Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vyf wyne uit universiteitskelder ontvang Veritas-medaljes
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 17/11/2020
​Die vyf wyne wat vanjaar deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Welgevallen Wynkelder vir die 30ste Veritas-toekennings ingeskryf is, het almal silwer medaljes ontvang.

Die Veritas-toekenningsgeleentheid word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging aangebied. Vanjaar is 1300 inskrywings vir die toekenningsgeleentheid in die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynindustrie met die langste geskiedenis ontvang.

Die wyne uit die Welgevallen Wynkelder wat medaljes ontvang het is Die Laan Sauvignon Blanc 2019, Die Laan Merlot 2018, Die Laan Merlot Reserve 2018, Die Laan Malbec 2018, en die Maties 2018 versnit.

Wynmaker Riaan Wassung is 'n alumnus van die US se Departement Wingerd- en Wynkunde en is sedert 2004 by die Welgevallen Kelder betrokke.

Die kelder maak deel uit van die US Fakulteit Agriwetenskappe. Die US is die enigste Suid-Afrikaanse universiteit wat wingerd- en wynkunde as studieveld aanbied. Daarby lewer die US ook deur verskeie verwante inisiatiewe 'n belangrike bydrae op navorsingsgebied.

Vir bestellings, kontak Wassung by winesales@sun.ac.za of 021 808 2925 of besoek die Welgevallen Kelder tydens werksure. Dis geleë tussen Paul Roos Gimnasium en Coetzenburg op Stellenbosch. Vir meer inligting, besoek www.facebook.com/DieLaanWines.

 

Foto:

Van die wyne wat medaljes by die Veritas-wyntoekennings verower het.​​