Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Innoverende Covid-19-behandeling red lewens en bespaar hulpbronne
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 08/10/2020

Te midde van die Covid-19-pandemie het dokters by Tygerberg-hospitaal ʼn waagmoedige, minder bekende behandeling toegepas, wat nie net die dreigende ventilatortekort omseil het wat deur die groot getalle dodelike siek pasiёnte veroorsaak is nie, maar moontlik duisende lewens gered terwyl ʼn meer pasiёnt-vriendelike ervaring gebied is.

In ʼn navorsingsartikel wat vandeesweek in The Lancet se EClinicalMedicine gepubliseer is, het mediese kundiges van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad (UK) beskryf hoe hulle die helfte van al hulle dodelike siek pasiёnte kon behandel deur hoёvloei- nasale suurstof (HVNS) toe te dien en meganiese ventilasie te vermy.

HVNS is ʼn nie-ingrypende suurstofbehandeling wat suurstof teen ʼn hoё vloeitempo – tot 60 liter per minuut – deur nasale buise na die longe voer. HVNS word as 'sagter' op pasiёnte beskou as meganiese ventilasie en laat hulle toe om te eet en met ander mense in die saal te praat en in wisselwerking te wees. Daarenteen is ventilasie ʼn ingrypende behandeling wat verg dat ʼn buis in die pasiёnt se lugweg gedruk word, wat ernstige ongemak veroorsaak en in sommige gevalle verdowing noodsaak.

Toe die eerste Covid-19-pasiёnte met akute asemnood in Maart vanjaar by die Tygerberg-hospitaal se intensiewesorgeenheid (ISE) opgeneem is, het dokters hulle met die internasionaal aanbevole prosedure van meganiese ventilasie behandel.

In ooreenstemming met internasionale neigings was daar ʼn hoё sterftesyfer by geventileerde pasiёnte.

“Die eerste sewe pasiёnte het almal ventilasie ontvang, en hulle het ongelukkig almal gesterf," vertel dr Usha Lalla, wat die Covid-19-ISE bestuur. “Ek onthou die dag so goed – twee van die pasiёnte het op dieselfde dag gesterf en die ISE was in trane," sê Lalla, wat ook ʼn spesialis in interne geneeskunde aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is.

In daardie tyd was daar ʼn paar anekdotiese verslae oor die gebruik van HVNS-behandeling vir Covid-19-pasiёnte, maar dokters was oor die algemeen teёsinnig om hierdie minder bekende metode te gebruik.

“Ek onthou dat ek dit met kollegas bespreek het, onder andere prof Mervin Mer van die Universiteit van die Witwatersrand. Ek het gesê talle van hierdie pasiёnte het net suurstof nodig – hoekom probeer ons dit nie? Die eerste pasiёnt wat ons met HVNS behandel het, was binne vyf dae op en het op haar selfoon begin gesels – in skrille kontras met pasiёnte wat vir twee tot drie weke geventileer moes word," sê Lalla. “Dit het ons hoop gegee dat ons dalk nie die slagting sal beleef wat in ander wêrelddele gesien is nie."

Hulle het nog pasiёnte met HVNS behandel en het veel hoёr herstelkoerse met hierdie behandelingsmetode behaal as deur dadelik meganiese ventilasie te gebruik. Nuus oor die sukses van HVNS-behandeling het vinnig na ander hospitale landwyd versprei, wat dit ook vinnig begin gebruik het. Hierdie behandeling is ook by Kaapstad se Hospital of Hope ingestel, waar ingenieurs die infrastruktuur op kort kennisgewing moes aanpas om voorsiening vir die nuwe terapie te maak.

Hierdie behandeling vervang nie ventilasie nie, wat steeds wyd gebruik word in die behandeling van Covid-19-pasiёnte, maar verskaf ʼn bykomende 'wapen' in dokters se arsenaal in die stryd teen Covid-19.

“In ʼn hulpbron-beperkte omgewing te midde van ʼn pandemie het hierdie ʼn enorme impak op die bestuur van pasiёnte gehad," sê prof Coenie Koegelenberg, ʼn US-pulmonoloog wat ook in die Tygerberg-hospitaal se ISE werk.

Anders as meganiese ventilasie wat in die ISE bestuur moet word, kan HVNS in ʼn algemene saal toegedien word – op voorwaarde dat die hospitaal se infrastruktuur voorsiening vir die vereiste hoёr suurstofvloei maak. Dit kan voorts bestuur word deur dokters en verpleegkundiges wat nie ISE-opleiding het nie, wat ʼn besparing op die land se skaars gesondheidsorghulpbronne meebring.

Die US-dokters (Tygerberg-hospitaal) het met prof Greg Calligaro se span by die UK (Groote Schuur-hospitaal) saamgewerk om data te kombineer van sowat 300 Covid-19-pasiёnte wat by hierdie fasiliteite HVNS-behandeling ontvang het. Die voortspruitende artikel is by verre een van die grootste studies tot op hede oor HVNS – nie net by Covid-19-pasiёnte nie, maar ook oor enige vorm van longontsteking.

“Ons studie het getoon HVNS kan suksesvol gebruik word om meganiese ventilasie by die helfte van alle ernstige siek pasiёnte te vermy," sê Koegelenberg. “Hierdie pasiёnte het almal voldoen aan die kriteria vir akute asemnoodsindroom. As die aanbevole behandelingsprotokol gevolg is, sou almal van hulle meganies geventileer moes word – tog het ons daarin geslaag om hulle suksesvol daarsonder te behandel."

“Hoёvloei het ʼn enorme verskil gemaak aan ons kapasiteit om pasiёnte gedurende hierdie pandemie te behandel. Maar dit was glad nie maklik om in die middel van ʼn pandemie van koers te verander van ventilasie na HVNS nie," sê Lalla. “Almal het net saamgespan – gesondheidswerkers, hospitaalbestuur, vrywilligers. Almal het net gedoen wat gedoen moes word… en dit was wonderlik." 


Onderskrif: Dr Usha Lalla en prof Coenie Koegelenberg.

Foto-erkenning: Damien Schumann