Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“Ons moet ouers opvoed om ouers te wees”: Dr Tasneemah Cornelissen-Nordien
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 05/11/2020

​Te veel verantwoordelikheid word op die skouers van kinders geplaas deur te verwag dat hulle seksuele uitbuiting moet aanmeld. In 'n ideale wêreld moet dit nie eens nodig wees om hulle te moet opvoed oor hoe om alarm te maak en weg te hardloop as hulle hul in ongemaklike, potensieel bedreigende situasies bevind nie. Voorkomende opvoeding en intervensiestrategieë moet eerder op ouers, versorgers en ander volwassenes gerig wees om hulle deeglik bewus te maak van hul rolle en verantwoordelikhede as beskermers en voogde van kinders.

"Dit is onregverdig om van kinders te verwag om hulself te moet beskerm," sê dr. Tasneemah Cornelissen-Nordien van die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch.

By haar huis in die Paarl, te midde van ons aanlyn onderhoud, lig sy haar eie driejarige vertroostend op haar skoot.

“Maak nie saak wat jy vir hulle leer nie, kinders vertel nie, selfs nie eens as jy vir hulle sê hulle moet nie. Daarom is dit baie moeilik om hulle te beskerm. Daarom moet ons fokus op die opvoeding van volwassenes," onderstreep sy. “Kinders moet speel, nie intervensie nodig hê of geleer word om na iemand te hardloop of om iemand te vertel dat iets sleg gebeur het nie."

As deel van haar onlangse doktorsgraad in maatskaplike werk, het dr. Cornelissen-Nordien gefokus op bemagtigingsdienste wat aangebied word deur nie-winsgewende organisasies in die Wes-Kaap wat werk met kinders wat seksueel mishandeling is. Haar onderhoude met rolspelers het weereens beklemtoon hoe groot die behoefte aan sulke dienste is, hoe min en onder druk die beskikbare hulpbronne by hierdie organisasies is, en hoe moeilik dit logisties en finansieel vir versorgers is om die gebruik van sulke dienste vir jong slagoffers te prioritiseer.

"Ons het meer dienste nodig, meer maatskaplike werkers," glo dr. Cornelissen-Nordien.

Ons internet-gesprek vind plaas in dieselfde week dat twee kleuters, drie en vier jaar oud, helder oordag enkele kilometers van dr. Cornelissen-Nordien se huis in die Paarl in naburige Wellington verdwyn het. Hulle het buite gespeel terwyl hul versorger na bewering 'n middagslapie geneem het.

"Dit is die volwassenes in hul wêreld, diegene wat veronderstel is om hulle te beskerm, wat ons kinders faal," beklemtoon sy weer en weer. “Ons het veilige ruimtes vir ons kinders nodig. In plaas daarvan is daar bendelede wat deur hul speelgrond hardloop. Ons faal ons kinders klaaglik as ons dink dat hulle beveilig word as ons diefwering by hul klaskamervensters aanbring. Al wat gebeur, is dat hul speelgronde omhein word, en al kleiner word. "

“As ek kon droom, sou ek daarop wou gefokus om ouers op te voed om ouers te wees. Nie goeie ouers nie, maar net ouers. Om hulle te help verstaan dat hul belangrikste taak in die wêreld is om 'n veilige ruimte vir hul kind te bied. Ek wil dinge 'n stap verder neem deur volwassenes in te lig oor hul verantwoordelikheid teenoor die beskerming van kinders. So sal mens die siklus van mishandeling kan breek."

Sy sê dat seksuele misbruik van kinders 'n wêreldwye probleem is, maar veral in Suid-Afrika algemeen en kommerwekkend is vanweë die land se unieke sosio-ekonomiese omstandighede.

"Dit gaan nie oor seksuele plesier nie, maar oor die uitoefening van mag, selfs al is dit teen die kwesbaarste," verduidelik dr. Cornelissen-Nordien.

Haar navorsing onder diensverskaffers in die Wes-Kaap toon dat ondanks die groot hoeveelheid media-aandag wat dit kry, handel in kinders en die wegraap van minderjariges deur vreemdelinge uiters selde voorkom. Voorvalle van die seksuele mishandeling van kinders, daarenteen, word heelwat minder gerapporteer as wat dit in der waarheid voorkom. Sy reken dis omdat die letsels wat dit laat, dikwels ongesiens kan bly.

Die oortreders is dikwels mense wat “kinders reeds hul hele lewe lank ken".

“Dit is altyd mense wat aan hulle bekend is, mense wat hulle met hul lewens vertrou. Dit is die oom, die tante, ouer broer, die imam, die priester, almal mense wat kinders moet kan vertrou," sê die moeder van twee jong kinders wat erken dat sy om daardie rede seker 'n oorbeskermende ouer is.

Navorsing het bevind dat seksuele mishandeling dikwels reaktief van aard is. Dikwels maak diegene wat kleintyd so mishandel is, later hulself ook daaraan skuldig.

“Op 'n stadium was hierdie oortreders ook kinders. Wat het in hul lewens gebeur? Dit is 'n bose kringloop, want êrens het 'n volwassene hulle in die steek gelaat, en nou doen hulle net wat hulle daaruit geleer het. Ek maak nie verskonings vir hulle nie, maar weet tog dat gedrag aangeleer word. Ja, daar is manne en vroue wat bo hul omstandighede uitstyg en nie reaktiewe oortreders word nie. Maar op een of ander manier het die stelsel hulle op 'n mikro- en makrovlak gefaal, weens verskeie redes. Kinders woon in huise waar hulle dinge sien wat hulle nie moet sien nie. Kinders word aangesê om die huis te verlaat en buite sonder toesig te gaan speel."

Sy is veral bekommerd oor hoedat adolessente wat in sommige gemeenskappe grootword, verwaarloos word omdat hulle ouers en versorgers nie daar is om ondersteuning en toesig te verleen nie.

“Ons leef in 'n droomwêreld as ons dink dat adolessente kinders nie toesig nodig het nie. Hulle het dit waarskynlik selfs meer nodig, en kom dikwels in situasies wat tot seksuele uitbuiting lei."

Sy onthou sommige van die sake wat sy moes hanteer terwyl sy in die hofstelsel gewerk het, en die tienermeisies wat verkrag is aan wie sy ondersteuning binne die regstelsel moes verleen het.

“Sommige was om 2 uur die nag by sjebeens. Wat doen jy daar op daardie tyd van die nag? Waar is jou ouers? Sekerlik, 'n versorger, iemand moet bekommerd wees as 'n kind daardie tyd van die nag nie tuis is nie, en dan na hulle gaan soek!"

Dit is 'n moeilike wêreld waarin dr. Cornelissen-Nordien haar bevind, maar sy sê maatskaplike werkers reeds as studente geleer word om hul ervarings terug te neem na die klaskamer of kantoor, en dit daar te bespreek en by ander te hoor hoe om dit te hanteer.

"Ons kry te doen met die werklike werklikheid van wat in Suid-Afrika gebeur."

Die afgelope 11 jaar is dr. Cornelissen-Nordien reeds dosent in die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch. Voorheen het sy by organisasies soos Resources Aimed to the Prevention of Child Abuse and Neglect (RAPCAN), Big Brothers Big Sisters South Africa en Youth Outreach gewerk.

Sy het in Alra Park naby Nigel grootgeword en was 'n eerste generasie student wat in 2001 suksesvol haar BA in Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het.

Die praktiese kant van die werk, waaraan studente reeds vanaf hul eerste jaar blootgestel word, het onmiddellik tot haar gespreek.

Half tersyde voeg sy by dat “dinge destyds nie so sleg was soos vandag nie."

“As student het die besef by my gegroei dat daar mense met groter probleme as ek is, en ek is in staat om te help om 'n verskil in hul lewens te maak. Daar was altyd die absolute tevredenheid na ek met 'n kliënt gewerk het, selfs al het ek geweet daar wag nog 'n verslag wat geskryf moes word. "

Tussendeur 'n aantal jare in die veld werk, het sy danksy 'n uitruilprogram 'n MA aan die Universiteit van Göteborg in Swede voltooi. Dr. Cornelissen-Nordien​ het in 2011 as dosent by haar alma mater aangesluit en in 2019 haar PhD onder toesig van haar mentor, prof. Sulina Green, behaal.

Deesdae lei sy studente op oor die professionele verhouding tussen kliënte en maatskaplike werkers, oor groepwerk binne maatskaplike werk en intervensies by die jeug. Sy koördineer en implementeer ook die opleiding vir vierde jaar-studente

'Ek het nog nooit die behoefte gevoel om na-uurs buite my werk bevrediging te probeer v​ind deur byvoorbeeld vrywilligerswerk te doen nie. My werk vervul daardie rol. My werk gaan daaroor om mense te help. "



Vir die volgende paar weke stel ons u voor aan navorsers van die US wat in die jongste uitgawe van Research at Stellenbosch University.​ verskyn.