Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en Michael & Susan Dell-stigting werk saam ter wille van studentesukses
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 17/09/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Michael & Susan Dell-stigting kondig graag die bekendstelling van die Dell Young Leaders-program by die US aan, wat studente uit lae-inkomste-omstandighede van groter steun sal voorsien om suksesvol te gradueer. Aansoeke om die eerste inname van 100 Dell Young Leaders-studente open vandeesmaand vir eerstejaars. Die program beoog om oor die volgende vyf jaar 1 000 Maties by te staan.  

Dell Young Leaders-begunstigdes kom uit lae-inkomstegemeenskappe en is die eerste in hulle gesinne om aan 'n universiteit te studeer, wat beteken om 'n graad te kry is 'n noodsaaklike stap na voorspoed. Die Dell Young Leaders-program staan studente by op die gebiede waar hulle dit die nodigste het, en help elkeen hulle individuele uitdagings oorkom sodat hulle kan gradueer en met 'n sinvolle loopbaan kan begin. Altesaam 97% van alle programbegunstigdes tot dusver het hetsy gegradueer óf studeer steeds aktief, en 98% van gegradueerdes staan in 'n betrekking of studeer verder.  

Die Dell Young Leaders-program – wat reeds die afgelope tien jaar in Suid-Afrika bedryf word – is afgestem op lae-inkomstestudente wat vir professionele grade aan die US ingeskryf is, en sal hulle 'n aanvullende beurs bied om die tekort op hulle totale universiteitsrekeninge te dek. Studente sal ook voortdurende toegespitste en persoonlike advies en hulpbronne van toegewyde programpersoneel op kampus ontvang. Dít sluit in mentorskap, akademiese steun, welweeshulpbronne, leierskapsontwikkeling, loopbaanafrigting sowel as werksplasing ná graduering. Uiteindelik help die program dus studente met die uitdagings wat hulle ondervind op hulle reis tot en met gradedag én om die arbeidswêreld te betree.

“Ons bly geïnspireer deur die vasberade studente in ons program, wat ongelooflike teëspoed te bowe kom om nie net húlle lewens nie, maar ook hulle gesinne en gemeenskappe s'n te verbeter," sê Helen Vaughan, bestuurder van die Michael & Susan Dell-stigting se program University Success in South Africa. “Ons is opgewonde oor die geleentheid om met die Universiteit Stellenbosch te kan saamwerk en meer studente te kan bystaan om te gradueer, sinvolle werk te kry en leiers in hulle gekose beroepe te wees."

Om te sorg dat méér studente floreer, het die Universiteit Stellenbosch hom op sy beurt daartoe verbind om meer beursgeld van sy eie beskikbaar te stel om die getal studente wat uit hierdie program sal baat vind te verhoog. Studentesukses kry daarom 'n dubbele hupstoot.

“Ons is opgewonde oor die moontlikheid om ons beursaanbod vir studente uit lae-inkomste-omstandighede uit te brei met hierdie omvattende bystandsprogram in vennootskap met die Michael & Susan Dell-stigting se Dell Young Leaders-program," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US. “Die Dell Young Leaders-program is 'n instrument om die US sy kern strategiese doelwitte te help bereik. Ons by die US heg groot waarde aan ons studente en is daartoe verbind om elkeen van hulle 'n transformerende studente-ervaring te bied."

Die Dell Young Leaders-program is bykomend tot verskeie ander inisiatiewe by die US om studentesukses te bevorder. Die byvoeging van die program maak deel uit van die Universiteit se oorhoofse pogings om te sorg dat die US toeganklik is vir kwalifiserende studente uit alle omstandighede, veral diegene wat te staan kom voor hindernisse vir suksesvolle universiteitstudie. Vir die Universiteit is dít 'n reis – van die eerste kontak met voornemende studente totdat hulle gradueer en die rol van alumni aanneem.

Volgens Karen Bruns, senior direkteur van Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge by die US, pas die vennootskap perfek in by die Universiteit se strewes: “Hierdie vennootskap sal beslis beter uitkomste tot gevolg hê vir die studentebegunstigdes, en sal op lang termyn ook hulle gesinne baat. Dít vind sterk aansluiting by die US se voorneme om 'n positiewe sosiale impak te hê en te verseker dat ons studente die land se ekonomie help bou met gepaste vaardighede, wat hulle uit ons kurrikula én naas formele onderrig opdoen."

Die US se eerste Dell Young Leaders-inname word op 6 November aangekondig. Vir meer oor die program, gaan na dellyoungleaders.org.