Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Regulering van aanlyn-kontrakte nodig om verbruikers te beskerm
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/07/2020

Omtrent elke keer wat jy 'n webwerf besoek, op die “aanvaar"-knoppie klik of sagteware aflaai, sluit jy 'n aanlyn-kontrak – 'n nie-onderhandelbare kontrak soos die terme en voorwaardes wat die gebruik van webwerwe of die privaatheidsbeleide van aanlyn-verskaffers reguleer. Jy word selde verplig om dit te onderteken en die inhoud daarvan word nie behoorlik gereguleer nie, wat beteken dat jy moontlik tot ongunstige terme instem sonder om dit te besef.

“Die enigste opsie vir verbruikers, is om nie die diens te gebruik nie, of in sommige gevalle kan sekere blaaierstellings gebruik word om hul privaatheid te beskerm. Dit is ongelukkig waar dat verbruikers baie min kan doen om hulleself aanlyn te beskerm, daarom moet moontlik onbillike bepalings in aanlynkontrakte gereguleer word," sê dr Sanmarie van Deventer van die departement Privaatreg aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het onlangs haar doktorsgraad in Privaatreg aan die US verwerf.

Van Deventer sê gebeure soos die Facebook-Cambridge Analytica-dataskandaal wys die behoefte om die inhoud van aanlynkontrakte te reguleer en sodoende voldoende beskerming vir verbruikers te verseker. Sy wys daarop dat “aanlynkontrak" nie bedoel is om ander aanlyn-transaksies soos byvoorbeeld 'n kontrak wat per e-pos onderhandel en gesluit is, in te sluit nie.

As deel van haar studie het Van Deventer bepaal hoe aanlynkontraktering by die bestaande regsbeginsels in die Suid-Afrikaanse wet inpas. Sy het ook hierdie uitkoms ontleed en geëvalueer deur dit met wetgewing in Amerika en die Europese Unie te vergelyk, waar verskillende voorskrifte en regulasies rakende aanlynkontrakte aanvaar is. Van Deventer sê baie min is in die Suid-Afrikaanse wet oor hierdie onderwerp geskryf en die howe het nog nie die geleentheid gehad om die saak te oorweeg nie.

“Hoewel die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies, 2002 (Wet 25 van 2002) dit duidelik maak dat kontrakte geldig aanlyn gesluit kan word, bly ander vrae soos die afdwingbaarheid van blaai-omhulsel (dit is kontrakte wat gesluit is deur gedrag soos voortgesette deurblaai, en dus ontbreek 'n ondubbelsinnige handeling van aanvaarding) onbeantwoord.

“Sommige van die kwessies wat uit hierdie kontrakte voortspruit, soos klousules wat privaatheid skend of toegang tot howe belemmer, is nog nie deur die Suid-Afrikaanse wetgewer in die konteks van aanlynkontrakte oorweeg nie. Hoewel die Wet op Verbruikersbeskerming, 2008 (Wet 68 van 2008) en die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting, 2012 (Wet 4 van 2013) baie van die kwessies reguleer, is daar tekortkominge in sekere kwessies omdat dit nie spesifiek op die aanlyn-omgewing gerig is nie."

Ondoeltreffende maatreëls

Van Deventer sê haar studie het bevind dat maatreëls wat daarop gemik is om verbruikersbewustheid oor aanlynvoorwaardes (verhoogde openbaarmaking) te verhoog, oor die algemeen ondoeltreffend is om verbruikers te beskerm. Hierdie ondoeltreffende maatreëls kan nadelige gevolge hê omdat dit die toepassing van ongunstige voorwaardes wettig.

“Verbruikers kies rasioneel om nie die voorwaardes van aanlynkontrakte te lees nie, omdat die koste in die vorm van tyd wat spandeer word, swaarder weeg as die voordeel, veral omdat verbruikers feitlik geen bedingingsmag ten opsigte van aanlynkontrakte het nie.

“Hulle is dikwels onbewus daarvan dat hulle 'n kontrak aangaan – hulle weet nie dat deurblaai tot die sluit van 'n kontrak lei nie, of hulle klik op die aanvaardingknoppie van die voorwaardes sonder om die regsgevolge daarvan te besef. Dus besef verbruikers nie waartoe hulle instem nie, en hulle kan in elk geval nie die voorwaardes verander nie."

Volgens Van Deventer is die een moontlike uitsondering op die algemene ondoeltreffendheid van toestemmingsverwante maatreëls die idee van vrywillige toestemming wat in die Europese Algemene Verordening op die Beskerming van Data (GDPR) ingestel is.

Sy sê die feit dat die GDPR toestemming vereis wat vryelik gegee word en afsonderlik is wanneer 'n verbruiker tot die gebruik van sy/haar persoonlike inligting instem, verhoed dat 'n verskaffer die gebruik van 'n webwerf of produk van sodanige toestemming afhanklik maak, tensy die inligting noodsaaklik is vir die verskaffing van die diens.

“Dit beteken dat instemming tot nie-noodsaaklike gebruik van sy of haar persoonlike inligting opsioneel word vir die verbruiker, eerder as wat dit 'n voorvereiste is vir toegang tot die internetdiens. Hierdie vorm van toestemming kan doeltreffende beskerming aan verbruikers bied, hoewel dit slegs vir spesifieke klousules aanbeveel word."

Onbillike voorwaardes

Van Deventer meen dat die inhoud van aanlynkontrakte oor die algemeen gereguleer moet word. In hierdie verband identifiseer sy spesifieke klousules wat beïnvloed word deur unieke aanlyn-risiko's.

Hierdie moontlike onbillike voorwaardes sluit klousules in wat verband hou met die bewilliging van aanvullende regte (soos die gebruik van persoonlike inligting en verbruiker-gegenereerde inhoud), eensydige wysigingsklousules ('n verskaffer kan die bepalings van 'n kontrak verander sonder dat die verbruiker tot die variasie instem), eensydige beëindigingsklousules, keuse van jurisdiksie-klousules (klousules wat die hof verwys wat gekies word om uitsluitsel te gee oor enige dispuut wat uit die kontrak ontstaan) en klousules wat met wetskeuses verband hou (klousules wat bepaal watter wette gebruik sal word om 'n dispuut wat weens die kontrak onstaan, te beslis).

Sy sê verbruikers is huiwerig om regstappe te doen en hul regte af te dwing wanneer daar 'n dispuut ontstaan, omdat dit 'n duur en omslagtige proses is.

“Ideaal gesproke moet regulerende liggame en verbruikersorganisasies 'n meer aktiewe rol in die handhawing van wetlike voorwaardes speel, en daar moet meganismes gevind word om verskaffers daarvan te weerhou om onbillike voorwaardes in aanlynkontrakte in te sluit."

Van Deventer sê haar bevindings kan ook die howe help wanneer daar van hulle verwag word om oor hierdie kwessies te beslis. Die vergelykende evaluering kan help om moontlike oplossings vir moontlike probleme inherent aan aanlynkontrakte te identifiseer in ooreenstemming met internasionale beste praktyke. Dit kan beleidmakers help om maatreëls ter beskerming van Suid-Afrikaanse aanlynverbruikers te formuleer.

Sy voeg by dat die wetgewer en verbruikers die meeste by haar navorsing sal baat. “Dit is die wetgewer se verantwoordelikheid om wetgewing te bepaal wat kwesbare verbruikers sal beskerm."

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Sanmarie van Deventer

Departement Publiekreg

Fakulteit Regsgeleerdheid

Universiteit Stellenbosch

E-pos: sanmarie@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za