Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bevestig plek op wêreldwye universiteitsranglys
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 19/08/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) se aansien as een van die land en die wêreld se voorste navorsingsintensiewe akademiese instellings is weer eens bevestig deur die 2020 Academic Ranking of World Universities (ARWU), ook bekend as die Shanghai-ranglys, wat onlangs bekend gemaak is.

Die US, wat derde in Suid-Afrika ná die Universiteite van Kaapstad en die Witwatersrand geëindig het, het sy plek van die afgelope drie jaar bevestig. Dit verskyn in die kategorie 401–500. Meer as 2 000 universiteite word jaarliks geklassifiseer en die top 1 000 word gepubliseer.

Die Shanghai-ranglys, wat sy onstaan in 2003 gehad het, word vandag net so invloedryk as die QS- en die Times Higher Education-wêreldranglyste beskou.

Universiteite se plek op die ranglys word deur verskeie aanwysers vir akademiese of navorsingsprestasie bepaal. Dit sluit in alumni en personeel wat Nobelpryse en Fields-medaljes gewen het, navorsers wat gereeld aangehaal word, artikels wat in vooraanstaande akademiese vaktydskrifte verskyn het, artikels wat in belangrike aanhalingsindekse geïndekseer is en die per capita akademiese prestasie van 'n instelling.

In reaksie op die US se jongste prestasie, het prof Hester Klopper, Viserektor vir Strategie en Internasionalisering, gesê die feit dat die US dit regkry om konsekwent sy plek onder die wêreld se voorste 1% van universiteite in te neem, is geen geringe prestasie nie. “Dit onderstreep een van ons kern strategiese temas, naamlik Navorsing vir Impak. Dit is 'n bewys van die US se wêreldwye navorsingsimpak en die erkenning wat die gehalte en statuur van sy navorsers geniet. Dit is veral belangrik gegewe die uitdagende tye wat universiteite in die gesig staar weens COVID-19."