Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Om gemeenskappe deur navorsing en geloof te bemagtig
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 20/08/2020

Een van prof Nadine Bowers-du Toit se grootste doelwitte was nog altyd om 'n konstruktiewe rol in die transformasie van die Universiteit Stellenbosch (US) en die breër samelewing te speel.

Afgesien daarvan dat sy 'n medeprofessor in Praktiese Teologie aan die US se Fakulteit Teologie is, dien sy ook as direkteur van die Eenheid vir Godsdiens en Ontwikkelingsnavorsing (EGON), 'n vroulik-geleide navorsingsgroep wat as 'n brug tussen geloof en ontwikkeling optree om gemeenskappe te bemagtig.

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, bied Bowers-du Toit hier 'n kykie op haar werk by EGON en verduidelik sy hoekom dit belangrik is dat geloofsgemeenskappe help om armoede en ongelykheid in die burgerlike samelewing te verlig.

1.      Vertel ons meer oor jou navorsing.

My navorsing is geposisioneer by die kruising tussen geloof en ontwikkeling. Vir 'n aantal jare al fokus my navorsing op die kruising van armoede, ongelykheid en gender met geloof en ek het geloofsreaksies in hierdie verband bestudeer. My passie is om navorsing te doen oor maniere waarop geloofsgemeenskappe tot die burgerlike samelewing se reaksies op die kwessies van armoede en ongelykheid bydra. Die mees onlangse projek waarvan ek die projekleier is, het 'n buitengewone skenking van die Nagel-sentrum vir Wêreld-Christenskap ontvang. Die projek fokus op die maniere waarop Christen-jongvolwassenes in die Stellenbosch-omgewing hul geleefde ervarings en teologie van ongelykheid verwoord en wat die raakpunte hiervan met die begrippe van sosiale geregtigheid, rassisme en versoening is. Ek is baie bevoorreg om saam met 'n wonderlike span kollegas en studente hieraan te werk. 'n Boekprojek voortspruitend uit hierdie navorsing word vir die komende jaar beplan

2.      Waarom of hoe het jy in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin belangstel?

As die dogter van 'n dominee wat as kerkleier toegewyd was aan sosiale geregtigheid terwyl hy op die hoogtepunt van apartheid die Woord op die Kaapse Vlakte bedien het, het my eerstehandse ervaring van die kragtige rol wat predikante kan speel om die kwessies van armoede en ongeregtigheid aan te spreek, tot my navorsing en belangstelling in die opleiding van predikante en godsdienstige gemeenskapsontwikkelingspraktisyns aanleiding gegee. Op baie maniere bou ek ook op die nalatenskap van my ma en ouma, wat albei welbekend vir hul aktivisme en leierskap in gemeenskapsontwikkeling is. Die vakgebied van Teologie en Ontwikkeling is by die Fakulteit Teologie aan die US gevestig terwyl ek 'n voorgraadse student was. Hoewel ek aanvanklik beplan het om maatskaplike werk te studeer, het hierdie vakgebied vir my die geleentheid gegee om my twee liefdes, teologie en ontwikkeling, te kombineer. Ek het in 2004 die eerste mens geword om 'n PhD in hierdie gespesialiseerde veld te behaal. Niks maak my meer opgewonde nie as om met kerk- en gemeenskapsleiers in gesprek te tree oor die manier waarop geloofsreaksies tot voordeel van die welstand van die samelewing kan wees.

3.      Waarom dink jy is die werk wat jy by EGON doen, so belangrik vir Suid-Afrikaanse vroue?

Terwyl EGON se werk in die breë die kruising tussen godsdiens en ontwikkeling aanraak, is dit spesifiek gerig op die kruising tussen gender, godsdiens en ontwikkeling. Die eenheid het uitmuntende navorsing oor die kwessie van geloof en geslagsgebaseerde geweld (GGG) gelewer wat deur plaaslike en internasionale geloogsgebaseerde organisasies asook instellings soos die Wêreldbank en die Verenigde Nasies gebruik word. Ons sien tans in Suid-Afrika en die res van die wêreld die opkoms van die #Churchtoo-hutsmerk wat weer eens die maniere beklemtoon waarop godsdienstige gemeenskappe dikwels aandadig is aan die patriargale stelsel en die voortsetting van vrouehaat en GGG. ENOG se leidende navorsing beklemtoon nie net die maniere waarop geloogsgemeenskappe aandadig is nie, maar maak ook voorstelle oor hoe kerke hierdie kwessie wat ons samelewing teister, kan teenstaan en aanspreek.

4.      Wat dink jy is die grootste uitwerking van jou navorsing op vroue in die land?

Ek het onlangs WhatsApp- en Facebook-boodskappe van drie vroue ontvang wat jare gelede in my klas was en wat vandag aan die hoof van geloofsgebaseerde NRO's staan. Hulle het my bedank vir die rol wat ek in hul reis gespeel het en gesê hulle pas vandag nog dít wat ek hulle geleer het, toe binne die konteks van hul werk en bediening. Ek het ook 'n oproep ontvang van 'n vrouepredikant vir wie ek vroeër as opsiener opgetree het, ontvang. Sy het raad gesoek oor haar kerk se benadering tot ontwikkeling. Om 'n pad saam met hierdie vroue te stap wat in die voorste linie werk om armoede en ongelykheid op voetsoolvlak in ons land en op die vasteland aan te spreek, is waarvoor ek geroep is. Hulle inspireer my in my toewyding aan die soort onderrig, navorsing en mentorskap wat hopelik sal voortgaan om vroue soos hulle te bemagtig om agente van maatskaplike transformasie te wees.

5.      Wat is jou boodskap aan die volgende geslag vrouenavorsers wat jou werk sal voortsit?

As 'n bruin vrou in die akademie en in 'n vakgebied wat lank deur mans oorheers is, hoop ek dat die komende geslagte – gewapen met die kennis dat hulle die draers is van hul voormoeders se drome vir 'n regverdiger, gelyker wêreld vir almal – sal voortgaan om deur hierdie plafonne te breek.