Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe hoof van anestesiologie loop oor van idees vir departement
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Tyrone August
Gepubliseer: 11/08/2020

​Professor Sean Chetty is in April vanjaar aangestel as die uitvoerende hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg, net toe Covid-19 begin posvat het in Suid-Afrika.

As gevolg daarvan, het hy homself in ʼn situasie bevind waar hy verskeie take op eenslag moet aanpak. "Ek besef dat die nuwe pos behels dat ek verskeie balle in die lug sal moet hou," neem Chetty te kenne. "Een hiervan behels die bestuur van die departement tydens hierdie krisis. Maar terselfdertyd moet ek ook beplanning doen vir na die krisis.

"Dit sal ʼn ramp wees as toekomsplanne nagelaat word tot na die krisis verby is, aangesien mens jou in ʼn situasie sal bevind waar jy aan die einde van die pandemie kom, en jouself in ʼn vakuum bevind weens ʼn tekort aan beplanning."

Chetty se strategiese plan vir die departement is gegrond op die ses pilare wat hy uitgelig het tydens sy onderhoud vir die posisie: leer en onderrig, navorsing, sosiale impak, transformasie, die ontwikkeling van mense, en eksterne verhoudinge. "Alles anders wat ek ontwikkel het, is gegrond op daardie ses pilare," voeg hy by.

Binne hierdie raamwerk, is ʼn belangrike doelwit om die departement so te posisioneer dat dit uitdagings in die veld die hoof kan bied. "Op die oomblik is Anestesiologie en Kritieke Sorg ʼn enkele departement by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe," verduidelik Chetty.

"Anestesiologie het baie gegroei sedert dit aanvanklik ontwikkel het, en verseker sedert die struktuur van ons fakulteit daargestel is. In die verlede het dit slegs werk binne die operasiesaal behels soos die anestesie van pasiënte. Wêreldwyd het die veld baie gegroei en meer veelsydig geword.

"Anestesiologie sluit nou nie net kritieke sorg in nie, maar ook peri-operatiewe geneeskunde (wat baie nuut en opwindend is, en een van die areas is wat ek binne die fakulteit en departement wil ontwikkel), pyngeneeskunde, en dit wat bekendstaan as anestesiologie dienste. Ek wil graag hierdie vier onderskeie belangstellingsvelde binne anestesiologie verder ontwikkel by die Universiteit Stellenbosch."

Daar is reeds vordering gemaak op hierdie gebied. Voordat hy sy huidige posisie opgeneem het, was Chetty die tussentydse hoof van 3CU, wat drie kritieke sorg strukture by die Tygerberg-hospitaal inkorporeer. "Dit is hopelik die voorloper van ʼn afdeling van kritieke sorg geneeskunde by die fakulteit," sê Chetty.

Chetty het ʼn spesifieke belangstelling in pyngeneeskunde. Hy gee te kenne dat die ontwikkeling van hierdie veld in werklikheid die rede was hoekom hy vier jaar gelede die Universiteit van die Witwatersrand verruil het vir die Universiteit Stellenbosch: "Internasionaal is dit redelike gevorderd, maar in Suid-Afrika is pyngeneeskunde ʼn nuwe en opwindende veld."

"Dit is een van slegs ʼn paar velde wat duidelik onder anestesiologie val: die bestuur van pyn is ʼn groot deel van wat narkotiseurs doen. Die deel wat onderontwikkel is in Suid-Afrika is kroniese pyn." Chetty skat dat daar ongeveer 10 klinici in die land is wat beduidende ervaring met die bestuur van kroniese pyn of die uitvoer van intervensie pynbestuurprosedures het.

Steeds het kroniese pyn ʼn verwoestende impak op pasiënte en die gesondheidsorgstelsel, en, oor die algemeen, ook op die ekonomie: "Ons het reeds ʼn kroniese pyn-diens by die Tygerberg-hospitaal. Ek beoog om dit uit te brei om meer opleiding in staat te stel en om navorsingsprogramme daar rondom te ontwikkel."

Nog ʼn navorsing- en opleidingsveld wat hy beoog om te ontwikkel is kardiale anestesiologie: "Een van die sterk areas in ons departement is ervaring in hierdie veld. Ek sal graag hierdie ervaring wil inspan om ʼn robuuste navorsingsprogram te ontwikkel wat pasiënte sorg in hierdie veld sal verbeter.

"My persoonlike belangstelling binne die anestesiologie portefeulje is verloskundige anestesiologie. My PhD [by die Universiteit van die Witwatersrand in 2016] was in die veld van verloskundige anestesiologie en pynbestuur vir hierdie pasiënte. Daar is ʼn groot area vir ontwikkeling daar."

Boonop glo Chetty dat die internasionale netwerk wat hy opgebou het sedert hy in 2003 die veld betree het, van onskatbare waarde is in hierdie proses. (Net voordat hy sy huidige posisie opgeneem het, was hy ʼn navorsingsgenoot by Harvard Mediese Skool en die Massachusetts Algemene Hospitaal in Amerika.)

Hy is ook opgewonde oor peri-operatiewe geneeskunde: “Hierdie is ʼn ontluikende veld wêreldwyd. Dit gaan ʼn rewolusie meebring in die praktyk van anestesiologie, en dit is verseker ʼn veld waarin ons ʼn sterk navorsing- en opleidingsplatform moet ontwikkel binne die volgende vyf jaar."

Maar, soos uiteengesit in sy ses pilare, strek Chetty se planne wyer as die kampus. "As ʼn universiteit moet ons nie net die mense oplei wat hier is nie, maar ook bydra tot die opleiding van die groter gemeenskap," sê hy. "En vir ons is dit die oostelike metro van Kaapstad en ʼn groot gedeelte van die oostelike deel van die Wes-Kaap Provinsie."

Die departement het reeds met anestesiologie opleiding begin by kleiner plaaslike hospitale: "Dit is deel van die sosiale impak wat ek vir die departement wil sien; dat ons nie net mense binne ons geledere oplei en ontwikkel nie, maar dat ons ook omsien na die groter gemeenskap daar buite."

ʼn Ander aspek wat Chetty as ʼn prioriteit geïdentifiseer het in sy strategiese beplanning is transformasie: "Tradisioneel is anestesiologie ʼn dissipline waarby daar nog baie min transformasie plaasgevind het. Die departement het baie vooruitgang gemaak in terme van beide geslag- en rasse-gelykheid.

"Maar ons is nog nie waar ons moet wees nie; ons verteenwoordig beslis nie die demografie van die land nie. Ons moet dit verbeter. Tesame met die Tygerberg-hospitaal se indiensnemingsgelykheidsdoelwitte dink ek maak ons goeie vordering. As ʼn departement moet ons verteenwoordigend wees van die bevolking wat ons bedien.

"Daarmee saam moet ons ook akademiese groei bewerkstellig binne voorheenbenadeelde groepe. Ons moet na ons mense kyk, in terme van beide werksbevrediging en akademiese ontwikkeling."

Chetty is sigbaar toegewyd tot sy gekose spesialiteitsveld – hy beskryf anestesiologie as ʼn pragtige samesmelting van wetenskap en kuns – en hy loop oor van idees oor hoe om die veld uit te brei en die impak daarvan vergroot. “Ons het massiewe potensiaal," sê hy. 'Daar is soveel waarop ons kan verbeter; en soveel wat ons nog kan doen."



Foto-erkenning: Damien Schumann