Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onbeperkte moontlikhede vir heel eerste graduandi in BCom (Internasionale Besigheid)
Outeur: Litnet
Gepubliseer: 18/08/2020

​In 'n onderhoud wat op Litnet verskyn het, vertel prof Pierre Erasmus van die Departement Ondernemingsbestuur by die Universiteit Stellenbosch meer oor die BCom-graad in Internasionale Besigheid, waarvan hy die programkoördineerder is.

Die vierjaar BCom-program in Internasionale Besigheid is in 2016 van stapel gestuur ten einde graduandi te lewer wat toegerus is om aan die internasionale kennis-ekonomie deel te neem. Die eerste groep van 22 studente wat hierdie graad voltooi het, het op 10 Desember 2019 gegradueer.

Die volgende is 'n uittreksel uit die onderhoud:

Volgens programkoördineerder professor Pierre Erasmus, is hierdie program die eerste van sy soort in Suid-Afrika en 'n voorloper in sake-opleiding op voorgraadse vlak in die land.

Professor Erasmus verduidelik waarom hierdie graad nie net anders is nie, maar ook van soveel belang in die huidige tydvak.

In Desember verlede jaar het die heel eerste groep studente – 22 van hulle – die graad BCom (Internasionale Besigheid) van die Universiteit Stellenbosch ontvang. Vertel ons asb. meer oor hierdie graad en wat dit behels?

Die graad BCom (Internasionale Besigheid) is 'n vier jaar lange program wat ons studente van 'n soortgelyke grondslag as 'n BCom-graad in Bestuurswetenskappe voorsien. In die eerste drie jaar voltooi studente vakke van die departemente ekonomie en ondernemingsbestuur. In hul finalejaar moet hulle minstens een uit drie ondernemingsbestuursvakke (bemarkingsbestuur, finansiële bestuur, of entrepreneurskap- en innovasiebestuur) as hoofvak neem, terwyl beleggingsbestuur en ekonomie as keusevakke beskikbaar is. Inleiding tot interkulturele kommunikasie, 'n module wat spesifiek vir die graad ontwikkel is, en ander verpligte modules soos strategiese bestuur en die bestuur van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid is ook deel van die program.

Bo en behalwe vakke wat deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied word, is daar ook verskeie vakke van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe wat deel uitmaak van die programstruktuur. Studente moet 'n eerstejaarsmodule in 'n taal (Frans, Duits of Chinees) slaag, asook politieke wetenskapmodules in hul tweede en derde jaar. Ander keusevakke sluit filosofie, sosiologie en sosiale antropologie in. Die graad sluit verder 'n spesiaal ontwerpte vak (regsaspekte van internasionale transaksies) in wat deur die Regsfakulteit aangebied word.

Die mees opwindende kenmerk van die graad is egter die feit dat dit 'n internasionale uitruilsemester insluit. In die tweede semester van hul derde jaar, skryf studente by een van ons vennoot-universiteite oorsee in. Gedurende dié tydperk moet hulle modules by die vennoot-universiteite slaag ten einde die vereiste akademiese krediete te verwerf. Terwyl twee-derdes van die vereiste akademiese krediete van vakke in die ekonomiese en bestuurswetenskappeveld moet kom, kan studente kies hoe hulle die oorblywende krediete verdien. Vorige studente het byvoorbeeld modules in grafiese ontwerp, 'n addisionele taal, plaaslike kultuur en geskiedenis, modebestuur, gender en kommunikasie gekies.

  • Om die volledige onderhoud op Litnet te lees, kliek hier.
  • Foto (verskaf): Hier is van die topstudente uit die heel eerste klas in BCom (Internasionale Besigheid) wat hul grade ontvang het.