Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Covid-Kids studie ondersoek die effekte van Covid-19 in kinders
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 21/09/2020

Kinders blyk heelwat minder waarskynlik as volwassenes om die SARS-CoV-2 virus op te doen – en die virus lyk ook anders in kinders as wanneer dit voorkom by volwassenes.

Dit was die oorwegende standpunt van 'n webinar met die titel Covid-Kids, wat gehou is tydens die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se Akademiese Jaardag.

'n Aantal studies wat van naderby na kontakopsporing gekyk het, het bevind dat die sekondêre infeksiekoers onder kinders beduidend laer was in vergelyking met dié in volwassenes, "so dit wil voorkom asof hulle heelwat minder waarskynlik was om geïnfekteer te word deur kontakte," het dr Andrew Redfern van die Pediatriese Noodeenheid en Lopersaal by die Tygerberg-hospitaal en die FGGW se Departement Pediatrie en Kindergesondheid gesê.

Redfern het bygevoeg dat die algehele voorkoms van gevalle wêreldwyd daarop dui dat kinders slegs tussen 1% en 3 % van die gevalle uitmaak.

Redfern het die virtuele platform gedeel met prof Helena Rabie and dr Marieke van der Zalm, beide van die Department van Pediatrie en Kindergesondheid.

Redfern het gesê dat ouer kinders 'n groter risiko gehad het vir infeksie, terwyl jonger kinders weer 'n groter risiko gehad het vir ernstige siekte. Nietemin, het hy gesê, dat dit baie onwaarskynlik was dat kinders sou sterf van die virus, en dat jong kinders nie super-verspreiders van die virus was nie.

Hy het verwys na 'n reeks gevalle van 100 kinders wat vroeër vanjaar aangemeld het in Italië by verskeie noodeenhede in Italië met 'n bevestigde SARS-CoV-2 infeksie: omtrent 20%  van die kinders was asimptomaties, en in die oorgrote meerderheid van die gevalle het die siekte 'n geringe, 'n matige of 'n asimptomatiese vorm gehad, en slegs 'n handjievol het suurstof-ondersteuning of intensiewe sorg benodig. Hierdie getalle was "baie soortgelyk" aan die ervaring van die siekte in Suid-Afrika.

Redfern het gesê dat daar verskeie teoerieë is oor hoekom kinders 'n laer waarskynlikheid het om  Covid-19 te kry, en hoekom hulle minder ernstig daardeur geaffekteer word.

Rabie, 'n navorser by die universiteit se Covid-Kids projek, het die nuut-erkende sindroom beskryf wat as Multisisteem Inflammatoriese Sindroom (MIS-C) bekend staan, en wat lyk asof dit verwant is aan Covid-19.

Ook bekend as Pediatriese Multisisteem Inflammatoriese Sindroom (PIMS), lyk dit asof die sindroom 'n vertraagde komplikasie is van die koronavirus-infeksie,  selfs al toets van die kinders met MIS-C simptome nie positief vir Covid-19 nie. Die sindroom het 'n reeks simptome wat verskeie organe en sisteme in die liggaam affekteer en kinders het dikwels simptome wat soortgelyk is aan dié van toksiese skok-sindroom of Kawasaki-siekte waar bloedvate, insluitende die koronêre slagare, vergroot, of aneurismes vorm. Ander simptome sluit die vorming van bloedklonte in, asook gastro-intestinale simptome, nierbesering, neurologiese simptome en hart-inflammasie. Die simptome kan in verskeie kombinasies voorkom.

Rabie, wat gehelp het met die Tygerberg-hospitaal se gereedheidsplan vir Covid-19, asook met die toetsing en die bestuur van kinders met Covid-19 en MIS-C, het gesê dat die MIS-C sindroom aangemeld is sowat twee tot vier weke na die aanvang van Covid-19 in beide kinders en adolessente.

Sommige navorsers het die moontlikheid gemeld dat MIS-C veroorsaak mag word deur 'n vertraagde immuunrespons wat 'n "oorreaksie" is op die koronavirus wat inflammasie veroorsaak en organe beskadig. Hulle vermoed ook dat die teenliggampies wat kinders teen die virus maak die immuun-respons skep. Genetika kan ook 'n rol speel.

Rabie het gesê dat soos Covid-19 dwarsdeur die kontinent beweeg, word verwag dat meer gevalle van  MIS-C aangemeld sal word beide in Suid-Afrika en in Afrika suid van die Sahara. Gesondheidswerkers in die gebied moet bedag wees op die voorkoms van die siekte.

Van der Zalm het gesê dat die doel van die Covid-Kids studie was om die kliniese tekens en simptome, die immuunrespons en die lang-termyn gevolge van respiratoriese virus-infeksies (insluitende SARS-CoV-2) in kinders wat by die Tygerberg-hospitaal aanmeld gedurende die pandemie te definieer.

Sy het gesê dat dit baie belangrik was om die verskille in immuunrespons te bestudeer tussen kinders en volwassenes in verskillende opsette om sodoende die Covid-19 siekte beter te kan verstaan.

Dr Van der Zalm het bevestig dat dit wil voorkom asof kinders redelike beskerming geniet teen ernstige Covid-19.

Nietemin is daar min bekend hieroor in lande met middel- en laer-inkomste in Afrika suid van die Sahara. “Dit is veral belangrik aangesien die sterftesyfer van kinders onder die ouderdom van vyf beduidend hoër is in ons opset as in lande met 'n hoër inkomste. Risiko-faktore wat verband hou met slegte uitkomste in longontsteking, soos MIV, TB en wanvoeding, kan moontlik 'n belangrike impak hê op Covid-19 uitkomste."

Die studie, wat teen die einde van Julie 159 deelnemers gehad het wat positief getoets het vir Covid-19, van wie 62 in die hospitaal opgeneem is, duur steeds voort.

Van der Zalm het gesê dat Covid-19 lyk asof dit in kinders goeie uitkomste op die kort termyn het, alhoewel verskeie heropnames plaasgevind het, wat verdere ondersoek vereis. Die spektrum van die siekte varieer, het sy bygevoeg. Die mees ernstige respiratoriese siektes kom voor in jonger kinders en dit is noodsaaklik dat dokters bedag moet wees op nuwe diagnoses in jong kinders met Covid-19.