Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SR-voorsitter belowe om studentekwessies aan te spreek
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 15/09/2020

Die nuut-verkose voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se Studenteraad (SR), mnr Xola Njengele, sê hy is ten volle daartoe verbind om Matiestudente se dringende kwessies aan te spreek.

Njengele is tans besig met 'n nagraadse diploma in Volhoubare Ontwikkeling by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

“Ek voel baie geëerd om tot hierdie amp verkies te word. Ek is reeds sedert my eerste jaar in 2017 by studenteleierskap aan die Universiteit betrokke, so ek geniet dit om deel daarvan te wees," sê Njengele. 

Aangesien Njengele ook voorsitter van die Akademiese Belangeraad en lid van die uitvoerende komitee in die 2019/20-SR was, is hy goed ingelig oor die struktuur en op hoogte van sommige van die dringende kwessies waaraan die SR moet aandag gee.

Hy wil graag toesien dat beleide oor kwessies soos geestesgesondheid en anti-geslagsgebaseerde geweld en die hersiening van die US se HEMIS-regulasies (Hoër Onderwys Bestuursinligtingstelsel) in die 2020/21-SR se termyn doelbewus en ten volle aangespreek word met gunstige uitkomste.

Die kwessie van studente se geestesgesondheid is veral vir Njengele belangrik, aangesien hy persoonlik deur die jare moes leer om aandag aan sy eie geestesgesondheidstoestand te gee om te verseker dat hy 'n goedgebalanseerde studentelewe lei, ten einde suksesvol in sy studies te wees, maar terselfdertyd ook 'n sosiale en gesonde leefstyl te hê.

“Gedurende hierdie tye vind ek soms dat dinge meer dikwels as te vore verkeerd loop. Ek wil aan my portuurgroep sê daar is niks daarmee verkeerd om 'n blaaskans te neem nie – om asem te haal en na te dink – sodat ons weer ons kragte kan herwin en in staat is om aan te gaan."

Njengele het in Gugulethu, Kaapstad grootgeword en sê een van sy grootste hoogtepunte sover was toe hy verlede jaar sy B-graad in Internasionale Studies behaal het. Hy is die eerste gegradueerde in sy familie, dus was sy gradeplegtigheid 'n baie spesiale oomblik vir hom en sy familie.

Wanneer hy nie besig is om studente te lei en hard te studeer nie, bly Njengele aktief deur te gaan draf en deur heerlike maaltye voor te berei – iets wat hy by sy ma geleer het.

“Een van my gunstelingherinneringe uit my kinderdae was om saam met my ma te kook en te bak. My ma was 'n sjef en haar skeppings het my altyd gefassineer. Ek het altyd by myself gedink, “Wow, hoe het sy dit reggekry?' Ek koester al daardie kosbare oomblikke."

Njengele sê hy probeer om nie te veel druk op homself te plaas deur te ver vooruit te beplan nie, maar hy mik daarna om 'n MPhil in Volhoubare Ontwikkeling te doen nadat hy sy nagraadse diploma voltooi het. ​