Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die wetenskap kán gedekoloniseer word
Outeur: Margaret Blackie & Hanelie Adendorff
Gepubliseer: 02/09/2020

Die wetenskap kan gedekoloniseer word, maar dan sal ons moet erken dat ons kulturele erfenis en Westerse moderniteit ʼn rol speel in die wyse waarop wetenskap onderrig word, skryf drr Margaret Blackie (Chemie en Polimeerwetenskap) en Hanelie Adendorff (Sentrum vir Onderrig en Leer) in ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian (31 Augustus).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Margaret Blackie & Hanelie Adendorff*

Die oproep tot dekolonisering het tot baie angs en intense debat in akademiese kringe in Suid-Afrika gelei. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat hierdie oproep nie net tot Suid-Afrika beperk is nie. Desondanks het dit 'n besondere dringendheid in ons land met ons geskiedenis en voortgesette ekonomiese ongelykheid.

Waar 'n mens relatief maklik kan sien hoe 'n mens so 'n taak in die geesteswetenskappe kan uitvoer, is die oproep om die wetenskap te dekoloniseer grotendeels met minagting begroet. Die wetenskap het die oproep tot dekolonisering meestal versigtig geïgnoreer totdat die #ScienceMustFall-video soos ʼn veldbrand versprei het. Gemoedere het opgevlam en die debat het vinnig na twee moeilik hanteerbare posisies geskuif. Enersyds was daar 'n oproep om inheemse kennissisteme met die wetenskap gelyk te stel, en andersyds 'n volledige gebrek aan erkenning dat die wetenskap in Westerse individualisme ingebed en verweef is.

Ons nuuskierigheid was om 'n manier te vind om 'n gesprek tussen hierdie twee posisies te fasiliteer. Die grootste uitdaging was dat die gronde waarop die debat as geldig beskou is, betwis is weens die verskil in die manier waarop geldige kennis in die wetenskap en die geesteswetenskappe geproduseer word.

In die wetenskap is metode onafhanklik van die persoon. Nadat 'n metode duidelik beskryf is, kan redelikerwys verwag word dat 'n tweede persoon wat dieselfde eksperiment uitvoer dieselfde resultaat sal behaal. Hierdie herprodusering is die onderliggende sterkte van die wetenskap. In die sosiale wetenskappe leer 'n mens 'n oriëntering tot kennis wat op teorie gebaseer is, maar die manier waarop data geïnterpreteer word, word beïnvloed deur ʼn mense se eie geskiedenis. ʼn Besondere aspek van die sosiale wetenskappe is dat dit die maniere waarop persoonlike ervaring 'n mens se blik beïnvloed, eksplisiet maak.

Die wetenskap roem dus daarop dat dit objektief is en verwerp dikwels die relatief 'sagte' benadering van die sosiale wetenskappe. Deur dit te doen, vergeet wetenskaplikes egter 'n belangrike onderskeid. Wetenskaplike kennis is objektief, maar wetenskaplikes nie. Hulle word ook sterk deur hul kulturele erfenis beïnvloed.

Ons kan nie die feit ontken dat die wetenskap soos ons dit vandag verstaan, diep wortels in Wes-Europa het nie, en dat die ontwikkeling van wetenskap en tegnologie baie met die ontstaan van die koloniale era saamgeval het. Die tegnologiese vooruitgang wat die samelewings van daardie tyd gemaak het, het verkenning moontlik gemaak. Dit was onlosmaaklik verbind met die ontwikkeling van verfynde meetinstrumente. Chemie, byvoorbeeld, het as wetenskap eers regtig na vore getree toe ons voldoende akkurate skale gehad het. Ons kan nie die ontwikkeling van wetenskaplike kennis van daardie geskiedenis skei nie.

In die ontwikkeling van 'n gedekoloniseerde wetenskaplike kurrikulum gaan ons nie weer van vooraf begin nie. Ons sal steeds Newton se wette, en die struktuur van die atoom en die teorie van evolusie onderrig. Hierdie idees is veels te oortuigend as verklarende instrumente om dit eenkant toe te skuif. Maar wat ons kan doen, is om te begin erken dat wetenskaplikes se wetenskapsbeoefening, sterk beïnvloed is deur Westerse moderniteit. Die obsessie met die individu is baie problematies. Is daar 'n manier waarop ons kan begin besef dat alle kennis gebou is op die werk van diegene wat ons vooraf gegaan het en lewer nie net ʼn bydra tot diegene wat volg nie, maar ook tot ons tydgenote? Kan ons 'n waardasiestelsel bou vir die erkenning van bydraes wat die diep verweefde verhoudings verteenwoordig, eerder as om die individu te probeer uitlig?

ʼn Gedekoloniseerde wetenskaplike kurrikulum sal ook implikasies hê vir onderrig en leer, sowel as hoe ons inligting ervaar en daarmee omgaan. Wanneer ons 'n voorbeeld gebruik wat help om 'n konsep te onderrig, moet ons vra of almal in die klaskamer daardie voorbeeld sal verstaan. Met ander woorde, verlaag die voorbeeld die hindernis tot leer of skep dit nog 'n hindernis?

In 'n diverse wetenskapklas is dit onwaarskynlik dat een voorbeeld vir almal toeganklik sal wees. Een  van die strategieë wat ons gebruik, is om een voorbeeld te verskaf en dan die klas te vra om ander moontlike voorbeelde in klein groepies te bespreek. Hierdie voorbeelde kan dan in die groter klas bespreek word om aan te toon watter voorbeelde werk en watter nie en waarom. Op hierdie manier is daar geringer vooroordeel ten opsigte van net een soort lewenservaring  ̶  dié van die akademikus.

Uiteindelik is ons uitdaging om die werking van kultuur in akademiese wetenskap meer sigbaar te maak. Om akademiese wetenskaplikes te help verstaan dat hoewel hul wetenskap objektief, streng en potensieel grondverskuiwend is, hulle dalk onbewustelik 'n kultuur wat vir baie studente as uitsluitend ervaar, kan perpetueer. Beide kan tegelykertyd waar wees. Om dit te verbeter, vereis nie dat wetenskaplike inhoud met kommentaar op die samelewing vervang moet word nie, maar om studente ernstig te neem as hulle sê dat hulle voel dat hulle nie behoort nie, of as hulle eenvoudig met hul voete stem.

*Dr Margaret Blackie is 'n senior lektor in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap en dr Hanelie Adendorff 'n senior adviseur by die Sentrum vir Onderrig en Leer aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie artikel is gebaseer op hul hoofstuk in Building knowledge in Higher Education: Enhancing Teaching and Learning with Legitimation Code Theory (2020).