Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Boodskap van hoop by jaarlikse Russel Botma-lesing
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 21/10/2020


“Prof Russel Botman was van die begin tot die einde die vergestalting van 'n intergeloof-pedagogie van hoop. Sy lewe was hoop in aksie en hy het dit in die vooruitsig gestel dat hierdie pedagogie van hoop deel van die Universiteit Stellenbosch moes wees."

Dít was die boodskap van prof Xolile Simon, professor in Missiologie by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie, wat die Russel Botman-gedenklesing op 19 Oktober 2020 aanlyn gelewer het.

Die jaarlikse Russel Botman-gedenklesing word aangebied deur die Fakulteit Teologie in samewerking met die Kuratoria van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, asook die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie.

Die lesing word aangebied ter viering van die lewe van wyle prof Hayman Russel Botman, voormalige Rektor en Visekanselier van die US en sy visie vir Teologiese Geregtigheid. Die onderwerp van vanjaar se lesing was “Geloofsdiversiteit as Sosiale Geregtigheid: 'n Intergeloof-pedagogie van hoop tydens die COVID-19-pandemie."

In sy lesing het Simon Botman se visie van hoop, veral ten opsigte van die US om 'n transformatiewe en inklusiewe universiteit vir almal te word, van nader beskou. Hy het ook al die werk wat Botman in sy tyd by die US gedoen het, gevier, en het veral op die rol wat hy in die skep van 'n intergeloof-universiteit gespeel het, gefokus.  

“Net soveel as wat Botman 'n beroep om hoop gedoen het, het hy ook Ubuntu deel van sy lewenswerk gemaak. Russel het die Universiteit Stellenbosch uitgedaag om Ubuntu 'n werklikheid te maak en om alle gelowe te omarm. Die taak nou, veral gedurende hierdie tyd van die COVID-19-pandemie, is dat die US werklik die werk doen en help om Botman se visie van hoop 'n werklikheid te maak," het Simon gesê.

Ashwin Afrikanus Thyssen, PhD-kandidaat en tutor in die US se departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie, het in reaksie op die lesing opgemerk dat hierdie pandemie tot 'n behoefte aan Botman se intellektualisme gelei.

“Deur in diepte in te gaan op Botman se Pedagogie van Hoop, het Simon ons herinner aan die moeilike en kritieke werk wat nog gedoen moet word om 'n universiteit te skep wat diversiteit in al sy vorme vier. Ons het veral gedurende hierdie pandemie 'n multi-kulturele en geslagtelike dialoog nodig sodat ons sy nalatenskap en visie vorentoe kan neem. Simon se lesing herinner ons ook daaraan dat ons die hoop en Ubuntu is wat Botman in die vooruitsig gestel het," het Thyssen gesê.

Dr Beryl Botman, 'n alumna van die Fakulteit Opvoedkunde en weduwee van prof Botman, het ook die ontvangers van die Russel Botman-beursfonds vir 2020 aangekondig.

Sy het 'n beroep op mense gedoen om tot die fonds by te dra sodat Botman se “droom van 'n regverdige en gelyke samelewing" waar talentvolle studente die geleentheid tot hoër onderwys kan kry, bewaarheid kan word.

Om tot die fonds by te dra, besoek https://russelbotman.com/. ​