit ook vir ander navorsers van waarde kan wees. Dis onder meer alreeds deur 'n Nigeriese navorser vir haar doktorale werk gebruik.

Die databasis bevat rekords van borskankerpasiënte wat deel was van prof. Baatjes  se PhD- navorsing studie  by die Tygerberg Akademiese Hospitaal. Van die pasiënte is getoets  of hulle draers van die twee belangrikste borskankergene, BRCA1 of BRCA2, is. Dié gene word gewoonlik gebruik as beginpunt om vas te stel of daar 'n geneigdheid in 'n familie tot bors- en ovariumkanker is, en of leefstyl- en omgewingsinvloede die ontwikkeling en behandeling daarvan beïnvloed.

Ook in die databasis word biochemiese inligting, die uitslae van bloedtoetse en die medikasie wat hierdie pasiënte ontvang het, ingesluit. Dis inligting, sê prof. Kotze, wat voorheen “net in silo's" versamel is.

Een pasiënt se data kan kruisverwys word met 'n ander s'n. Wanneer nuwe pasiënte se inligting in die databasis ingevoer word, kan dit 'n verwantskap aandui tussen hulle genetiese, leefstyl- of behandelingsverwante risikofaktore . Daarvolgens kan dokters besluit om 'n pasiënt weer te kontak omdat sekere gevaarligte flikker, en 'n persoon se risiko vir kanker of ontwikkeling van 'n ander mediese toestand dalk verhoog het. Sulke gevaarligte sluit in sekere komorbiditeite, metastasis of 'n tweede soort kanker. Gebeur dit, sal 'n genetika-raadgewer en mediese wetenskaplikes wat by die Gesondheidsprofessieraad van Suid-Afrika geregistreer is, die nodige ondersteuning bied aan die dokter wat die pasiënt behandel of verwys het vir genetiese studies.

Hulle werk lekker saam, vertel prof. Kotze: “Ons kyk meer geïntegreerd na dinge, en dis ons albei se doel om pasiëntesorg te verbeter."

Sy voeg by: “Genetika toetse het oor die laaste paar jare ontwikkel dat ons al 20 000 gene van die mens kan bekyk. Die waarde daarvan lê egter daarin om dit saam met kliniese aspekte te gebruik om 'n konteks te skep waarbinne jy daardie genetika kan aanspreek."

“As ons as wetenskaplikes en dokters nie saamstaan en 'n beter alternatief skep wat binne die regte konteks gebruik word nie, sal baie dokters en pasiënte mislei word deur die toenemende aanbod van direkte genetika toetsing," glo prof. Baatjes. “Dit moet andersom werk. Jy moet eers sien wat is fout en dan besluit wat is relevant. Geïntegreerde genetika is nodig, en dis nodig dat die studente wat ek oplei ook daaro​​or kennis dra."

 

Vir die volgende paar weke stel ons u voor aan navorsers van die US wat in die jongste uitgawe van Research at Stellenbosch University. verskyn.