Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Dimitri Erasmus het ‘deernisvolle, beslissende leierskap gebied’
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
Gepubliseer: 10/11/2020

Toe dr Dimitri Erasmus 12 was, het hy die tweede van sy twee broers verloor – albei op die ouderdom van 14 en in twee afsonderlike voorvalle. In die beroering wat op hierdie tragedies gevolg het, het ʼn algemene praktisyn die gesin ondersteun. Dit was hoofsaaklik as gevolg van die empatie van dié dokter dat die jong seun in graad 9 op ʼn loopbaan in geneeskunde besluit het.

Hy het getrou aan daardie besluit gebly en nadat hy aan die Paterson-hoёrskool in Port Elizabeth gematrikuleer het, het hy virologie (MSc) en geneeskunde (MBChB) aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Dit was as uitvoerende hoof van die Tygerberg-hospitaal dat hy onlangs afgetree het, ná ʼn lang en vervullende loopbaan in geneeskunde.

Daar was talle oomblikke van trots en plesier langs die pad, waaronder die 14 jaar in private praktyk in Mitchell's Plein – van middel 1989 tot vroeg in 2004. “Ek het werklik baie geleer oor pasiёntgesentreerdheid en om vir mense om te gee," onthou Erasmus.

In hierdie tydperk het hy ook algemene praktisyns in komitees van beide streeks- en nasionale professionele liggame verteenwoordig, en in 2001 as ʼn nasionale raadslid en waarnemer in die raad van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) gedien.

Anderkant private praktyk

“Dit is toe dat ek besef het ek wou uit ʼn solo-praktykomgewing kom en ʼn loopbaan in ʼn organisasie nastreef," sê Erasmus. Om hom vir so ʼn rol voor te berei, het hy in 2002 deeltyds ʼn MBA aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Besigheidskool begin doen.

Daarna het hy aansoek gedoen vir ʼn pos by die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid (DvG) en in Februarie 2004 mediese superintendent van die Rooi Kruis-oorloggedenkhospitaal vir Kinders geword. Net anderhalfjaar later is hy as die uitvoerende hoof aangestel.

“Die oorgang van kliniese dokter na bestuurder was heel maklik," vertel Erasmus. Sy private praktyk het hom baie van bestuursbeginsels geleer. En sy passie vir kinders het hom veral geskik vir die Rooi Kruis gemaak (hy het dit eens selfs oorweeg om ʼn pediater te word en sy bynaam by sommige pasiënte in Mitchell's Plein was die “kinderdokter").

Erasmus het talle aangename Rooi Kruis-herinneringe. “My onvergeetlikste ervaring daar was om te sien hoe die hospitaal in status en infrastruktuur groei, asook hoe mense werklik in die versorging van kinders belang stel."

In 2010 het ʼn uitbreking van masels en diarree in die provinsie ʼn groot uitdaging gebied. Erasmus was betrokke by die DvG se pogings om ʼn respons te ontwikkel. “Dit was ʼn onvergeetlike oomblik, maar ook baie emosioneel – om kinders so siek te sien word," onthou hy. “Dit het my meer vasbeslote gemaak om seker te maak dokters het alles wat hulle nodig het om vir pasiënte te sorg."

Van Rooi Kruis na Tygerberg

Sy skuif na die Tygerberg-hospitaal in Augustus 2010 het nuwe uitdagings gebied. By die Rooi Kruis was daar byvoorbeeld ʼn goed gevestigde trust wat fondse vir infrastruktuur-opknapping kon insamel. Hierteenoor is hy by Tygerberg met verkrummelende infrastruktuur gekonfronteer. Om hierna om te sien het een van sy hoofprioriteite geword.

Voorts het hy gesonde verhoudings begin bou, veral met klinici en met die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). “Ek glo vennootskappe is nodig om gesondheidsdienste in ʼn akademiese omgewing te lewer," verduidelik Erasmus.

Sy derde prioriteit was om op algemene spesialisdienste te fokus en die akademiese opleidingsplatform in die oostelike metropool te versterk: “Hulpbronbeperkings was nog altyd ʼn groot probleem in die openbare sektor."

Erasmus het al drie take met merkwaardige sukses aangepak. In 2018 was hy lid van die DvG-span wat R1,9 miljard oor tien jaar van die provinsiale tesourie bekom het vir infrastruktuuropgradering by die Tygerberg-hospitaal, wat tans gedoen word.

Die span het ook ʼn verbintenis bekom tot die bou van twee hospitale: die Tygerberg-sentraalhospitaal (op die huidige terrein) en die Tygerberg-streekshospitaal (in die Belhar-area). “Dit was nogal ʼn reuseprestasie," sê Erasmus. “Ons hoop dit sal in die volgende 10 tot 12 jaar gebeur."

Vennootskap met FGGW was die sleutel

Hy het ook hoogs doeltreffende vennootskappe ontwikkel: “Die lonendste ondervinding was die stewige, opregte en blywende vennootskap tussen die hospitaal en die Fakulteit, gegrond op wedersydse vertroue. Ek sal dit altyd onthou.

“Die Dekaan (prof Jimmy Volmink), sy span en ek het goed saamgewerk. Ons deure was altyd oop vir mekaar. Die Fakulteit het homself nooit as apart van die Tygerberg-span gesien nie en die Tygerberg-span het hulleself nooit as apart van die Fakulteit gesien nie."

Erasmus voeg by: “Die Fakulteit het ʼn mandaat om navorsing te doen en te verseker dat opleiding plaasvind; die DvG moet dienste bestuur en leergeleenthede vir gesondheidsorg-beroepslui verskaf. Saam, as ʼn span, het ons dit as ʼn gesamentlike mandaat beskou. Ons het altyd die pasiënte en diegene in opleiding in die sentrum geplaas."

Erasmus verwys na die onlangse hersiene bilaterale ooreenkoms tussen die DvG en die Fakulteit oor dienste en opleiding as ʼn voorbeeld: “Ons was nogal sensitief vir die behoeftes van albei partye. Ons het dieselfde visie en siening gehad. Ons wou die beste doen wat ons kon – nie net vir pasiënte nie, maar ook vir die opleiding van gesondheidsorg-beroepslui."

Erasmus is veral in sy noppies met die vordering wat sedert 2017 gemaak is om die akademiese opleiding- en diensteplatform in die oostelike metropool te versterk wat ʼn reeks algemene spesialisdienste betref: “Dit was nogal ʼn enorme prestasie."

Volmink verleen graag erkenning aan die belangrikheid van Erasmus se leierskap oor die afgelope dekade: “Die Tygerberg-hospitaal is ʼn onontbeerlike platform vir die verskaffing van noodsaaklike gesondheidsorg in die Wes-Kaap en verder. Dr Erasmus se deernisvolle en beslissende leierskap van hierdie voortreflike instelling het ʼn betekenisvolle en verreikende impak op die gehalte van pasiëntsorg gehad.

“Hierdie eienskappe was veral ooglopend tydens die Covid-19-stuwing in 2020 toe hy moeilike besluite moes neem oor die eskalering van intensiewe en kritiekesorgdienste en die de-eskalering van ander dienste." 

Volmink voeg by: “Ons erken ook die belangrike rol wat hy gespeel het om ons Fakulteit in staat te stel om sy doelwit van die verbetering van gesondheid en gesondheidsgelykheid deur opleiding, navorsing en diens te bevorder. Dit was ʼn ongelooflike plesier en voorreg om met hom as ʼn vennoot te werk. Ek sal ons maandelikse cappuccino- en opvangsessies mis!"

Dr Therese Fish, wat nou saam met Erasmus in haar hoedanigheid as Vise-dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak gewerk het, kyk ook met groot tevredenheid na sy termyn as uitvoerende hoof terug.

“Sedert Dr Erasmus uitvoerende hoof geword het, het die verhouding met die Fakulteit betekenisvol versterk," merk sy op. “Ons is in ʼn veel beter ruimte as voor sy koms. Ons het baie moeilike tye beleef wat betref begrotingsbeperkings en kwessies rondom diskriminasie, maar die kaliber van sy leierskap het ons gehelp om van daardie moeilike kwessies te bestuur. Hy's regverdig; hy's beslis."

Fish voeg by: “Ons het albei ʼn filosofie oor die belangrikheid van goeie vennote, en hoe jy die vennootskap bestuur. Die vennootskap (tussen die Hospitaal en die Universiteit) is op gemeenskaplikheid gegrond. Ons is almal verbind tot die versekering van goeie diens en goeie menslike hulpbronne. Dit is die grondliggende beginsel van die vennootskap.

“Dis asof ons getroud is en nooit kan skei nie. Selfs al het ons moeilike tye, moet ons daaraan werk. Ons moet dit maak werk as ons dienste en gesondheids-beroepslui aan ons bevolking wil voorsien."

Dit is duidelik dat Erasmus erg gemis sal word. “Ons het altwee dieselfde filosofie oor om goed te doen en om te sien na die mense van hierdie land, asook om terug te gee ná die geleenthede wat ons gehad het," sê Fish. “Ek sal hom daarvoor mis, asook vir die werk wat ons saam gedoen het."


Onderskrif: Dr Dimitri Erasmus. Foto deur Stefan Els.