Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste nagraadse DeepMind beurstoekennings in Afrika kom na die Universiteit Stellenbosch
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 11/08/2020

Kunsmatige intelligensie (KI) en masjienleer op die Afrikavasteland kry binnekort 'n aansienlike hupstoot danksy gesogte beurstoekennings wat vir nagraadse studie in die veld van toegepaste wiskunde, statistiek, elektriese en elektroniese ingenieurswese en rekenaarwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) toegeken word.

Die US is die eerste universiteit in Afrika wat hierdie beurse van DeepMind, 'n Londense wêreldleier in kunsmatige intelligensie-navorsing en die toepassing daarvan in die werklike wêreld, ontvang. DeepMind is in 2010 in Londen gestig en die DeepMind-studiebeurse vorm deel van 'n groter inisiatief deur die maatskappy om deelname aan wetenskap te verbreed en die breër navorsingsekosisteem te ondersteun, insluitend Afrika.

Vyf beurse gaan aan US-studente wat 'n tweejaarlange MSc in Toegepaste Wiskunde of Rekenaarwetenskap, of 'n MIng in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, wil volg. Drie verdere beurse word aan US-studente toegeken wat aanvaar is om vir 'n PhD in Toegepaste Wiskunde, Rekenaarwetenskap, Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, Wiskundige Statistiek of Statistiek in te skryf.

Hierdie beurse is beskikbaar aan studente oor die hele sub-Sahara-Afrika heen, wat navorsing oor masjienleer beplan en as ontvangers deur die Universiteit gekies is om hul kursusse in 2021 te begin. Die DeepMind‑beursstudieprogram gee talentvolle studente uit groepe tans onderverteenwoordig in masjienleer, ingesluit vroue, die ondersteuning wat hulle nodig het om aan vooraanstaande universiteite te studeer. Studiegelde word ten volle betaal en DeepMind‑mentors voorsien ontvangers van leiding en ondersteuning.

“DeepMind was een van die belangrikste borge van die Deep Learning Indaba wat die Universiteit Stellenbosch in 2018 aangebied het en ons bou sedertdien 'n verhouding met DeepMind," sê Willie Brink, medeprofessor in Toegepaste Wiskunde en koördineerder van die DeepMind-beurstoekennings aan die US.

“Hierdie studiebeurse is 'n bewys van DeepMind sowel as die Universiteit se verbintenis tot die uitbreiding van masjienleer en KI-kundigheid in Afrika en toenemende diversiteit op hierdie gebiede. Ek het geweldige talent en passie vir masjienleer en KI-navorsing gesien by studente oor ons hele kontinent heen en ons sien uit daarna om die ontvangers van DeepMind‑beurstoekenning in nagraadse studie aan die Universiteit Stellenbosch te verwelkom."

Volgens prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, dra die DeepMind‑beursprogram daartoe by om die Universiteit se reputasie as 'n wêreldklasinstelling te verstewig.

“Dit is 'n bevestiging van die gehalte van die US se aanbieding oor masjienleer en kunsmatige intelligensie. Ek twyfel nie daaraan dat hierdie beurstoekennings ons gaan help om gesogte gegradueerdes te lewer wat toegerus is om ons land, ons kontinent en die res van die wêreld te help om toekomstige uitdagings te hanteer nie."

“Ek is absoluut verheug om die eerste beurstoekenningsprogram van DeepMind op die vasteland van Afrika aan te kondig. Ondanks die rykdom aan talentvolle studente in Afrika, volg relatief min van hulle gevorderde studie- of navorsingsgerigte loopbane in KI en masjienleer. Om te verseker dat KI 'n tegnologie is wat vir die hele wêreld voordeel inhou, is dit noodsaaklik om Afrika se deelname te verhoog," sê Obum Ekeke, hoof van universiteitsbetrekkinge en onderwys by DeepMind.

“Benewens finansiële ondersteuning kry beursontvangers die geleentheid om wêreldkonferensies en bedryfsgeleenthede by te woon en direk by mentors binne DeepMind te leer. Sodoende wil ons die uitstekende pogings van die Deep Learning Indaba en ander aanvul om blywende netwerke te skep en die ontwikkeling van masjienleer en kunsmatige intelligensie oor die hele Afrika te ondersteun. Ons sien uit daarna om binnekort die eerste groep DeepMind‑studente aan die Universiteit Stellenbosch te verwelkom."