Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leer en Onderrigverryking Seminaar: 06 Augustus 2020
Outeur: Anthea Jacobs
Gepubliseer: 06/07/2020

Leer en Onderrigverryking Seminaar: 06 Augustus 2020

 

U word uitgenooi na die volgende kwartaallikse Leer en Onderrig Seminaar onder die vaandel van die Vise-Rektor (L&O), Prof Arnold Schoonwinkel, en die Afdeling: Leer- en Onderrigverryking.

Onderwerp
Kan uitnemendheid vernuwe word? 'n Herdink van toekennings vir uitnemende onderrig as ʼn openbare bate

Aanbieder
Dr Karin Cattell-Holden

Biografie
Karin Cattell-Holden is 'n senior adviseur by die Sentrum vir Onderrig en Leer en bestuur die institusionele Toekennings vir Uitnemende Onderrig. Sy het Afrikaanse letterkunde en Literatuurwetenskap by die Universiteit van die Witwatersrand, Universiteit Vista en die Universiteit van Johannesburg doseer. Sy het 'n PhD in Afrikaanse letterkunde en filosofie aan die Universiteit van die Witwatersrand in 2008 verwerf. Haar navorsing is tans op kompleksiteitsteorie as ʼn lens op hoër onderwys, en die erkenning van uitnemende onderrig in die besonder, gerig.

Reklameteks
Die omvattende literatuur oor uitnemendheid in die hoër onderwys beskryf dit as ʼn veelfasettige konsep met botsende en verskuiwende betekenisse. Ten spyte van die oorspronklike konsepsualisering van die hoër onderwys as ʼn bate vir die samelewing, word uitnemendheid en uitnemende onderrig in die huidige neoliberale benadering tot die hoër onderwys as individualisties, prestasie-gerig en mededingend geïnterpreteer. Toekennings vir uitnemende onderrig beklemtoon hierdie interpretasies en skuif die waardes van sosiale geregtigheid – gelykheid, billikheid, sosiale verantwoordelikheid, en so meer – na ʼn posisie van sekondêre belang. Toekennings vir uitnemende onderrig dra dus by tot die neoliberale voorkeur wat individuele (private) voordeel by hoëronderwysinstellings bo sosiale (openbare) voordeel geniet.

In hierdie seminaar gaan Dr Cattell-Holden die individualistiese fokus van die toekennings vir uitnemende onderrig by die Universiteit Stellenbosch (US) bespreek en ʼn herkontekstualisering van die toekennings in die lig van die oproep om sosiale geregtigheid in Suid-Afrika voorstel. Sy sal argumenteer dat die konsepsualisering van uitnemende onderrig in die post-koloniale Suid-Afrika aan uitnemende leer verbind behoort te word en die ideologiese en ongelyke kontekste waarin onderrig en leer plaasvind, behoort te beklemtoon. Uitnemende onderrig / leer behoort tweevoudige samewerking in te sluit tussen 1) akademici en studente, om die verhouding tussen onderrig, leer en die samelewing te bevorder, en 2) die universiteitsbestuur, akademici en die samelewing met betrekking tot die sosiale verantwoordelikheid om graduandi te lewer wat doeltreffend in ʼn demokratiese samelewing kan funksioneer. Die verskuiwing van die individualistiese fokus van uitnemende onderrig na samewerking sou nie alleen die waarde van die toekennings vir uitnemende onderrig verhoog nie, maar ook tot die herwinning van onderrig as ʼn sosiale bate by die US bydra.

Tyd: 13:00-14:00, 06 Augustus 2020 op MS Teams
Navrae: Anthea H M Jacobs (jacobsa@sun.ac.za)
RSVP teen 04 Augustus 2020
Kliek hier om te registreer:
https://forms.office.com/Pages/ResponsePage.aspx?id=Azv6pjwKWEKEM6Eg3_zTSBSekPOUyjxMk3TVVydyj1NUQ0M3TlUwSzlLRkJVSUtXUjZJSkMyU0ZBVi4u