Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skenking verseker voortsetting van US-sertifikaatprogram
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 10/07/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Sertifikaatprogram (SP) in Musiekgeletterdheid het geld ontvang om ten spyte van die nasionale staat van inperking die voltooiing van die akademiese jaar te verseker.

Volgens Pamela Kierman, 'n senior dosent by die US se musiekdepartement, sal die skenking sukses vir hul studente verseker. “Die geld sal gebruik word om skootrekenaars aan te koop, aangesien die meeste van ons studente nie hul eie kan bekostig nie. Ons het ook as musiekdepartement data vir studente gekoop ter voorbereiding vir virtuele leer."

Kierman sê die goedkeuring van hul aansoek vir fondse is 'n droom wat bewaarheid is, aangesien dit beteken dat die program sonder onderbrekings kan voortgaan. “By die SP glo ons in 'toegang vir almal' omdat 'n groot aantal van ons studente volwassenes is wat reeds moed opgegee het in die lewe. Hierdie geld sal ons help om hulle te help om hul drome te verwesenlik om musiek te studeer."

Programkoördineerder en senior musiekdosent Felicia Lesch voeg by dat hulle besig is met die aankoop van die skootrekenaars en tablette. Dit sal die eiendom van die SP bly, maar sal tot die studente se beskikking wees om te gebruik. “Dit geld vir studente op al ons kampusse – die Stellenbosch-kampus, die militêre studente en dié wat deel is van die Musiquelaine-projek by die Hoërskool Steenberg in Kaapstad. Sonder toegang tot skootrekenaars is onderrig nie toeganklik vir almal nie," sê Lesch.

“Die SP is 'n geleentheid vir studente om hul praktiese en teoretiese vaardighede op te skerp sodat hulle met tersiêre musiekstudies kan voortgaan. Ons wil hê hulle moet dieselfde toegang tot hul studies hê as die res van die studente op kampus.

“Hoewel sommige van ons studente internettoegang het, is daar baie wat nie het nie. Te einde hulle in staat te stel om met hul lesings voort te gaan, het ons befondsing vir skootrekenaars aangevra en ons was gelukkig genoeg om onder die groep te wees wat die befondsing van R129 800 van die Universiteit ontvang het," sê Lesch.

Die Sertifikaatprogram, wat in 1999 van stapel gestuur is, bied gratis musiekopleiding aan aspirant gemeenskapsmusikante. Volgens Lesch is die program een van die US se musiekdepartement se grootste werwingsbronne.

Sy sê die een-jaar deeltydse program is 'n wonderlike geleentheid vir gemeenskapsmusikante om hul musiekgeletterdheidsvaardighede te verbeter. Lesch sê 20–30 studente word elke jaar die program gekies.

“Baie van ons studente is baie suksesvol in hul onderskeie musiekloopbane. Ons het ook saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gewerk om militêre blaasorkeslede op te lei."

Verskeie gemeenskapsmusiekorganisasies het ook hul oorsprong in die Sertifikaatprogram gehad. Van hierdie projekte sluit in die Liron Kunsteskool, die Athlone Musiekakademie (AAM), die Overberg Koperblaasontwikkelingsprojek (OKOSI), Weskus Musiekakademie (WCMA), die Musiquelaine SA-inisiatief: Hoërskool Steenberg blaasorkes-projek; die Ronnie Samaai-musiekopvoedingsprojek (RSMEP), die Mitchells Plain Akademie vir Musiek en Kuns (MPAMA) en nog baie ander wat ten doel het om gemeenskappe deur musiek te verander.

Vir meer inligting oor die Sertifikaatprogram, klik hier