Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale- en omgewingsgeregtigheid kan help om armoede uit te wis
Outeur: Chris Jones
Gepubliseer: 19/10/2020

Die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Armoede is Saterdag (17 Oktober) gevier. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick bespreek dr Chris Jones (Eenheid vir Morele Leierskap) die belangrikheid van sosiale- en omgewingsgeregtigheid om armoede uit te wis.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Chris Jones*

Die wêreld gedenk jaarliks op 17 Oktober die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Armoede. Die tema vir 2020 is “Gesamentlike aksie om maatskaplike en omgewingsgeregtigheid vir almal te bereik".

In die lig van die toenemende bewustheid van presies hoe multidimensioneel armoede is, kan hierdie twee kwessies nie geskei word nie: Ons kan immers net maatskaplike geregtigheid bereik en bevorder indien ons sekere dringende omgewingsuitdagings die hoof bied.

Om hierdie twee uiters belangrike kwessies te hanteer sal nie net bepaalde beleidsaanpassings en -besluite van regerings vereis nie, maar ook besliste optrede in vennootskap en solidariteit met die mense wat daagliks in armoede leef én dikwels die felle impak van omgewingsonreg ervaar.

Hoewel daar die afgelope dekades vordering gemaak is om inkomste-armoede te verlig, was pogings om die toenemende impak van die omgewing en klimaatsverandering op arm mense te temper minder suksesvol.

In sy dokument Implementation of the Third United Nations Decade for the Eradication of Poverty (2018-2027) sê die Verenigde Nasies (VN) dat “gereelde en ernstige klimaatsveranderingsverwante bedreigings en rampe soos droogtes, oorstromings, stygende seevlakke en ander uiterste weervoorvalle die verwesenliking van Agenda 2030 al hoe meer ondermyn". 

Volgens daardie dokument het ekonomiese skade vanweë weerverwante rampe in 2017 op sowat $320 miljard te staan gekom, wat dit die duurste jaar tot in daardie stadium vir hierdie tipe verliese maak. Die dokument verwys ook na die Atlantiese orkaanseisoen van 2017, wat 'n verwoestende maatskaplike en ekonomiese impak gehad het en dekades se ontwikkeling in 'n ommesientjie tot niet gemaak het. In daardie selfde jaar is 41 miljoen mense in Suid-Asië deur moesonvloede geraak, terwyl bykans 900 000 mense in Afrika onder erge droogte gebuk gegaan het.

Hierdie soort rampe het 'n vernietigende uitwerking op arm mense, veral diegene wat vir hulle bestaan op klimaatsensitiewe aktiwiteite staatmaak. Vergeleke met mans, loop vroue buite verhouding swaar deur.

Gevolglik prioritiseer die Parys-ooreenkoms oor klimaatsverandering en Agenda 2030 vir Volhoubare Ontwikkeling die tempering van, en aanpassing by, klimaatsverandering as kernelemente in die stryd teen armoede.

Vir die VN is dit van die allergrootste belang om die implementering van die Parys-ooreenkoms te bevorder, synde 'n kerndeel van dié organisasie se strewe na die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte. In hierdie verband help die VN ontwikkelende lande om hulle veerkragtigheid teen die verwoestende en soms blywende impak van klimaatsverandering te bou.

Volgens die Global Civil Society Report on the 2030 Agenda and the SDGs is geen land die impak van die huidige ekonomiese resessie as gevolg van COVID-19 gespaar nie. Ons merk self 'n drastiese toename in werkloosheid, armoede en hongersnood op. Nietemin is dit asof optrede om aardverwarming te bestry dreig om 'n selfs laer plek op die politieke prioriteitslys in te neem. Dit lyk of ekonomiese bystandspakkette grotendeels “ekologies blind" is.

Ook die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, het dít beaam toe hy onlangs die jaarlikse Nelson Mandela-lesing aangebied het. Guterres het in sy toespraak die treffende stelling gemaak dat die pandemie “die kwesbaarheid van ons wêreld" blootgelê het. “Dit het risiko's aan die lig gebring wat ons reeds dekades lank ignoreer: onvoldoende gesondheidstelsels; leemtes in maatskaplike beskerming; strukturele ongelykhede; omgewingsaftakeling; die klimaatskrisis," het hy gesê.

Guterres het bygevoeg: “Ganse streke wat vordering gemaak het met die uitwissing van armoede en die krimping van ongelykheid is binne 'n paar maande etlike jare agteruitgesit. Die virus hou die grootste risiko in vir die kwesbaarstes onder ons: diegene wat in armoede leef, ouer mense, en mense met gestremdhede en voorafbestaande toestande." 

Regerings en internasionale organisasies het op massiewe skaal op die ekonomiese en gesondheidskrisis vanweë die COVID-19-pandemie en die gevolglike inperking gereageer, soos bogenoemde Global Civil Society Report on the 2030 Agenda and the SDGs ook noem. Wêreldwyd is $11 triljoen aan likiditeitsmaatreëls, reddingspakkette en herstelprogramme bestee, en 196 lande en gebiede het politieke maatreëls ingestel. Omdat COVID-19 die wêreld (en veral die globale suide) se fiskale vermoë en beleidsruimte aansienlik beperk het, kan 'n mens straks redeneer dat die verwesenliking van Agenda 2030 en die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte nie meer haalbaar is nie.

Maar dan opper bogenoemde verslag dié geldige punt: “Sonder doeltreffende multilaterale teenmaatreëls sal die ekonomiese kloof en ongelykhede tussen ryk en arm lande aansienlik toeneem. COVID-19 is dus 'n wêreldwye wekroep tot internasionale samewerking en solidariteit."

As die wêreld dít gedurende die sogenaamde tweede fase van COVID-19-beleidsreaksies kan regkry, kan beleide dalk nog die enjins word van die noodsaaklike sosio-ekologiese transformasie wat Agenda 2030 vir Volhoubare Ontwikkeling bepleit.

Wêreldwye krisisse, soos die vloede in Suidoos-Asië, die sprinkaanplaag in Oos-Afrika, die verwoestende ontploffing in die Beiroetse hawe, die verswelgende veldbrande in Brasilië en Kalifornië, en die orkane in die Karibiese streek, stop nie as gevolg van COVID-19 nie. Trouens, hierdie krisisse is dikwels juis die gevolg van 'n wanfunksionele stelsel, wat meer waarde heg aan korporatiewe winste as aan die regte en welstand van mense en die omgewing.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) het met die Great Reset"-inisiatief vorendag gekom om die stand van die wêreld te verbeter. Dit is bekend as die “8 R"-agenda vir sistemiese verandering (hoewel nie een van die agt afdelings van die agenda bedoel is om 'n omvattende hervormingsprogram daar te stel nie). In hierdie artikel konsentreer ek ongelukkig net baie kortliks op een van die agt afdelings van dié agenda, naamlik 'n sterker verskuiwing na klimaatsgeregtigheid.

Teen die agtergrond van al hoe meer omgewingsverandering wat arm mense benadeel, veral in ontwikkelende lande, moet 'n regverdiger en billiker benadering tot klimaat- en omgewingsverandering aanvaar en in werking gestel word, sê die WEF.

Veral lande in die globale noorde moet so gou moontlik subsidies vir, en beleggings in, fossielbrandstofeksplorasie, -ontginning en -produksie begin staak en elders heen verskuif, en hulle tot 100% benutting van skoon en hernubare energie teen 2030 verbind. Hulle behoort die voorsiening van klimaatsfinansiering teen die einde van 2020 tot ten minste $100 miljard te verhoog, en dit dan tussen 2020 en 2030 vinnig op te stoot.

Met al die uitdagings waarmee ons tans te kampe het, klink die verwesenliking van maatskaplike en omgewingsgeregtigheid om armoede te help uitwis dalk na net te veel. Tog kan dit gedoen word. Ons moenie wanhopig raak nie, want saam kan ons 'n verskil maak!

*Dr Chris Jones staan aan die stuur van die Eenheid vir Morele Leierskap in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.