Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eenheid vir Gelykwaardigheid se video’s oor sosiale ongeregtigede moedig deelname aan
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 05/08/2020

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid (EqU) aan die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n visuele kunste-projek op sosiale media bekend gestel om onregverdige diskriminasie en teistering, HIV-Vigs en ander sosiale ongeregtighede aan te spreek. Hierdie interaktiewe en inklusiewe projek het gister (4 Augustus) afgeskop met die plasing van ses video's – almal tussen 2–4 minute lank – wat sensitiewe en aktuele kwessies aanspreek wat tans hoog op die nasionale agenda is.

Die onderwerpe wat bespreek word, sluit in definiëring van ras, hoekom dit belangrik is om jou voornaamwoorde te kies, om met jou seksuele maat oor voorbehoedmiddels te praat, manlike verkragting en seksuele geweld, manlikheid en seksuele uitfluitery.

Mnr Jaco Greeff Brink, hoof: EqU, sê hulle wil studente, personeel, die jeug en die gemeenskap aanmoedig om gedagtes en idees uit te ruil en hul menings te gee oor die onderwerpe wat in die reeks video's bespreek word. 'n Video sal vir vyf weke lank elke Dinsdag op die eenheid se Instagram-bladsy geplaas word. Dit sal Woensdae om 19:00 gevolg word deur 'n regstreekse Instagram-bespreking waaraan verskeie projekvennote en medewerkers soos die Womxn and Queer Empowerment (WAQE) van die US se Studenteraad (SR), QueerUS, Spectrum, Rape Crisis, Gender Justice, die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, die Ahmed Kathrada-stigting, aktivis Guiseppi Guerandi en Alexis Petersen, 'n Suid-Afrikaanse akteur en sanger, sal deelneem.

Petersen vertolk verskillende rolle in die video's. Instagram-volgers kan ook kommentaar lewer en vrae oor die video's vra. Hierdie opmerkings en vrae sal deel van die regstreekse besprekings uitmaak.

“Universiteite en die samelewing oor die algemeen het met ongelooflik ingewikkelde en uitdagende kwessies rondom onder meer geslagsgebaseerde geweld, seksuele gesondheid, begrip van seksualiteite, rassisme, toksiese manlikheid, patriargie en talle ander te doen. Ons hoop om deur die bekendstelling van hierdie projek en deur hierdie uitdagings te beklemtoon, robuuste gesprekke aan die gang te sit en om hierdie belangrike kwessies waarmee ons daagliks te doen kry, oop te breek," sê Brink.

Die eenheid moedig studente en personeel aan om @EqualityUnitSU op Instagram te volg en by die gesprek aan te sluit.  

  • Die EqU bied 'n verskeidenheid ondersteuningsdienste aan personeel en studente van die US soos die fasilitering van die indiening van formele en informele klagtes oor onregverdige diskriminasie, teistering, viktimisasie en mishandeling, asook hulp met HIV-voorkoming, -toetsing en -berading en deur lesbiese, gay-, biseksuele, transgender-, queer-, interseksuele, aseksuele en panseksuele (LGBTQIA+) ondersteuningsdienste te lewer. 

Om 'n klagte oor onregverdige diskriminasie, teistering of seksuele geweld aan te meld en in te dien, stuur 'n e-pos aan unfair@sun.ac.za. Vir HIV-Vigs en seksualiteit-verwante ondersteuning, stuur 'n e-pos aan hiv@sun.ac.za.