Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inspirerende alumnae stel nuwe netwerk vir Matie-vroue bekend
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 31/08/2020

'n Nuwe inisiatief van die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge wat ten doel het om netwerkvorming tussen Matie-vroue uit verskillende agtergronde en bedrywe regoor die wêreld moontlik te maak, is op Woensdag (26 Augustus 2020) bekend gestel.

Die inisiatief, bekend as die Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk (in Engels SWAN), is daarop gemik om vroue-gradueerdes bymekaar te bring deur mentorskapprogramme, leierskapopleiding en rondetafelbesprekings.

Volgens Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, is SWAN op die been gebring om te wys dat Stellenbosch-vroue net so suksesvol soos hul manlike eweknieë as filantrope en aktiewe burgers kan wees.

“Die Universiteit Stellenbosch het deur die dekades fantastiese vroue-gegradueerdes vir die sake-, kuns en kultuur- en wetenskap en tegnologiesektore gelewer, sowel as fantastiese innoveerders en entrepreneurs," sê Bruns. “Ons weet dat Matie-vroue baie goeie konneksies en sterk opinies het en dat hulle hard gewerk het om hul merk in ons gemeenskappe, ons land en op die wêreldtoneel te maak. Ons wil hê dat die SWAN-netwerk moet groei en streef daarna om gereelde SWAN-geleenthede met ons alumnae regoor Suid-Afrika en die wêreld te hou."

Dr Nthabiseng Moleko, 'n alumna en voorstaander vir vroueregte as kommissaris van die Kommissie vir Geslagsgelykheid, was die fasiliteerder van besprekings by dié geleentheid.

Sy het die deelnemers uitgedaag om hul vaardighede en kennis te gebruik om met oplossings vorendag te kom vir probleme soos geslagsgebaseerde geweld en die ekonomiese krisis in die land.

“Ons het dinge te lank aan ander oorgelaat. Dis tyd dat ons as burgers en akademici self skouer aan die wiel moet sit," sê Moleko. “Ons moet ons opvoeding gebruik om die wêreld te transformeer en te verbeter deur ons onderskeie beroepe en werksektore."

Dr Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Arstscape Teater, medestigter van die Women's Achievement Network for Disability en twee keer US-alumna van die jaar, was die hoofspreker by die geleentheid.

Die gestremdheid- en vroueregte-aktivis het haar ervarings in die werkplek met betrekking tot etiek en menslike hulpbron- en kulturele kwessies gedeel.

“As vrouens word ons gekonfronteer met diskriminasie, vernedering en ongelykheid. Maar hoe kan ons positiewe verandering bewerkstellig? As 'n leier voel ek dat ons op jong mense moet konsentreer. Ons moet ons agtergronde, uitdagings en positiewe invloede gebruik om jong mense te mentor, sodat hulle nie dieselfde probleme ondervind wat ons ervaar het nie.

“Uit 'n kulturele oogpunt moet ons as leiers almal in die werkplek as belangrik ag, nie net direkteure en uitvoerende lede nie. Beleide moet billik wees. Hoe kan ons verskillende kulturele en godsdienstige praktyke in die werkplek akkommodeer? Watter tipe verlof neem ons in ag? Werknemers sal jou meer waardeer as jy hulle toelaat om een of twee belangrike godsdienstige praktyke te kies en dit dan as verlofdae vir hulle te skenk. Dit is uiters belangrik om te onthou dat ons nie met kultuur, godsdiens of selfs taal gebore word nie. Dit is aangeleerde invloede in ons lewens wat ons gedrag en reaksies op ander aangeleerde kulture se tale en godsdienste bepaal.

Indien ons sommige van die bogenoemde in berekening bring met ons werknemers, is die werknemer dan geneig om 150% harder te werk omdat hulle weet jy gee om en dat jy moeite doen om hulle te probeer verstaan en na hulle uit te reik.

“Derdens kan ons nie geslagsbemagtiging bewerkstellig as ons nie bereid is om met die manlike geslag saam te werk nie. Ons moet deeglike gesprekke met hulle voer oor hoe ons veranderings gaan aanbring en hoe ons hierdie euwel in die samelewing gaan uitroei."

Le Roux het bygevoeg dat die werkplek nie net 'n plek is waar verskillende taal- en kultuurgroepe kan saamkom nie, maar waar 'n diverse arbeidsmag die geleentheid het om te praat oor dinge wat belangrik is. Ons moet leer om positiewe kulturele interaksies en begrip te beoefen.

  • Sluit aan by SWAN op www.matiesconnect.com, waar ons inligting oor alle opkomende netwerkgeleenthede sal deel en jou sal voorstel aan nog uitnemende Matie-vroue.