Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
M-tesis in belasting van US wen SAIPA-kompetisie
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 18/11/2020

Frances Burger, 'n oudstudent van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, is onlangs aangewys as die wenner van die meestersgraadkategorie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekenmeesters (SAIPA) se 2020-belastingtesiskompetisie.

Haar tesis het gehandel oor die grondwetlikheid van derdepartyaanstellings wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) as 'n invorderingsprosedure in diens geneem word.

Die SAIPA-kompetisie is daarop gemik om goeie navorsing in rekeningkunde en belasting te bevorder en alle Suid-Afrikaanse universiteite kon daaraan deelneem. Burger se studieleier, prof Linda van Heerden van die Skool vir Rekeningkunde, het haar tesis vir die kompetisie ingeskryf.

Burger het die graad BCom (Regsgeleerheid) in 2011 en haar LLB-graad in 2013 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy het haar klerkskap by Miller Bosman Le Roux Prokureurs in 2015 voltooi en daarna 'n loopbaan in belasting gevolg.

In 2016 het sy met haar meestersgraadstudie in Belasting begin en dit in 2019 onder leiding van prof Van Heerden voltooi.

“Met my agtergrond in siviele litigasie het ek 'n vergelykende studie tussen derdeparty-aanstellings ('n belastinginvorderingsprosedure) en beslagleggingsbevele ('n siviele prosedure-invorderingsmaatreël soortgelyk aan dié van derdeparty-aanstellings) gedoen," het Burger verduidelik. “Die geldigheid van beslagleggingsbevele is reeds ondersoek en het daartoe gelei dat die konstitusionele hof die proses waarvolgens beslagleggingsbevele uitgereik word, ongeldig verklaar het.

“Teen hierdie agtergrond het my navorsing die vraag gevra of hierdie uitspraak eweneens van toepassing moet wees op derdeparty-aanstellings as gevolg van die ooreenkomste tussen die twee prosedures."

Burger het gesê haar navorsing het ten doel om die belastingbetalers van Suid-Afrika te beskerm.

“Hoewel derdeparty-aanstellings vir die invordering van uitstaande belasting meriete het, moet dit op so 'n wyse gedoen word dat daar voldoende veiligheidsmaatreëls bestaan wat Suid-Afrikaanse burgers kan beskerm."

Dié voormalige leerder van Strand Hoërskool het prof Van Heerden geloof vir haar ondersteuning  gedurende haar meestersgraadstudie.

“Sy het my voortdurend uitgedaag en gelei om 'n tesis van hoë gehalte te lewer," het sy gesê.

SAIPA het haar gelukgewens met haar “briljante" tesis wat onderwerp is aan “streng beoordeling deur 'n paneel deskundiges op die vakgebied".

“Dat jou tesis bekroon is, is nie net 'n bewys van die gehalte van jou navorsing nie, maar ook van die kritieke belangrikheid van die konsepte wat jy aangespreek het.

“Met die Rekeningkunde-tesiskompetisie van SAIPA wil ons die gehalte van navorsing in rekeningkunde en belasting bevorder. Jou uitstekende voorlegging het ongetwyfeld geweldig bygedra tot die verwesenliking van daardie visie," het die rekenmeestersliggaam gesê.

Burger, wat onlangs tot assosiaat van die ASL-groep bevorder is waar sy advies- en belastingkonsultasiedienste lewer, het die volgende oor haar prestasie gesê: “Om hierdie toekenning te ontvang is 'n groot en onverwagse eer. Ek hoop dat dit as inspirasie dien vir ander wat 'n loopbaan in belasting wil volg."

Sy het hulde gebring aan haar man, Hanno, haar ouers en haar skoonouers wat haar deur die hele studietydperk ondersteun het en “my altyd aangemoedig het wanneer ek dit die nodigste gehad het".

“Ek wil ook my mentor, Nico le Roux van Miller Bosman Le Roux Prokureurs, bedank. Hy was die direkteur onder wie se toesig ek my klerkskap voltooi het. Nico het my potensiaal gesien en bevorder en my aangemoedig om die beste praktisyn moontlik te wees. Dit was sowaar 'n voorreg om saam met hom te werk," het sy gesê.

  • Foto van Frances Burger verskaf.