Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verklaring: ongerymdhede rakende die geskrewe assessering vir die Wiskunde 2-vraestel
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 07/12/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) bevestig dat personeellede in sy Fakulteit Opvoedkunde die Departement van Basiese Onderwys (DBO) in kennis gestel het van wat hulle as ongerymdhede rakende die geskrewe assessering vir die Wiskunde 2-vraestel van die Nasionale Senior Sertifikaat beskou het.

Die US se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) bestuur die Talentontwikkelingsprogram, 'n eerste geleentheid-universiteitsvoorbereidingsprogram vir leerders wat baie potensiaal in Wiskunde en Natuurwetenskappe toon. Die program het 'n geïntegreerde Leerbestuurstelsel (LBS) bekendgestel om sy ondersteuning aan leerders gedurende die COVID-19-pandemie voort te sit deur middel van aanlyn lesse en voorbereiding vir eksamens, die ontwikkeling van grondslagvaardighede en die deel van hulpbronne.

'n Baie doeltreffende en goedbestuurde deel van die program is 'n WhatsApp-groep wat leerders gebruik vir besprekings met hul eweknieë. Honderde vrae uit handboeke en ou vraestelle word op 'n daaglikse grondslag op hierdie groep bespreek, en slegs huidige lede van die Talentontwikkelingsprogram-kohort het toegang tot hierdie WhatsApp-groep.

Ná afloop van die voltooiing van die bogenoemde vraestel het leerders op die groep die administrateurs in kennis gestel dat twee vrae wat die vorige dag op die groep bespreek is, deel van die Wiskundevraestel was.

(Neem asb kennis dat die hele vraestel nie op die groep gedeel is nie, en die leerders was waarskynlik nie ten tye van die bespreking van die vrae op die groep bewus van die feit dat dit uit die uitgelekte vraestel gekom het nie.)

Personeel van die Fakulteit het onmiddellik hul eie ondersoek van stapel gestuur en as 'n gevolg daarvan die toepaslike personeel by die nasionale en provinsiale kantore van die departement van Basiese Opleiding in kennis gestel via die dekaan van die Fakulteit, prof Mbulungeni Madiba. 

Die DBO het reeds sy dank teenoor die Universiteit uitgesprek vir die feit dat hulle die saak onder die departement se aandag gebring het en vir die ondersteuning wat van die Fakulteit ontvang is.

Die Universiteit werk ten volle saam met die DBO en Valke in hul ondersoeke.