Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die impak van COVID-19 op vroue
Outeur: Hannah Simba & Silindile Ngcobo
Gepubliseer: 02/12/2020

Om die COVID-19-pandemie te oorleef beteken vir vroue meer as om net die siekte te vermy aangesien daar bedreigings is wat wyer as die risiko van infeksie strek, skryf doktorale studente Hannah Simba (Departement Globale Gesondheid) en Silindile Ngcobo (Universiteit van Kaapstad) in ʼn meningsartikel vir News24 (2 Desember).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Hannah Simba & Silindile Ngcobo*

Is die voortslepende COVID-19-pandemie geslagsneutraal? Nee. Ons glo dat oorlewing van die huidige pandemie vir vroue meer beteken as om net die siekte te oorleef aangesien daar bedreigings is wat wyer as die risiko van infeksie strek.

Die verskille in hoe vroue tydens 'n pandemie vaar in vergelyking met mans, is hoofsaaklik te wyte aan die bestaande ongelykhede en sosiale ongelykhede, wat vererger word deur die pandemie, eerder as deur biologie. Ongelykhede wat deur uitbrake veroorsaak en vererger word, laat vroue in 'n meer kwesbare posisie. Om dit in perspektief te stel, vroue maak 70% uit van die personeel in gesondheidsorg en maatskaplike dienste. Dit plaas hulle outomaties aan die voorpunt tydens 'n pandemiese reaksie, en stel hulle dus aan 'n groter risiko vir infeksie bloot.

In 'n studie wat geestesgesondheidsuitkomste van gesondheidswerkers in die voorste linie in China ondersoek het, was vroue en verpleegsters meer geneig om depressie, angs, slapeloosheid en ontsteltenis te ervaar.

Dit is waar dat vroue tydens krisisse, epidemies en pandemies geneig is om meer versorgingsverantwoordelikhede as gewoonlik te vervul, dikwels ten koste van hul gesondheid. Veral in die COVID-19-krisis, waartydens gesinne in sommige gevalle tuis moet bly in self-isolasie of gedurende bewegingsbeperkings, kan vroue oorwerk wees en te veel doen soos wat hulle meer huishoudelike sorg bied. Hierdie ekstra las kan hulle ook weghou van betaalde werk. Die verantwoordelikheid om die siekes tuis te versorg, val ook dikwels meer op die vroue. In sommige gevalle vervul hulle 'n dubbele rol as versorger by die werk en tuis.

Ons het nuusberigte gesien oor hoe vroue ook aan 'n groter risiko vir meer geweld en mishandeling tydens die pandemie blootgestel is. Die inperking- en isolasiemaatreëls wat in baie lande ingestel is, stel vroue aan 'n hoër risiko van huishoudelike en seksuele misbruik bloot, aangesien hulle waarskynlik meer tyd met hul mishandelaars deurbring. Die Verenigde Nasies se eenheid vir geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue, ook bekend as UN Women, het selfs na hierdie geweld as 'n skadupandemie verwys. Daar is dus ʼn groter behoefte aan beskerming vir vroue teen mishandeling tydens die pandemie. Daar is steeds ʼn gebrek aan studies oor waaktoesig en evaluering van effektiewe intervensies vir diegene wat aan die risiko van gesinsgeweld tydens die pandemie blootgestel is.

Die COVID-19-krisis hou ook 'n bedreiging vir vroue se voortplantingsregte in. Seksuele en voortplantingsgesondheidsdienste bly belangrik, selfs tydens pandemies. In sommige lande word dit egter misgekyk namate befondsing na pandemiese reaksies herlei word. Dit het ernstige gevolge vir die gesondheid (insluitend geestesgesondheid) vir vroue wat hierdie dienste benodig. Daar word voorspel dat miljoene vroue en meisies weens COVID-19 van gesinsbeplanningsdienste ontneem kan word.

Asof dit nie genoeg is nie, is dit meer waarskynlik dat vroue en meisies voedselonseker sal word of bly. Volgens die wêreldvoedselprogram sal die aantal mense wat 'n voedselkrisis ondervind, verdubbel weens COVID-19. Die program het teen 'n hongerpandemie gewaarsku. Vir vroue en meisies kan dit nog erger gevolge hê, want hulle maak reeds 60% uit van diegene wat 'n voedselkrisis ondervind.

Een ding wat ons nie moet vergeet nie, is dat die huidige pandemie nie uniek is wat vrouekwessies betref nie. Vorige uitbrake soos die Zika-virus (ZKV), Ebola-virussiekte (EBV) en die griep-pandemie van 1918–1919, het getoon hoe geslagsnorme, onvoorbereide gesondheidstelsels, ontoeganklike gesondheidsorgdienste en magsdinamika die kwesbaarheid van vroue tydens 'n krisis kan verhoog.

In die ZKV-uitbraak het magsdinamika tot die uitsluiting van vroue by besluitneming tot gevolg gehad. Dit het hul outonomie geskend en hul seksuele- en voortplantings gesondheidsregte geondermyn. In die EBV-uitbraak het geslagsrolle vroue blootgestel aan 'n hoë risiko vir infeksie deur middel van versorgings- en begrafnisaktiwiteite. Gesondheidstelsels met ʼn lae veerkragtigheid het daartoe gelei dat vroue nie betyds toegang tot gesondheidsorgdienste kon kry nie. Tydens die griep-pandemie het openbare gesondheidsamptenare reaksiestrategieë soos isolasie en kwarantyn geïmplementeer om oordraging te bekamp, wat meer verantwoordelikheid vir vroue met versorgingsrolle tuis beteken het en dus 'n groter risiko vir infeksie.

Reaksies en strategieë

Watter openbare COVID-19-gesondheidsreaksies en -strategieë is nodig om vroue minder kwesbaar te maak tydens die pandemie?

ʼn Goeie plek om te begin, sal wees om die mate waartoe die pandemie vroue raak te erken. ʼn Volgende stap sou wees om geslagsnorme en die behoefte aan gedeelde verantwoordelikhede tuis en in die werkplek aan te spreek. Die betrokke owerhede moet die gesondheid van werknemers in die voorste linie prioritiseer, insluitende geestesgesondheid vir alle vroue.

Hulle moet seksuele voortplantingsgesondheidsregte vir alle vroue integreer, moniteringstrategieë in plek stel, en akkurate en toeganklike gesinsbeplanningsonderrig asook al die nodige gesondheidsorgdienste bied wat vroue nodig het.

Wat ook belangrik sal wees, is om toesig- en beskermingstelsels vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te inkorporeer en by te hou. Daar moet ook duidelike aksieplanne wees om vroue in die informele arbeidsektor te help wanneer daar bewegingsbeperkings met ekonomiese gevolge is.

Een aspek wat reaksies en strategieë doeltreffender sou maak, is die aanstelling van vroue in leiers- en bestuursposte vir nasionale taakspanne en wêreldwye organisasies.

Die tyd het aangebreek dat regerings daad by die woord voeg en voortgesette wetenskaplike navorsing en samewerking oor die kwessies wat in hierdie artikel genoem word prioritiseer, ondersteun en befonds.

Hierdie aanbevelings kan ons help om die vyfde Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit wat geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue teen 2030 ten doel het, te bereik.

​*Hannah Simba is 'n doktorale student in die Departement Globale Gesondheid by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Silindile Ngcobo is 'n doktorale student aan die Universiteit van Kaapstad. Hierdie is 'n hersiene weergawe van hul onlangse artikel in Frontiers in Global Women's Health.