Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie bekyk rol van verpleegkundiges tydens Covid-19
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 14/09/2020

​Innoverende oplossings sal gevind moet word vir die voortsetting van voorkomende en ander primêresorgdienste tydens ʼn pandemie. Terselfdertyd sal groter klem in voor- en nagraadse kurrikulums gelê moet word op infeksievoorkoming en -beheer asook pandemie-gereedheid, is onder die gevolgtrekkings waartoe gekom is in ʼn Wes-Kaapse Covid-19-primêresorgstudie.

Dit blyk ook dat daar ʼn behoefte aan groter werkplek-bystand is wat verpleegkundiges se geestesgesondheid betref, het dr Talitha Crowley – senior dosent in die Departement Verpleegkunde en Verloskunde van die Universiteit Stellenbosch (US) – gesê.

Sy het op die Akademiese Jaardag van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe die voorlopige studiebevindings bekend gemaak in haar aanbieding oor primêresorg-verpleegkundiges se voorbereidheid op Covid-19 en die invloed daarvan op Wes-Kaapse primêresorg-dienste.

Die data is tussen einde Junie en Julie – toe Covid-19 in die Wes-Kaap op sy hoogtepunt was – op inisiatief van die Departement Verpleeg- en Verloskunde en in oorleg met die Departement Globale Gesondheid ingesamel. Dit het ʼn aanlyn opname onder nagraadse diplomastudente in primêre sorg aan die US asook oudstudente uit die 2017-2019-jaargroepe behels.

Crowley het benadruk dat primêresorg-verpleegkundiges ʼn kernrol by infeksiesiektes speel omdat hulle vir baie pasiënte ʼn eerste toegangspunt tot gesondheidsorg is. Die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel is reeds swaar gelaai wat betref voorkomende en geneeskundige dienste, insluitend chroniese siektes. Die realiteit is dat noodsaaklike primêresorg-dienste moet voortgaan ondanks die bykomende werklas wat die Covid-19-pandemie meegebring het, terwyl verpleegkundiges terselfdertyd hul eie risiko om die virus op te doen, moet bestuur.

Bykans 60% van die uiteindelike 82 deelnemers aan die studie het genoem dat Covid-19 ʼn uitwerking op ander dienste gehad het, met meer as 45% wat gemeen het dat die diensgehalte swakker as vroeër was. Die meeste fasiliteite was verplig om gesondheidsdienste weens Covid-19 te reorganiseer, onder meer deur met nieregeringsorganisasies saam te span vir die tuisaflewering van medikasie en die staking van sekere uitreikaksies.

Daar was algemene kommer oor pasiënte met MIV, TB en diegene wat chroniese sorg benodig. Sommige verpleegkundiges was ook bekommerd oor die langtermyn-impak van die niebeskikbaarheid van babawelstand- asook seksuele gesondheid- en voortplantingsdienste tydens Covid-19.

Wat Covid-19-opleiding betref, het tussen 40% en 58% gevoel hulle is genoegsaam voorberei om die nodige sorg te verskaf. Dit het ooreengestem met die bevindings van ʼn soortgelyke Britse studie. Tog het 12,2% van die respondente geen opleiding ontvang nie. Video-instruksies was die algemeenste opleidingsmetode, terwyl ʼn behoefte aan formele opleiding uitgelig is ten opsigte van inligting soos die verskil in simptome tussen volwassenes en kinders.

Onder die uitdagings was dat sommige pasiënte hul Covid-19-simptome weggesteek het uit vrees dat hulle hulp geweier sou word en eers tydens konsultasie by die primêresorgfasiliteit oop kaarte gespeel het.

ʼn Hoë persentasie verpleegkundiges het toegang gehad tot riglyne wat die triage en bestuur van Covid-19-pasiënte betref, hoewel die fasiliteite se infrastruktuur nie altyd in ag geneem is nie en riglyne in die toekoms dalk by die betrokke fase van die pandemie aangepas moet word. Veral in die kleiner en mobiele klinieke was daar infrastruktuuruitdagings.

Hoewel nagenoeg 60% van die respondente aangedui het dat persoonlike beskermingstoerusting altyd beskikbaar was, was daar oor die algemeen kommer oor ʼn gebrek hieraan. In sommige gevalle het dit tot diefstal van items gelei, wat die toesluit van toerusting genoodsaak het.

Die grootste behoefte wat werktoestande betref, was aan hulp met streshantering. Al het 40,3% van die respondente gereeld of baie gereeld Covid-19-verwante stres ervaar, het net 16% aangedui hulle is met hul geestesgesondheid in die werkplek bygestaan.

Sowat 60% moes in een of ander stadium selfisoleer, met meer as ʼn vyfde wat minder ruskans as gewoonlik gekry het.

Die lesse wat uit hierdie studie geleer is, kan dalk help om primêresorg-fasiliteite op die Nasionale Gesondheidsversekering voor te berei, het Crowley gesê. Strategieë wat tydens die Covid-19-pandemie in werking gestel is, moet bestudeer word, insluitend samewerking tussen die private sektor, nieregeringsorganisasies en openbaregesondheidsklinieke, en die gebruik van toetssentrums. Meer navorsing, veral kwalitatief, is egter nodig.