Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kaapse gesondheidswerkers red lewens gedurende COVID-19-pandemie
Outeur: Bob Mash, Zameer Brey, Charlyn Goliath & Darrin Roman
Gepubliseer: 07/07/2020

Gemeenskapsgesondheidswerkers in Kaapstad help red lewens gedurende die COVID-19-pandemie deur medikasie by die huise van mense wat in hoë-risiko groepe val af te lewer, skryf prof Bob Mash (Huisartskunde en Primêre Sorg) en sy mede-outeurs in n artikel vir Health24 (6 Julie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Bob Mash, Zameer Brey, Charlyn Goliath en Darrin Roman*

Openbare primêre gesondheidsfasiliteite in Kaapstad sien na 'n groot aantal mense met chroniese toestande soos HIV/Vigs, tuberkulose, diabetes, hoë bloeddruk, asma en chroniese brongitis en emfiseem om. Baie van hierdie pasiënte is ouer as 55 wat hulle risiko verhoog om ernstig siek te word van COVID-19.

Dit is dus prysenswaardig dat gemeenskapsgesondheidswerkers (GGWs) in samewerking met die Metro se Distriksgesondheidsdienste in die Wes-Kaap en niewinsgewende organisasie in Mei 2020 altesame 184 000 medisynepakkies by mense se huise in Kaapstad afgelewer het – iets wat nog nooit vantevore gedoen is nie. Plaaslike gemeenskapsgesondheidswerkers het die medikasie van mense met bogenoemde chroniese toestande met die hand by hul huise afgelewer. Gegewe dat ons nog 'n verdere styging in infeksies in die Wes-Kaap kan sien, is hierdie lewensbelangrike dade van GGWs baie belangrik.

Gedurende die COVID-19-epidemie het die tuisaflewering van medikasie beteken dat mense wat 'n groter risiko loop om ernstig siek te word van COVID-19, nie hulleself aan infeksie op openbare vervoer of by gesondheidsfasiliteite blootgestel het om hul medikasie te gaan haal nie. Dit het beslis lewens gered en fasiliteite in staat gestel om die aantal besoekers te verminder en sosiale afstandskepping te handhaaf. Deur die medikasie tuis af te lewer, was fasiliteite ook beter in staat om op die toename in COVID-19-pasiënte voor te berei.

Voor die uitbreking van COVID-19, het die Metro se gesondheidsdienste in spanne gemeenskapsgesondheidswerkers regoor die stad belê as deel van 'n verskuiwing na meer gemeenskapsgeoriënteerde primêre sorg. Spanne word deur plaaslike niewinsgewende organisasies in diens geneem, ingeskakel by primêre sorgfasiliteite en is dan verantwoordelik vir bepaalde groepe huishoudings. Onder normale omstandighede sal gemeenskapsgesondheidswerkers hul huishoudings besoek en mense met gesondheidsrisiko's identifiseer wat hulp nodig het. Dit sluit byvoorbeeld in mense met TB-simptome, mense wat vir chroniese siektes behandel word, swanger vroue of wat gesinsbehandeling of inentings benodig.

​Met hierdie stelsel reeds in plek, het dit net 'n vinnige herorganisasie van GGW's geverg om medikasie af te lewer en ook met gemeenskapsifting en toetsing vir COVID-19 te help. Die meeste van die komponente wat nodig was om medikasie tuis af te lewer, was reeds in plek en moes net gekoördineer word. Die Metro Gesondheidsdienste het reeds 'n stelsel vir die vooraf verpakking van medikasie en aflewering by gesondheidsfasiliteite vir diegene met chroniese siektes gehad. Die enigste stuk in die legkaart wat nog gekort het, was hoe om die medisynepakkies van die fasiliteit se apteek na die niewinsgewende organisasie te neem. 'n Verskeidenheid innoverende oplossings soos Uber-bestuurders, plaaslike entrepreneurs se fietse en bromponies, asook bestuurders wat by die Wes-Kaapse departement van gesondheid of niewinsgewende organisasies in diens is, is gebruik.

Een van die groot uitdagings met die stelsel was dat mense nie hul korrekte adresse of telefoonnommers by die gesondheidsdepartement geregistreer het nie. Dit was baie moeilik om mense te bereik om hul adresse te bevestig. Van die 184 000 pakkies wat afgelewer is, is 16 600 teruggestuur. Ten einde hierdie probleem op te los, het die departement 'n geoutomatiseerde WhatsApp-boodskapstelsel geskep waarheen mense hul korrekte inligting kon stuur. Indien jy toegang tot hierdie stelsel wil hê, moet jy die boodskap “Hi" na 0872406325 stuur. Jy benodig die inligting op jou afspraakkaart, jou adres en jou telefoonnommer.

Ander voordele van die tuisafleweringstelsel sluit in die vermoë om huishoudings vir simptome van COVID-19 te ondersoek (onlangse seer keel, hoes, koors of asemtekort) wanneer hulle die aflewerings doen. Per definisie is daar in hierdie huishoudings mense wat 'n groter risiko loop om ernstig siek te word van die siekte. Onder diegene wat ligte COVID-19-simptome toon, sif die departement van gesondheid tans slegs diegene wat ouer as 55 is of medemorbiditeite soos hierdie chroniese siektes het. Dieselfde stelsel kan ook gebruik word om nie-farmaseutiese artikels of voedingsaanvullings af te lewer.

Ons hoop dat hierdie diens samewerking tussen fasiliteitsgebaseerde en gemeenskapsdienste sal verbeter. Die aansien en aanvaarding van GGW's binne die gemeenskap behoort ook te verbeter deur hierdie waardevolle taak te verrig.

Pasiënte se reaksie was sover baie positief en hierdie innovasie is moontlik iets wat hier is om te bly – selfs ná die epidemie.

*Prof Bob Mash staan aan die hoof van die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg aan die Universiteit Stellenbosch. Dr Zameer Brey is 'n werknemer van die Bill en Melinda Gates-stigting en Charlyn Goliath en Darrin Roman werk by die Wes-Kaapse Metro Gesondheidsdienste. Hierdie is 'n verkorte weergawe van 'n artikel wat onlangs in die African Journal of Primary Health Care & Family Medicine verskyn het.