Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Sy help vroue om hul stemme te laat hoor in navorsing
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 19/08/2020

Geleenthede vir vroue om uit te blink in die onderwys en navorsing is dikwels yl gesaai. Een van dr Linda Zuze, lid van die Navorsingsgroep vir Sosio-ekonomiese Beleid (ReSep) in die departement Ekonomie, se dryfvere is om vroue te help om hul stemme te laat opklink in die navorsingsruimte.

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaand-vieringe, vertel sy ons hier meer oor haar werk in hierdie verband.

Vertel ons meer oor jou navorsing.

Ek is opgelei as 'n ekonoom en ek het in 2008 my PhD aan die Universiteit van Kaapstad (UK) behaal. My navorsing fokus op ongelykhede en hul uitwerking. Ek werk al van die begin my loopbaan af daaraan om skakels tussen navorsing, beleid en die praktyk te versterk. Baie van my werk oor onderwerpe wat genderongelykhede in die onderwys, werkloosheid onder die jeug en die ontwikkeling van die finansiële sektor vir onderbediende groepe aanspreek, het al verskyn. In 'n onlangse boekhoofstuk oor skool in Suid-Afrika, ondersoek ek en my medeskrywer die kompleksiteite verbonde aan die aanspreek van gendergapings in die Suid-Afrikaanse onderwys. Ek is ook 'n mede-ondersoeker in 'n innoverende projek wat bepaal hoe sosiale norms die finansiële besluite van Zambiese mans en vrou beïnvloed. Die Universiteit van Nottingham in die VK, Leiden-universiteit in Nederland en Financial Sector Deeping in Zambië werk saam aan hierdie projek. Ek het ook bygedra tot 'n onlangse verslag oor die uitwerking van die koronavirus en die staat van inperking op kinders se welstand in Suid-Afrika. Die verslag is deel van die voortgaande Nasionale Inkomste-dinamikastudie – Koronavirus Vinnige Selfoonopname-studie (NIDS-CRAM).

Waarom of hoe het jy in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin belangstel?

Ek het in 'n huis grootgeword waar gesprekke oor sosiale geregtigheid aan die orde van die dag was. Ek het vroeg in my lewe in baie verskillende lande gewoon en ek dink hierdie blootstelling het my laat besef hoe talente en geleenthede regoor die wêreld in 'n wanverhouding is. My ouers het my reeds van kleins af aangemoedig om wyd te lees, om vrae te vra, om nuuskierig te wees. So nou verdien ek my brood deur vrae te vra. Ons gesin het altyd geglo dat die regte inligting en 'n gepaste vlak van toewyding verandering moontlik maak.

Waarom dink jy is hierdie navorsingsgebied so belangrik vir Suid-Afrikaanse vroue?

Suid-Afrikaners kry op die oomblik baie swaar. Van die redes vir die huidige situasie is histories. Ander, soos die openbare gesondheidskrisis, is heeltemal ongekend. Die land het nou, nog meer as ooit tevore, talentvolle jongmans en -vroue met 'n verskeidenheid idees nodig om met alternatiewe wat die nuttigste vir beleide is, vorendag te kom.

Die is nie maklik om een van jou gesin se eerstegenerasie-studente te wees wat universiteit toe te gaan nie. Ek kan beslis hiermee assosieer. Die persoonlike en institusionele hindernisse voel dikwels oorweldigend. Dit mag dalk voel of dit onmoontlik is om sukses op universiteit te behaal en om vir die werksplek voor te berei. Eerstegenerasie-studente gaan ook onder die verwagtinge van hul familie en gemeenskap gebuk. Vir baie kan finansiële druk 'n konstante bron van kommer wees. Dit is een ding om Suid-Afrikaanse vroue aan te moedig om navorsers te word. Dit is egter 'n ander saak om aan hulle die ondersteuningstrukture te verskaf wat hul vermoë kan versterk om hul professionele doelwitte te bereik.  

Wat dink jy is die grootste uitwerking van jou navorsing op vroue in die land?

My navorsing toon steeds dat die uitdagings wat vroue en kinders in hierdie land, en in die res van Afrika, ondervind, baie ingewikkelder en meer genuanseerd is as wat somtyds aangedui word. Ek het bewys dat wanneer vroue geleenthede gegee word, huishoudings en gemeenskappe ook daarby baat. Wanneer dit ook al vir my moontlik is, bestee ek tyd daaraan om vroue se vermoë in beleidsnavorsing uit te bou. Ek het suksesvol as opsiener en mede-opsiener vir 'n aantal vroue wat hul meestersgrade gedoen het, asook drie vroue met PhD's, opgetree. Ek lei steeds ander op en tree as mentor op. Een van die bevredigendste dele van my werk is om te sien hoe jongvroue hul stem in die navorsingsruimte vind.

Wat is jou boodskap aan die volgende geslag vrouenavorsers?

Ek het al baie rolle in my lewe vervul – universiteitsakademikus, beleidsraadgewer, navorsingsbestuurder, konsultant, entrepreneur en ook ma-wees vir twee ongelooflike nie-meer-so-klein seuns. Ek sê altyd vir studente dat niks wat jy doen, 'n vermorsing is nie en niks uit jou verlede hoef in die pad van jou toekomstige sukses te staan nie. Elke ding wat jy al beleef het, kan inderdaad die stories wat jy deur jou navorsing vertel, verryk. En jou stories maak saak.