Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Soms het jy net iemand nodig om in jou te glo.
Outeur: Dr Janina Theron
Gepubliseer: 03/11/2020

Soos meeste van ons studente se verhale, begin Mitch s'n met die dag wat hy sy martiekresultate ontvang het. Dit sou hom nie toelaat om sy drome na ta jaag – en gekies te word vir die studies van sy keuse aan die Universiteit van Stellenbosch – nie. Tydens sy hoërskoolloopbaan in Robertson het Mitch kennis gemaak met Bewaringsekologie deur die Graham en Rhona Beck Vaardigheidsentrum.  Hy het dadelik aanklank gevind by hierdie veld, en het die Stellenbosse Fakulteit van AgriWetenskappe gekontak opsoek na 'n alternatiewe roete na tersiêre opleiding. Dit is toe wat Monika Basson by AgriWetenskappe vir Mitch ingelig het oor die SciMathUS program. Mitch erken summier hoe dankbaar hy was vir hierdie aanbeveling; dit was die begin van die pad wat hom sou lei na waar hy vandag is.

Soos hy terugkyk op sy SciMathUS-jaar in 2011, noem Mitch dat dit 'n besonderse positiewe effek op hom gehad het om 'n huis met 'n klompie van sy klasmaats te deel. Hy skryf baie van sy sukses by SciMathUs toe aan die kameraadskap en ondersteuning wat hy en sy eweknieë ervaar het. Sy akademiese prestasies aan die einde van hierdie jaar het hom beloon met 'n genoegsame merietebeurs en hy het sodoende in 2012 begin met sy studies by die Fakulteit van AgriWetenskappe. Ondanks uitdagings langs die pad, het Mitch in sy derdejaar 'n AgriSeta beurs ontvang. Dit is weer moontlik gemaak deur die aanbeveling van Monika Basson, wat Mitch ondersteun het vanaf die begin van sy Universiteitsloopbaan.

Mitch het gegradueer in 2019 nadat hy sy finalejaar in 2018 afgehandel het, waarna hy gelukkig was om 'n kort internskap te Boschendal los te slaan. Hy het later in dieselfde jaar 'n posisie by die Flower Valley Conservation Trust aanvaar en na Gansbaai verhuis. Hy het daar in Junie 2019 as 'n assistent-plaasbestuurder begin en is later die pos as uitbreidingsbestuurder van die groter Overberg-streek aangebied. Mitch werk noú saam met die Departement van Omgewingsake en sy verantwoordelikhede sluit onder andere die bestuur van spanne in volhoubare oes in, asook die skoonmaak van uitheemse en indringerplantspesies in hierdie gebied.

Mitch3.jpg 

​Alhoewel hy nie seker is wat die toekoms vir hom inhou nie, is Mitch tevrede met sy lewe en sy werk. Hy noem veral hoe bly hy is om in die natuur te werk. Wanneer hy nadink oor die rol wat SciMathUS gespeel het in sy ontwikkeling as student en persoon, sê hy hartstogtelik: “Dit was meer as die leer van die vakke, Wiskunde en Fisiese Wetenskappe. Hierdie program het my toegerus met vasberadenheid en kritiese denkvaardighede om anders na die wêreld te kyk."

Mitch getuig van die feit dat deelname aan die SciMathUS-program hom bekendgestel het aan die lewenswyse vir hoër onderwys en hom gehelp het om sy studies met baie meer selfvertroue en baie motivering te voltooi. Hy is die personeel van SciMathUS dankbaar dat hulle hom toegerus het met vaardighede wat hy selfs as 'n jong, gegradueerde nog gebruik. Hy wil uitdruklik sy dank oordra aan me. Monika Basson wat hom bekendgestel het aan die program, asook dr Natasja Brown by AgriWetenskappe, wie se deur altyd vir hom oopgestaan het. Die bogenoemde persone het 'n belangrike rol gespeel in die vorming van die persoon wat hy vandag is.